“Do all the good you can,
By all the means you can,
In all the ways you can,
In all the places you can,
At all the times you can,
To all the people you can,
As long as ever you can.”
― John Wesley —
Dit is Desember en die maand waarin ons Kersfees vier.
Die Fees van Kerse is ʼn herdenking van die LIG wat na die wêreld gekom het om vir ons Hemel (die teenwoordigheid van God) te wys. It is: Christmas — not Vishnumas, Buddhamas, or Mohammedmas.
As ons dan ‘Christmas’ (the celebration of Christ) vier, wat beteken dit vir ons as Christene? Wat is daar in ons karakter en optrede wat vir ander sê ons is Christene? Hoe inspireer Christus jou om die beste weergawe van jouself te wees?
Laat my dink aan die skooljuffrou wat vir haar klas gevra het om iets skool toe te bring wat hul godsdiens versinnebeeld. Die volgende dag bring die Katolieke dogtertjie haar ‘rosary’ (gebedsnoer) saam skool toe en sê dat dit simboliseer haar liefde vir God.
Die Joodse seuntjie bring sy ‘yarmulke’ (kalotjie) en sê dat dit ʼn simbool van sy godsdiens en tradisie is. Die Moslem seuntjie bring sy ‘sajjāda’ (gebedmat) en sê iets soortgelyks. Die NG-kerk dogtertjie daag toe op met ʼn pan en sê, “Juffrou, dis die pan waarmee ons pannekoeke vir die basaar bak.”
Almal van ons het ʼn verjaarsdag. Ons moet gebore word om hier te wees. Tradisioneel vier ons Kersfees as die geboorte van Christus en daarmee ons eie wedergeboorte as ons dink aan die woorde van Jesus aan Nikodemus, “julle moet gebore word van bo (vanuit God)” — Johannes 3:7
Wat sê hierdie seisoen van ons eie gebore-sterf-wedergeboorte proses? Ken, erken, herken ons as Christene die ritme in ons Kerklike jaar waar ons ʼn Nuwe Jaar begin met geboorte — die drome en wense om die jaar betekenisvol te leef; om te sterwe in ons ego-denke met Paasfees; en dan ons wedergeboorte in Christus vier met Kersfees?
Of is dit te blah-blah, fah-fah kerktaal wat toegedraai is in religieuse retoriek?
Wat se verskil maak Kersfees in ons geloof, hoop, en liefde?
Hoe vier ons as Christene dan Kersfees en wat sal ons dié jaar anders doen as ander jare?
Die einste Johannes Evangelie begin met — “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en God was die Woord.” Daarby voeg die skrywer van die Petrus briewe sy stem deur te begin met — “Weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die Lewende Woord van God wat in jul woon vir Ewig.” (1 Petrus 1:23)
Wat is hierdie WOORD? Verseker is dit LIEFDE — ʼn onvoorwaardelike, allesinsluitende LIEFDE!
In die vreugde en vrede van Kersfees kan ons ten minste eenkeer ʼn jaar onthou, “die Woord het vlees geword en onder ons kom woon.” (Johannes 1:14)
Kersfees is die seisoen van LIEFDE gee, deel, en ontvang. Dit is die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee.
Dit begin met spirituele konsepsie (geloof), swangerskap (hoop), en dan geboorte (liefde). Om te praat oor wat Christenskap beteken, is om te praat oor GEBOORTE.
Om te praat oor GEBOORTE is om te praat oor (wat die Engels noem) — rebirth, remind, restore, reset, recreate.
Ons ken dit deur rhema (the spoken word) maar ervaar dit deur logos (the Divine word) soos Johannes Evangelie daarna verwys.
Die WOORDE wat ons gebruik, is geweef in die bontkleed van God se liefde. Die veelkleurigheid van God se liefde is gevleg in ons lywe, gedagtes, hart, en siel. LIEFDE is nie ʼn kompartement in my menswees nie — dit is die ALLES!
Dit is wie ek IS. Dit raak my totale wese. Dit is die spieël waarin ek my Self sien. Dit is die stetoskoop waarmee ek na die hartklop van ander luister. Dit is die mikroskoop waar ek dit in die kleinste van klein aspekte van my menswees ervaar. Dis die teleskoop wat liefde in die grootheid van die kosmos ontdek. Dit is die periskoop waarmee ek weer land vind as die golwe van spanning en onsekerheid oor my kop woed.
Dis ʼn geskenk. Dis verniet. Dit is wat Kersfees beteken.
Die Petrus-briewe (1 Petrus 2:2-10) gebruik die beeld van ʼn “pasgebore baba” wat smag na geestelike melk, asook die beeld van ʼn “lewende hoeksteen” waar God uit klip die klei vorm, en uit klei word engele gebore.
Ons leef in ʼn tyd van die groot dors. Ons het bottel-water en Moët, ons het gemmerbier en Chenin… maar kan niks hiervan vir ʼn baba gee nie. Waar drink jy? Waar voed jy die groter dors?
Ons het ʼn plan en ʼn troffel, ʼn graaf en sement, hout en bakstene… maar waar is jou hoeksteen? Verstaan jy dat God sê, JÝ is die hoeksteen waarop Hy sy liefde bou?
Om te sê ons is Christene maak ons nie beter as ander nie. Dit beteken nie ons het die regte manier en ander is verdoem nie. Wat dit sê, is dat ons as Christene volg die voorbeeld en inspirasie van Rabbi Yeshua van Nasaret. Hy is vir ons die getuienis van God se liefde wat sigbaar word in ons liefde.
Waaroor anders gaan Kersfees?
Kom ons gesels Sondag oor die betekenis van kersfeesbome en liggies, geskenke en mistletoe.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“What if Christmas, he thought,
doesn’t come from a store.
What if Christmas…perhaps…
means a little bit more!”
― Dr. Seuss ―