Die Koringkorrel Moet Sterf

29 September 2021

“Each tiny effort builds on the next,
so that brick by brick,
magnificent things can be created.”
― Robin Sharma —

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand” soos Leipoldt daarna verwys. Die Tiende Maand van die jaar 2021 en tradisioneel die maand waarin ons GEE … iets deel vanuit die oorvloed waaruit ons ontvang — omgee uit dankbaarheid en waardering.

ÓF soos ons Liturgie ons elke week daaraan herinner: giving transforms having into being!

Vandag is my hart swaar — en ek mag dit maar sê — want ek verlang. Na ʼn tyd toe ons kapel elke Sondag, skouer aan skouer, vol gesit het. Die energie en fokus van mense is só 'n bron van inspirasie.

Ek verlang na ons gespreksgroepe waar ons saam lees en gesels en deel, want dis ʼn belangrike klankbord vir my. Ek mis om verlof te neem en êrens vakansie te gaan hou sodat ʼn mens kan herlaai en weer jou muse vind, want in drie jaar was dit nie moontlik nie.

Dié maand is ook die herdenking van my dierbare pa se afsterwe laasjaar Oktober. Daarmee saam die herinnering aan sóveel mense wat afgestaan is aan die dood. Mense wat onherroeplik ʼn aandeel gehad het in my menswees. Met heimwee dink ek aan my pa en vriend, Welmar, en hoe innig ek hulle mis.

In sulke dae gaan sit ek en maak ʼn lys van alles waarvoor ek dankbaar is. Soos die lys groei, word my gemoed ligter. Hoe meer ek dink aan alles, hoe helderder word my onthou.

Die lig breek deur my warboel gedagtes. Vars lug asem die benoudheid weg. Weereens besef ek: verandering begin in jou gedagtes — en as ʼn mens vorentoe wil beweeg, moet ʼn mens eerlik wees met jouself.

Verandering, transformasie, wedergeboorte, is nie goedkoop of gemaklik of opgeruimd nie.

Ja, dis maklik om in jou geut te bly, in dieselfde rat, die bekende same-old-same en te sit en wag tot iets gebeur voor ʼn mens verander.

“Nothing happens until the pain of remaining the same outweighs the pain of change.” — Arthur Burt

Onderaan my lysie trek ek ʼn streep en skryf in dik, vet letters: WYS MY HOE, O HEER!!

... HOE om te leef in dankbaarheid en waardering, maar bowenal HOE om te transformeer na die beste weergawe van myself.

Ongelukkig verstik die woord ‘transformasie’ aan politieke retoriek wat goed wil verander sonder dat enige iets verander. ʼn Woord wat meer as dikwels gebruik word deur mense wat dikgevreet is aan korrupsie.

As ek die woord ‘transformasie’ gebruik dan bedoel ek dit holisties en nie gekompartementaliseer nie. As transformasie nie my totale wese, elke aspek van my lewe verander nie dan beteken dit niks.

Die moderne mens het oënskynlik geen moeite om te aanvaar dat wie ek by die huis, by die werk, en in my sosiale kringe is, hoef nie dieselfde mens te wees nie.

Spiritueel doen ons dit met uiterste vernuf. Sondae en Maandae hoef nie te ontmoet nie —óf— met moeite sal ons Sondae vir God gee, maar die res van die week is myne.

Ons geloof, hoop, en liefde is geprivatiseer. Op ons beste sal ons God inpas waar en wanneer dit geleë is en wanneer ons daaraan ʼn behoefte het … gewoonlik as daar ʼn krisis is.

Die kerk het ʼn vulstasie geword waar ek stilhou as my tenk leeg is. Daar is min aptyt om die vulstasie te verander in ʼn herberg of leerhuis, wat nog te sê ʼn banketsaal waar transformasie omarm, en nie verplig word nie — embraced and not imposed.

Spirituele transformasie is ʼn proses, ʼn geloofsreis, en nie ʼn bestemming of iets wat jy bereik nie. Ek het geen idee hoe ʼn mens dit doen sonder om nie bewustelik te leef vanuit my verhouding met myself, met my ewemens, en bowenal met dit wat ek ervaar en verstaan as God nie.

Maar transformasie is ook sterf … nie ontkenning nie, maar sterf om geboorte te gee aan iets nuut.

“Dit verseker ek julle: as ʼn koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ʼn groot oes in.” — Johannes 12:24

Paulus verstaan dit as hy aan die gemeente in Korintiërs skryf oor hulle wat so gemoeid is met die lewe ná die dood en of ʼn mens weer liggaam is of nie as hy sê —

“Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.” — 1 Korintiërs 15:36

Die ego wil nie verander nie. Die ego soek nie transformasie nie. Die ego is meer as gelukkig met die status quo.

Miskien, net miskien, is my hunkering en verlange die grond om iets nuuts te plant. Na binne en vorentoe kyk ... want as mens aanhou omkyk dan ploeg jy skeef.

Vandag vra ek ʼn oop hart en oop arms sodat ek oorrompel sal word deur die liefde en genade van God.

Wat meer kan ek vra? Wat meer kan ek sê as net dit —

Hier is ek, stuur en gebruik my.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Effortless doesn’t mean no effort;
effortless means just enough effort
to be vivid, to be present,
to be here, to be now.
To be bright.”

― Adyashanti  

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights