“Why do we only REST IN PEACE,
why don’t we LIVE IN PEACE too?”
― Graffiti On A Wall —
Ons gesels hierdie maand oor: Die Skoenlapper Effek.
Op 26 Desember 2004 was daar ʼn aardbewing aan die Weskus van Sumatra Indonesië … 230,000 mense, in 14 lande, sou hul lewe verloor deur ʼn tsunami wat so vêr as Indië, Bangladesh, Malaysia, Thailand, en Sri Lanka gestrek het.
Daar word gesê dat ʼn skoenlapper wat sy vlerke klap in die Amasone ʼn storm in Europa kan veroorsaak. Dit word nie letterlik bedoel nie, maar spreek van ʼn beginsel dat iets kleins wat hier gebeur, kan ʼn enorme invloed hê op iets of iemand anders aan die anderkant van die planeet.
Newton het ons geleer dat vir elke aksie is daar ʼn ekwivalente reaksie. Dit is die wet- en planmatigheid waarop die ganse kosmos werk. Of dit die selle in my liggaam, of die makro-kosmos van sonne- en sterrestelsel is.
Die beginsel van oorsaak-en-gevolg is ook sigbaar in die Skoenlapper Effek waar die geringste gebeure ʼn enorme effek kan hê op die uitkoms van ʼn situasie.
Met ander woorde — ʼn enkele gebaar van liefde, welwillendheid, toegeneentheid, en medelye kan tot gevolg hê dat iemand anders se hele lewe verander.
Net so kan ʼn enkele besluit my lewe in 'n totaal ander rigting stuur. Elke keuse wat ons maak, kan verreikende (positiewe of negatiewe) gevolge hê. Selfs die keuse om nie te besluit nie.
Besef ons aldag die rimpeleffek van ons aksies en reaksies?
Die laaste paar dae het ons ʼn barbaarse vergrype gesien deur kriminele wat besighede, voertuie, en geboue vernietig. Reeds 72 mense het hul lewe verloor weens hierdie opstande. Maak geen fout nie — wanneer betogers, plunderaars, en moordenaars dieselfde gesigte het, het ons ʼn groot probleem.
Volgens my, en ek mag myself vergis, het dit WEINIG te doen met die feit dat Jacob Zuma in die tronk is en het dit ALLES te make met mense wat siek en sat is van armoede, sistemiese werkloosheid, swak dienslewering deur bankrot munisipaliteite, en ʼn regering wat T-shirts uitdeel in plaas van brood.
Dit regverdig hoegenaamd nie die onwettige optrede van mense nie, maar miskien moet die familie en binnekring van Zuma wat geweld aanhits en die desperaatheid van mense uitbuit, heel eerste gearresteer word.
Een ding is verseker, wat in KZN gebeur, raak ons hele land. Die aksies en reaksies van ʼn handvol mense beïnvloed ons almal. Die een oomblik is daar ʼn sug van verligting dat die man wat onberekenbare skade aan ons land verrig het agter slot en grendel is, en die volgende oomblik hou ons ons asem op vir wat ons op TV en Sosiale Media sien.
By myself, en is seker by baie ander ook, is daar ʼn woede. Woede oor die onbeskaafde manier wat daar met ander mense se lewe gemors word. Woede as gevolg van ʼn magteloosheid dat ons regering geen idee het hoe om hul gemors reg te maak nie. As a matter of fact, they don't even have a clue.
MAAR, wat is woede anders as vrees verwoord …?
Woede is vrees dat ek nie gehoor of gesien, nie geken of erken, nie waardeer of respekteer word nie.
Woede is vrees dat my mens- en geloofwaardigheid geskend en verloën word.
Woede is vrees dat die emosies (reaksies) wat ek ervaar, gaan die res van my lewe so akuut en intens wees soos vandag.
We all know the fight, flight or freeze response of fear all too well … net soos ons alte goed weet dat as jy vrees voer, bly dit honger.
Vrees is die afwesigheid van liefde, net soos duisternis die afwesigheid is van lig. Die emosie (reaksie) van vrees is ʼn primitiewe instink wat alle ander emosies oorheers. Die oomblik as vrees (angs, spanning, en paniek) jou aan die keel gryp, is dit asof alle liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing eenvoudig verdamp.
Die oomblik as vrees sy angel in jou slaan, skop ons dierlike oorlewingsdrang in. Ons verloor alle perspektief en redelikheid.
But is fear real …?
Wat die rede of verskoning, situasie of omstandighede ook al mag wees, weet ons uit eie ervaring dat 90% van ons vrese materialiseer nooit nie. Selfs die orige 10% wat gebeur as gevolg van ʼn traumatiese ervaring soos siekte, dood, egskeiding, of werksverlies maak mettertyd plek vir liefde, aanvaarding, en seëninge.
As jy my kwes met ʼn woord of daad en ek kies om nie energie daarop te mors, of dit tyd en spasie in my kop te gee nie, dan maak dit eintlik nie saak wat of hoe jy dit gesê het nie. As iets in my lewe gebeur wat my dompel in emosies (reaksies) van skuldgevoel, selfverwyt, en skaamte dan kies ek om anders daarop te reageer, anders daaroor te dink, en so kom daar ʼn hele nuwe, ander insig.
Ja, ek is nie ten alle tye in beheer van dit wat met my gebeur nie, maar ek het altyd ʼn keuse hoe ek daarop gaan reageer.
Dieselfde met dit wat die laaste week in ons land gebeur — ek kies om meer sensitief te wees met mense om my se gevoelens; nie te gou oordeel nie; met liefde en begrip reageer teenoor iemand wat klippe optel om te gooi; en om my eie klippe neer te sit.
Dit vra dat ons aandagtig en bewustelik sal leef. Oop en ontvanklik vir God, want wat ook al op die oomblik in jou lewe gebeur, is ʼn geleentheid om te groei. ʼn Kans om ʼn beter weergawe van jouself te wees. A chance to make a choice for change.
[Ek sien dat gemeenskapsleiers in KZN van die gesteelde goedere terugvat by mense en dit aan die polisie en winkeleienaars oorhandig, en dat die taxibestuurders hul help daarmee.]Ons kán dit anders doen. Ons kán anders reageer. Ons kán liefde kies bo vrees.
VANDAG kies ek liefde bo vrees!
Môre vra ek weer.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
NS: Weereens BAIE dankie vir almal se positiewe reaksie op ons versoek om ons finansieel te ondersteun. Dit word met GROOT waardering ontvang. As jy dit oorweeg om ons te help, is Neo-Spektrum se inligting onderaan beskikbaar.
“Waar liefde is,
is daar geen vrees nie,
maar volledige liefde
verdryf vrees,
want vrees verwag straf,
en wie nog vrees,
het nie ten volle lief nie.”
― 1 Johannes 4:18 ―
Voorlopig weer opgeskort weens Covid reels.
-andersins-
Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville
Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek