Kreatiewe Wesens - 3 Mei 2023

“All children are artists. The problem is how to remain an artist once we grow up.”― Pablo Picasso —

In Frans is daar ʼn uitdrukking, ‘tête-à-tête’ (letterlik: ‘kop aan kop’) wat verwys na ʼn intieme gesprek tussen twee mense.

Na ʼn intense maand oor die inhoud en betekenis van Paasfees gaan ons in Mei na ʼn paar aspekte van ons spiritualiteit kyk wat relevant is in ons dag-tot-dag lewe.

  • Kreatiewe wesens (creativity)
  • Heling voor genesing (healing)
  • Bewustelik leef (awareness)
  • Waarheid sê (truth-telling)

Kom ons begin ons tête-à-tête met ʼn paar gedagtes oor KREATIWITEIT 

‘Die spiritualiteit van kreatiwiteit’ is 'n onderwerp wat filosowe, kunstenaars, en spirituele ghoeroes nog altyd fassineer. Kreatiwiteit is die aksie om iets nuuts tot stand te bring. Dit kan baie vorme aanneem, insluitend kuns, kos, musiek, skryfwerk, dans, en vele meer. Elke aspek van ons menswees is vrugbare grond met die potensiaal om kreatief te wees.

“Kreatiwiteit is net so belangrik soos geletterdheid” skryf Ken Robinson in sy formidabele boek The Element, en is ʼn essensiële deel van ons persoonlike groei en spirituele ontwikkeling.

Dit is nie beperk tot artistieke vermoë nie, maar sluit ook kritiese en innoverende denke in. Binne ʼn werksmilieu lei dit tot beter probleem-oplossing en konflikbestuur wat van leierskap ʼn palet maak waaruit die kleure van kreatiwiteit die verfdoek vind.

Kreatiwiteit help ons om ons diepste Self te verken, 'n gevoel van nuuskierigheid (curiosity) en entoesiasme te kweek, en ons algehele welstand te verbeter.

Wat is dit omtrent kreatiwiteit wat so 'n diep geestelike dimensie het?

Vir baie mense is kreatiwiteit 'n manier om aan hul innerlike uiting te gee. Wanneer ons iets skep, plaas ons 'n stukkie van onsself in die wêreld. Ons deel ons gedagtes, emosies en ervarings met ander. Hierdie uitdrukking van jou Self kan diep geestelik wees, aangesien dit ons in staat stel om oop te wees vir iets groter as onsself wat in en deur ons vloei.

Dink daaroor — elke spirituele waarde (byvoorbeeld: liefde en vreugde) is iets wat ons toelaat om deur ons te gebeur. Ons is die kwas of die viool en deur ons vind kreatiwiteit die skildery of simfonie.

Sommige geestelike tradisies sien kreatiwiteit as 'n manier om met die Goddelike te verbind. Dis soos ʼn lamp wat jy by die muur inprop en dan aansit sodat die lig die vertrek vul. As mede-skeppers word iets nuuts tot stand gebring wat die potensiaal het om ander op te hef, te inspireer en te transformeer.

Kreatiwiteit kan ook 'n vorm van meditasie wees. Wanneer ons besig is met die kreatiewe proses, is ons dikwels in 'n toestand van in- en uitvloei. Ons verloor tred met tyd en word ten volle teenwoordig in die oomblik. Op hierdie manier kan kreatiwiteit 'n vorm van geestelike oefening wees wat ons help om in die NOU te leef — nie langer ʼn slagoffer van ons gisters (skuldgevoelens) of gevangenes van ons môres (vrese) nie.

Baie geestelike tradisies sien ook kreatiwiteit as 'n manier van heling (healing). Die skeppingsproses gee uitdrukking aan emosies wat moeilik is om in woorde om te sit. Negatiewe emosies word omskep in iets positiefs en opbouend wat ons in staat stel om dit vry te laat en met 'n dieper gevoel van tevredenheid en gemoedsrus te leef.

Kreatiwiteit het die vermoë om mense met mekaar te verbind. Dink aan teater — vir ʼn oomblik val al die heinings plat en verdwyn die mure wat ons om ons bou. 'n Gevoel van eenheid word ervaar tussen mense van verskillende kulture, agtergronde en oortuigings. Wie onaangeraak uit ʼn teater stap, was gewoon nie oop gewees om op ʼn manier verander te word nie.

Baie mense sug dat hulle nie weet hoe om kreatief te wees nie asof dit ʼn talent is wat net sommige ontvang het. Dis gewoon nie waar nie!

As jy wil wag tot ʼn deur vir jou geopen word om kreatief te dink, doen, en voel gaan jy jou lewe lank sit en wag. Om die waarheid te sê, het ek nog altyd gevoel dat deure is vir mense sonder ʼn verbeelding.

Hier is ʼn paar goed wat ons Sondag oor kan gesels wat jou kreatiwiteit sal voed —

i. Vra die regte Vrae — dit was nog altyd meer belangrik as die ‘regte’ antwoorde. Skryf tien verskillende variasies van dieselfde vraag neer en kyk waartoe dit jou lei.

ii  Lees en Luister — lees wyd en iets anders as wat almal lees. Luister na podcasts oor onderwerpe en gaan na YouTube vir 'n biblioteek van inspirasie.

iii. Skryf neer — hou dagboek waar pen op papier jou gedagtes en emosies woorde gee. Dis terapeuties en help om perspektief te vind.

iv. Tyd vir Dink — moet nooit te besig wees om soms net vir 'n halfuur te sit en NIKS (no-thing) te doen behalwe om te dink nie. Jy sal nie glo wat gebeur as jy ophou keer en net IS nie.

v. Kom Buite — gaan stap in jou buurt of langs die see. Sien die tuine of die branders wat wys of 'n gety uit- of inkom. Staan vir 'n oomblik in verwondering oor 'n sonsondergang.

vi. Iets vir die Eerste Keer — wanneer laas het jy iets vir die eerste keer gedoen? Kom uit die geut waarin jy leef.

vii. Oop Arms en Hart — Brené Brown sê, “Vulnerability is the birthplace of innovation, creativity and change.”

Nou is die vraag: wat is jou muse; waar hengel jy inspirasie om jou kreatiwiteit te ontsluit; hoe kultiveer jy 'n proses van nuut en anders dink en doen in jou werk, gesin, en sosiale kring; en waarvoor is jy bang?

Dit lyk my genoeg vir vandag.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“There are painters who transform the sun to a yellow spot, but there are others who with the help of their art and their intelligence, transform a yellow spot into sun.”
― Pablo Picasso 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights