“Consciousness expresses itself through creation. This world we live in is the dance of the Creator. Dancers come and go in the twinkling of an eye but the dance lives on.”
― Michael Jackson —
Tussen Kommetjie en Scarborough kry jy ʼn plek waar die huise soos vinkneste teen die berg hang en die turquoise water oor wit seesand spoel. Die see is altyd onstuimig en mistig — vandaar die naam Misty Cliffs.
Dit is my heilige plek. Tussen hoogwater se skerp rotspunte het ek al dikwels myself verloor en weer gevind.
Daar het ek al gebid, geskree, gepleit, gevloek, gelag, gehuil, maar ook my seëninge getel.
Dis my wens dat my ‘as’ in een van die rotse gemessel sal word ná my dood, want daar wil ek die eons en eons tot in aller ewigheid spandeer.
As jy my vra, hoekom Misty Cliffs? dan is daar nie regtig ʼn antwoord nie — miskien omdat dit die laaste 20 jaar die plek geword het waarheen ek gaan om God se stem te hoor.
Dit het my tempel en altaar geword. Die see in al haar glorie bruis, raas en sproei my warboel gedagtes tot ʼn ruspunt.
Daar word alle vrese gesnoei tot net die liefde oorbly. Daar spoel ʼn gety van vergiffenis oor my en vind ek harmonie in die ritme van golwe.
Daar onthou ek, ALLES is heilig ...
... en om dié stelling te verstaan, gesels ons die maand oor die tema: EVERYTHING IS SPIRITUAL.
Kom ons begin by die begin.
Die eerste 34 verse van die Bybel is ʼn credo, geskryf in poësie. Dit is ʼn gedig wat nie historiese gebeure op ʼn tydlyn wil sit nie, maar reageer op die skeppingstradisies waarmee die Israeliete in kontak gekom het wat sê dat die aarde ontstaan het uit die konflik tussen gode.
Hierdie geloofsbelydenis sê dat God geskep het, en dat God skep uit liefde.
Die meeste mense lees Genesis 1 en 2 as ʼn opeenvolgende verhaal en merk nie eers op dat die twee dramaties van mekaar verskil nie.
Die eerste drie verse van hoofstuk 2 hoort by hoofstuk 1 en is deur die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint) oorgeskuif omrede hulle ook gedink het die twee hoofstukke is eintlik een.
Genesis 1 en 2 is tussen 400 en 500 jaar uitmekaar geskryf deur verskillende outeurs (priester-huise), uit twee verskillende gebiede in die antieke wêreld. Hoe weet ons dit? Ons sien dit in die taalgebruik en grammatika, die inhoud en struktuur.
Genesis 1 gebruik die Godsnaam ‘Elohim’ en Genesis 2 praat van JHWH wat die Jode uitspreek as ‘Adonai’; in Hoofstuk 1 word die mens die sesde dag geskape maar in hoofstuk 2 is die mens daar voor die plante en diere; in hoofstuk 1 skep God vanuit niks en hoofstuk 2 skep God uit die grond. Jy kan self die ander verskille gaan lees, want daar is baie.
Wat ek graag Sondag saam met julle sal wil doen, is om net Hoofstuk 1 te lees en hierdie gedig te gebruik as die basis-dokument om te verduidelik hoekom ons sê: EVERYTHING IS SPIRITUAL.
Hier is ʼn lusmakertjie vir wat jy kan verwag:
Die eerste vier priemgetalle is 2, 3, 5, en 7 ...
Vers 1 het 7 woorde en vers 2 het 14 (2x7) woorde. Die woord ‘aarde’ kom 21 (3x7) keer voor. Die woord ‘Elohim’ kom 35 (5x7) keer voor. Die frase “en God het gesien” kom 7 keer voor, en die frase “en dit was so” ook 7 keer. Dink jy dit is alles toevallig?
God sê vyf keer: “dit is goed” en die sesde dag sê God, “en dit is BAIE goed” — elke dag eindig met, “en dit was aand en dit was môre” maar die sewende dag, die Shabbat, het geen afsluiting nie omdat dit alles-insluitend en ewig-durend is.Dis ʼn herinnering dat elke dag is Heilig. Dat God se Teenwoordigheid (Gees) is in alles wat skep, en in elke woord.
Dit sê dat ons één dag in die week afsonder om ons medemenslikheid te onthou en te deel met ander. Dit is ʼn dag waar ons ʼn ander ritme het en met rites mekaar herinner aan ons menswaardigheid.Hoe lyk jou Sondae? Is dit ʼn dag waarop jy terugkyk na die vorige ses dae en sien, ruik, proe, hoor, en voel hoe ALLES in en om jou oorloop met die Teenwoordigheid van God?
SES (die getal van die fisiese wêreld) dae werk ons, maar op die SEWE dag (die Totaliteit van God) vloei die Spirituele in die Fisiese wêreld. Op daardie dag groet die Jode mekaar deur te sê, “Shabbat Shalom” om jou te herinner dat ons is ‘Spiritual Beings and not Spiritual Doings‘ ... die ‘die vrede van Sondag‘ raak elke aspek van jou lewe.
“Taste and see that the LORD is good; blessed is the one who takes refuge in him.” — Psalm 34:8
As jy al ooit gewonder het wat die sin van alles is en hoe alles inmekaar pas, dan is Sondag se gesprek vir jou.
Lees weer Genesis 1 en word bewus van die ewige waarheid: EVERYTHING IS SPIRITUAL.
Wees vandag die klei in die hande van die Pottebakker.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“There is not one blade of grass, there is no colour in this world that is not intended to make us rejoice.”
― John Calvin ―