“People will do anything,
no matter how absurd,
to avoid facing
their own souls.”
― Carl Gustav Jung —
Ons gesels hierdie maand oor die tema: Waar HEMEL Aan Die AARDE Raak — en het laas week ʼn paar vrae verken oor WAAR is die hemel, en HOE kom ek daar?
Hemel is nie ʼn plek nie, hemel is die teenwoordigheid van God. Hemel het nie vorm (spasie) of dimensie (tyd) nie en is daarom nie êrens in die kosmos nie.
Hemel is die alomteenwoordigheid van God en net hulle wat dit sien sal hul skoene uittrek.
Hemel vind ons waar liefde gedy, en nie op grond van meriete of verdienste nie. Hemel is om bewus te wees van die liefde wat in en deur my vloei en om te weet hierdie LIEFDE is nie van my nie.
Hemel is ʼn volmaakte eenheid met God as ʼn manifestasie van “beeld en gelykenis van God” (Gen 1:26) en “asem van God” (Gen 2:7).
Hemel is hier en nou as ons sterf in ons ego-denke, sterf in my illusies en harsingskim van wie is in en wie is uit, wat moet en wat mag nie, en met die Bybel onder arm namens God wil besluit wie gaan hemel en wie gaan hel toe.
Write this on your walls:
HEAVEN IS THE PRESENCE OF GOD.
Ons raak so verlore in alles wat ons móét doen. Al die voorwaardes wat ons geskuif het tussen mens en God. In baie opsigte het ons godsdienste ʼn Godsverduistering tot gevolg — en dít is HEL.
Hel is die wreedheid waarmee ons met onsself, ons medemens en die natuur omgaan. Hel is om totaal van God verwyderd te voel. Dis wat Jesus se “ter helle neergedaal” beteken as hy uitroep, “My God, My God, waarom het jy my verlaat...?”
Hel is die konsekwensies van ons verkeerde aksies. Hel is die wonde wat ons veroorsaak deur ons verwronge reaksies.
Hel is waar satan (die aanklaer, i.e. ego) skuil. Dis waar demone (bygeloof) glo dit het krag. Dis waar die duiwel (die een wat verdeel, i.e. vrees) alles wat mooi en goed is tot as verbrand.
“Love is what we are born with. Fear is what we learn. The spiritual journey is the unlearning of fear and prejudices and the acceptance of love back in our hearts. Love is the essential reality and our purpose on earth. To be consciously aware of it, to experience love in ourselves and others, is the meaning of life. Meaning does not lie in things. Meaning lies in us.” — Marianne Williamson
In die Evangelies (Markus 4:35-41; Matt 8:23-27; Lukas 8:22-25) lees ons ʼn verhaal van ʼn middag toe Jesus vir sy dissipels sê om na die anderkant van die See van Galilea te vaar. Skielik bars ʼn groot storm los en die skuit begin water skep. Verstommend lê Jesus en slaap op die agterstewe van die boot. In angs maak hulle hom wakker en vra of hy dan nie omgee dat hulle vergaan nie.
Jesus roep uit oor die wind en die see, “HOU OP! BEDAAR!”
Die wind gaan lê en ʼn groot stilte sak neer oor hulle. Dan draai Jesus na sy dissipels en vra, “Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?”
Die storm is nie HEL nie, ons vrees is HEL en die meeste mense ly aan ʼn toestand van kroniese vrees. Ons is bang vir die toekoms, bang vir die dood, bang vir mense wat my kan seermaak. Ons voel hulpeloos en moedeloos en dit maak die vrees net nog groter. Daar is soveel goed wat ons nie verstaan nie en dit voed die vrees nog meer.
Ons reageer uit vrees en nie uit liefde nie. Ons neem besluite op grond van vrees en nie uit geloof (oortuiging) nie. Vir soveel mense is selfs hul geloof gebaseer op vrees.
“Hoekom glo jy in God?” word gevra en dan die antwoord, “Want ek wil nie hel toe gaan nie?”
“Kom ons vaar na die oorkant toe.” — die Christus-Bewussyn vat jou altyd op reis.
“Skielik was daar ʼn groot storm” — die Goddelike Reis waarborg jou nie dat jy sonder storms anderkant gaan uitkom nie, maar wel dat jy sal uitkom waar jy móét uitkom.
Maak dit ons bang as die golwe so teen die boot slaan en die wind skeur ons seile? Verseker.
Raak ons paniekerig en spring oorboord omdat ons eerder sal verdrink as vertrou? Natuurlik nie.
Kom ons praat Sondag oor die Christus-Bewussyn (i.e. HEMEL) in die boot van ons harte; in die boot van ons intensies; in die boot van ons gedagtes, ons omstandighede, en ons verhoudinge.
Liefde het nie ʼn teenoorgestelde nie maar die afwesigheid van liefde is vrees. Haat is vrees. Woede is vrees. Afguns en jaloesie is vrees.
“Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het Sy liefde in ons volmaak geword.”
“Daar is geen vrees in liefde nie, maar volmaakte liefde dryf vrees uit. Want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in liefde nie.”
— 1 Johannes 4:12 en 18
Hou op soek na ʼn hemel of hel in die toekoms. Dit is hier en nou en vandag!
Waar ons baklei en haat, kole op ons konflik en geweld gooi, en beheer word deur gierigheid en afguns, is ons in die HEL.
Maar as ons liefhet sonder verwagtinge en verpligtinge, selfloos in ons gee en omgee, en die Liefde van God manifesteer in elke aksie en reaksie, is ons inderdaad in die HEMEL.
“Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?”
Dan bid ons weer en nog ʼn keer:
“Laat U koninkryk kom op aarde soos in die hemele”
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Sing like no one is listening.
Love like you’ve never been hurt.
Dance like nobody’s watching,
and live like it’s heaven on earth.”
― Mark Twain ―