Wonderwerke — Water na wyn

“Miracles are not contrary to nature,
but only contrary to what we know about nature.”

― St. Augustine —

Die wonderlikste ding van wonderwerke is die feit dat dit gebeur… elke dag, in ʼn duisend oomblikke en maniere.

Ek word wakker en hoor die voëls sing; ek roer kondensmelk in my koffie; ek vat ʼn stort en die water is warm, en in my kas is daar ʼn keuse wat om aan te trek.

Buite skyn die son en die herfs waai wit seewolke van die hawe af; in ʼn winkel pak ek ʼn mandjie vol goed om later te kook vir aandete; ek knipoog vir ʼn seuntjie met blou oë op sy ma se heup; en stop by die blommeverkopers vir ʼn bossie kleur in my huis.

Dit is alles wonderwerke wat my hart vul met liefde en vreugde… en nes jy dink dit is al, dan is daar nog —

Teen sononder staan ek in verwondering op my stoep en kyk hoe die liggies van die stad aangaan. In die voorhuis speel jazz en ek onthou ʼn donker hout-kroeg in Parys met die reuk van Gauloises en Beaujolais Villages, en ek dink aan die wonderwerk om van hier na daar te reis in ʼn halwe dag.

Die wonderwerke wat gevind word in elke oomblik as ons die buitengewone in die gewonigheid van elke dag vind.

Miskien is dit die kind in my wat altyd nuuskierig bly en weetgierig soek na die wonders wat elke dag manifesteer in alles wat ek sien en proe, ruik en hoor, en wat ek voel tot in die wese van my menswees.

Vir my word wonderwerke nie gevind in die bonatuurlike nie, maar in die natuurlike wat op ʼn wonderbaarlike manier gebeur.

Wonderwerke is nie net wat MET jou gebeur nie, maar meer as dikwels ook in dit wat NIE gebeur nie. Om iets te wil hê en dit nie te kry nie is baiemaal ʼn seëning; om nie te weet waarheen dié pad jou vat nie, is ʼn wonderwerk na ʼn opwindende nuwe bestemming; en om oorweldig te word deur die gee en omgee van iemand van wie jy dit nie verwag nie bring ʼn geskenk wat toegedraai is met die strikkie van ʼn wonderwerk.

“Miracles happen every day, change your perception of what a miracle is, and you’ll see them all around you.” — Jon Bon Jovi

Kom ons gesels hierdie maand oor: Wonderwerke — wat is dit; hoe werk dit; en is God die bewaker daarvan?Vir Christene is Jesus die vergestalting van ʼn Wonderwerker. Dit is hartseer dat vir baie Christene is dit feitlik onmoontlik om in Jesus te glo as dit nie vir die wonders is wat hy verrig nie. Hoe vreemd dat mense nie eers die Nuwe Testament in konteks lees om te sien dat Paulus nêrens enige melding maak dat Jesus wonderwerke verrig het nie.

In Markus, wat naas Paulus, geskryf is die naaste aan die tyd wat Jesus geleef het, is elke ‘wonderwerk’ bloot Jesus se reaksie op mense se behoeftes.‘Wonderwerke’ is ʼn baie laat ontwikkeling wat Matteus en Lukas skryf tussen 50 en 80 jaar ná die dood van Jesus.

Teen die tyd wat Johannes Evangelie geskryf word (90-110CE) verander ‘wonderwerke’ na SEWE tekens ('signs') wat nie histories-biografies is nie, maar, tipies Johannes, geweef is in ʼn groter, dieper Waarheid waarmee hy Jesus interpreteer.

Ons gaan Sondag stilstaan by die eerste van hierdie ‘tekens’ in die Evangelie van Johannes as hy die verhaal vertel van water wat in wyn verander.

Jesus sit by ʼn bruilof en die wyn raak op. Hy gee opdrag om die ses kanne met hand-en-voet gewaste water vol te maak tot bo. Toe die seremoniemeester die water skep, proe hy die beste van die beste wyn.Waaroor gaan dit hier?

Wonderwerke word gevind in elke oomblik waar ons liefde kies bo vrees. Die wonderwerke van Jesus is nie metafisiese verskynsels nie, maar die wonder van ʼn vreemdeling wat by ʼn vreemdeling stop en kies om hom/haar lief te hê.Kom ons vat Sondag hierdie ses kanne en kyk wat gebeur as water in wyn verander —

  • Water van vrees word wyn van liefde
  • Water van skuldgevoel word wyn van vergiffenis
  • Water van verwerping word wyn van versoening
  • Water van konflik word wyn van vrede
  • Water van mislukking word wyn van potensiaal
  • Water van dood word wyn van lewe

Dis vir ons om te skep. Dis vir ons om te proe. Dis vir ons om versadig te word met die mooiste en beste van wat daar is.

Die spotter vra vir Hieronymus of dit nie ʼn bietjie oordadig was om nóg 600 liter wyn te maak nie, en of die gaste dit kon opdrink voor die einde van die bruilof — toe Hieronymus hom antwoord, “Nee, Jesus het genoeg wyn gemaak dat ons vandag nog daarvan kan drink.”

As long as you are willing
To change your mind,
Then God will change your life!

As alles gesê is, en alles wat vandag gebeur het in die spens van my hart kom lê dan trek ek die duvet tot onder my ken en kyk na die sterretjies teen my dak — en sê dan dankie vir vandag se wonderwerke.

Kom kuier die maand saam ons as ons gesels oor die wonders van wonderwerke.

Miskien, wie weet, bring dit ons weer in verwondering oor die LIEFDE.

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights