Die Pad terug na die Hart III

15 September 2021

“One reason people resist change
is because they focus on what
they have to give up, instead
of what they have to gain.”
― Anonymous —

Vandag se e-pos is geklee in die systof van dankbaarheid en die halssnoer van waardering.

In my lewe was die sinchronisiteit van datums nog altyd verstommend. Na twee jaar (sedert 2009) van dienste hou by Kolping is Neo-Spektrum gebore op 18 September 2011 — op die dag en datum ʼn jaar na my hartoperasie.

Dit is daarom met groot vreugde dat ons eerskomende Sondag ons 10-jaar gaan vier. Ons sal dit later die jaar met ons Somerfees op ʼn gepaste manier doen, maar Sondag vier ons dit met brood en wyn.

Enige geboorteproses gaan met pyn gepaard, en Neo-Spektrum was geen uitsondering nie.

Die eerste saadjie is reeds in 2001 geplant toe daar begin is met Kruiskerk uit ʼn behoefte om ʼn plek van aanbidding te hê waar dogma en kerkreëls plek maak vir ʼn oop-gesprek, en ALMAL welkom is.

ʼn Ruimte van andersdenkendes waar daar vir mense ʼn stem gegee word om oor hul ervaring en verstaan van God te praat.

Tien jaar later in 2011, met ʼn nuwe hart, sou Neo-Spektrum hierdie reis voortsit. Met die hulp van ʼn wonderlike Leierspan het ons ons seile gespan en ons roer in die water van verandering gewaag.

Dit was nie maklik nie, maar getrou aan ons roeping het ons weer en weer, keer op keer, Sondag na Sondag bymekaar gekom.

Menigmaal het ek na ʼn diens huis toe gery in trane terwyl ek wonder of ons dit gaan maak. Met albei hande en ʼn oop hart het ek vasgehou aan my roepingsteks:

“Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” — Handelinge 20:24

Nog ʼn dekade later en vandag het ons inderdaad ons eie hawe.

Oor die laaste 10 jaar het ons ʼn paar skepe bygekry. Een van die bote is ons betrokkenheid by Attie van Wyk landelike skool. ʼn Ander is ons hulp en ondersteuning aan MES-aksie en Huis Jabes. Ons het ʼn boot wat gereeld hulp verleen waar nodig aan individue en gesinne.

Dit alles gebeur vanuit ons Neo-Spektrum bassin onder leiding van ʼn Leierspan (vyf vroue en vyf mans) wat knap en kundig is met die beplanning, leiding, organisering, en kontrole van ons vloot en kudde.

Dit is, en bly ʼn voorreg om die geestelike leier van hierdie geloofsgemeenskap te wees.

Die betekenis en invloed van Neo-Spektrum op my eie spiritualiteit is onberekenbaar. Dit het die laaste dekade my geloof, hoop, en liefde geskoei en gevorm tot ʼn deurleefde ervaring van menswees en my verhouding met God.

In elke opsig is ek vandag ʼn beter mens danksy dit wat Neo-Spektrum vir my beteken.

Wat maak dit só anders dat ek dit met soveel selfvertroue kan sê —

  • by Neo-Spektrum kan ek wat ek glo en hoe ek my verhouding met God ervaar, verwoord sonder vrees vir veroordeling of verwerping;
  • oor die jare het mense oor my pad gekom wat vandag ‘familie’ geword het, mense wat opreg omgee sonder 'n agenda of onderstroom, en hul liefde het my geleer om elke verhouding te koester en te omarm;
  • ek het sóveel geleer en gegroei die laaste 10 jaar in die vryheid om uitdagende temas aan te pak wat my horison sou verbreed en my leivore sou verdiep.

Vir só lank in my lewe het ek gedink dat as ek die regte goed doen, sal geloof my vind … as ek op die regte manier glo, sal hoop geskenk word … dat liefde, vreugde, en vrede van buite kom.

Vandag weet ek met my hele hart en my hele siel en met my hele verstand dat God sorg dat my spens nooit leeg sal loop van hierdie gawes nie.

In elke aspek van my lewe maak God verbasend sin. Verdwaal ek nog? Verseker, maar deesdae vind ek my pad gouer terug. Struikel ek nog? Absoluut, maar ten minste is daar ʼn bewussyn van waar ek pas in die Groot Tapisserie.

Daarom gaan ek Sondag toewy aan drie tekste wat die laaste 10 jaar die fontein en fondasie van Neo-Spektrum sou word —

  1. “Dit is my geliefde SEUN in wie ek 'n welbehae het.”
    — Matteus 3:17, en 17:5
  2. “Want so lief het God die WÊRELD gehad, dat hy sy enigste gebore seun gegee het.”
    — Johannes 3:16
  3. “As julle my KEN, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
    — Johannes 14:7

Dit is tyd om hierdie verse terug te eis van ʼn fundamentalistiese misbruik.

Kom ons praat oor:

  • Human Consciousness
  • Christ Consciousness
  • Divine Consciousness
  • Cosmic Consciousness

... want dit is die pad hoe God ons vind.

Andermaal, met dankbaarheid en waardering.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“If you count your blessings,
you will always show a profit.”

― Graffiti on a Wall 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights