“The world is changed by your example, not by your opinion.”
― Paulo Coelho —Oor twee maande is dit Nuwe Jaar — waar is dié jaar heen?
Met ʼn nuwe maand kom ʼn nuwe tema, en ons gaan November gesels oor: Die Kompas na jou Ware Noord.
Ons kernwaardes is diepgewortelde oortuigings wat jou siel op ʼn outentieke manier reflekteer. Jou waardes sê wie jy IS, hoe jy omgaan met die wêreld om jou, en hoe jou waardes 'n bydrae maak tot ander se lewe om jou.
Ons praat maklik oor ons ‘beginsels’ (principles) en ‘oortuigings’ (beliefs), maar wat is die waardes wat jou lewe inhoud en betekenis gee?
“Your beliefs become your thoughts,Your thoughts become your words, Your words become your actions, Your actions become your habits, Your habits become your values, Your values become your destiny.” ― Gandhi ―
Ons waardes is nie intellektuele konsepte of serebrale konstruksies nie, maar ʼn weerkaatsing van wie jy is in jou essensie — ons dra dit, sê dit, leef dit, en maak besluite op grond van dit.
“Your values determine what you perceive, what you decide to do, and how you act in life.”
― Dr John Demartini
Dit lei jou in jou aksies en reaksies, doelwitte, drome, en ideale. Dit bepaal jou gedagtes en die kwaliteit van jou al jou verhoudings.
Ons waardes dien as ʼn morele kompas wat die rigting wys na ons Ware Noord.
Waarna verwys ons as ons praat van ons ‘Ware Noord’ —
Ons vra onsself gereeld die vraag: Wat moet ek doen? Hoe moet ek reageer? Wat is die regte besluit om te neem? Hoe moet ek dié situasie hanteer?
Die GROOT BESLUITE in ons lewe vra ʼn eerlike refleksie oor wat jou waardes is, en die goed wat regtig vir jou belangrik is, en om jou te omring met mense waar daar wedersydse emosionele, intellektuele, en spirituele waarde toegevoeg word tot mekaar se lewe.
Kom ons gesels Sondag oor ʼn handvol ‘waardes’ wat ek glo ons almal in gemeen het en wat die spirituele impak daarvan is op ons, en ander, se lewe:
1. Integriteit: om eerlik met jouself en ander om jou te wees in al jou aksies, om op gereken te kan word dat jy getrou sal bly ongeag die konsekwensies; om opreg en deursigtig te wees in alle interaksie en kommunikasie.
2. Toerekenbaarheid: om verantwoordelikheid te vat vir 'n mens se optrede en om aanspreeklik te wees vir die gevolge daarvan; om te erken as 'n mens foute maak en dit reg te stel deur konsekwent en 'n voorbeeld te wees.
3. Deernis: om medelye en erbarming te wys met vriendelikheid (kindness), en om aktief betrokke te wees om die lyding van ander te verlig en om 'n hand by te sit vir hulle in nood.
4. Moed: om te kan opstaan vir dit wat reg is, uitdagings in die oë te kan kyk, en nie terug te deins vir ons vrese nie, maar vra om meer dapper te wees en ons kan verseker doen met meer dapper manne en vroue.
5. Regverdigheid: om jou uit te spreek teen onbillikheid en liefdeloosheid, en om ons eie vooroordele en selfgeregtigheid te laat los sodat ons meer sensitief sal wees vir die menswaardigheid van ander.
Ons verhouding met dit wat ons verstaan en ervaar as God is ʼn baie persoonlike en intieme verhouding. Ons spiritualiteit is die konneksie met God wat doel en betekenis, innerlike vrede en gemoedsrus vir ons bring.
ʼn Mens se persoonlike waardes moet ooreenstem met ons Christelike waardes soos liefde, aanvaarding, respek, nederigheid, en dankbaarheid.
Ons skep betekenis in ons lewe en ons waardes is draers van daardie betekenis. Ons morele kompas is ons navigasie instrument om vir ons die rigting te wys na ons Ware Noord. ʼn Goed ontwikkelde waardesisteem is die naald van daai kompas.
Die vraag is: wat is jou spirituele kompas? — of in vandag se terme: wat is jou spirituele GPS?
Dit is regtig nie moeilik om die groot besluite in jou lewe te neem as jy weet wat jou waardes is nie. Miskien is dit een van die grootste foute wat ons maak in ons korporatiewe wêreld, dat ons dink ons persoonlike waardes is irrelevant en onvanpas in ons werksomgewing. Moenie fokus op wat jy meer of minder wil doen nie, maar om te doen wat jy na waarde ag.
Kom ons gesels Sondag hieroor.
Hoop om jou daar te sien.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.