Herfs — Tyd om te laat gaan V

26 Mei 2021

“You never change your life
until you step out
of your comfort zone;
change begins at the end
of your comfort zone.”
― Roy T. Bennett —

Vir ʼn maand lank gesels ons oor HERFS as die seisoen wat ons leer om TE LAAT GAAN … en eerskomende Sondag sluit ons hierdie gesprek af met: HERFS weet iets moet verander.

Almal soek verandering. Niemand wil verander nie.

Ons kan voor ons heilige siele weet wat móét verander maar het gewoon nie die moed, dissipline, of deursettingsvermoë om uit ons gemaksone te stap nie.

Verandering gaan nooit gebeur as ons vir iets of iemand sit en wag om dit vir ons te doen, of wanneer dit ʼn ‘regte/beter’ tyd is om te verander nie. Met ander woorde — ek sit vir myself en wag om te verander.

 Verandering begin by my — en met die aanhoor hiervan sug ons met ʼn “Ja-ja, het dit ook al gehoor” en volg dit op met ʼn rede of verskoning waarom dit nie so maklik is nie, en dat my omstandighede eers moet ‘verander’ — ʼn ander werk, ʼn ander huis, ʼn ander vrou, ʼn ander land, ʼn ander lewe …

REALLY!? Moet ons eers wag vir iets ‘anders’ om te verander? Sal die boom wag tot die sneeu val voor hy sy blare afskud? Sal die swaeltjies wag tot die eerste winterreëns kom voor hul die langpad vat na waar dit somer is?

Wie is dieselfde as ʼn jaar gelede? Wie is daar wat nie terugkyk na ʼn dekade en wonder hoe het jy hier gekom deur alles wat verander het nie? Hoe is dit dat die lewe jou eenvoudig eers moet skoei en snoei voor ons sal verander?

Dink daaroor — alles om ons verander teen ʼn duisligwekkende pas. Hierdie versnellende verandering wag vir niemand nie.

Onthou jy ʼn tyd toe ons na ʼn foon met ʼn koord aan die muur moes stap om met iemand kontak te maak; ʼn seël op ʼn koevert moes plak om ʼn brief te stuur; ʼn tjek moes skryf as jy iets wou koop; en ʼn atlas moes gebruik om jou roete uit te werk?

 Verandering is konstant — ALLES verander aanhoudend, gedurig, herhaaldelik, sonder ophou.

Hoe gaan ons om met hierdie voortdurende verandering om ons? Sit ons en wag dat die lewe mý verander of neem ons verantwoordelikheid vir verandering? Is ek aktief betrokke om verandering te bewerkstellig, en hoe gaan ek sinvol om met veranderinge wat buite my beheer val?

“I can't change the direction of the wind, but I can adjust my sails to always reach my destination.” — Jimmy Dean

Hierdie mallemeule, rondomtalie, tiekiedraai reis wat ons LEWE noem, gaan nie net oor lesse leer nie maar om die LEWE in al sy kleure en geure te ervaar. Dit gaan nie net oor verandering nie, maar oor transformasie. Die LEWE gaan nie net om te sien nie, maar te voel; nie net droom nie, maar doen; nie net sê nie, maar wys; nie net bestaan nie, maar om te lewe in die volheid daarvan en in al sy skakerings.

Helaas, ons is gewoon te bang om buite die veilige sekerhede van ons sirkeltjie te stap. Ja, ons sal kla en kerm, protesteer en murmureer oor als wat moet verander solank iemand anders iets daaraan doen.

“I cannot change the world, but I can change the way I think about the world; and when I change the way I think about the world, suddenly the world changes.”

Hierdie aanhaling uit ‘A Course in Miracles’ was nog altyd ʼn kompas om te wys waar lê my Ware Noord.

Mens is nie altyd in beheer van goed wat gebeur nie, maar ek is altyd in beheer van hoe ek daarop gaan reageer.

Is it fight, flight, or freeze when things desperately need to change ...?

Die lewe is nooit stagnant nie. Dit vloei en beweeg, dit is soepel en aanpasbaar … dit verander, verfyn, vernuwe, verwerk, en verbeter.

 Verandering is ʼn keuse — dit is ʼn wilsbesluit. Dit gebeur een tree op ʼn slag, van oomblik tot oomblik … met kalmte en nugterheid, volharding en ʼn oopkop.

It’s not a matter of chance; it’s a matter of choice.

Dit is ʼn besluit wat sê: as ek struikel gaan ek dit deel van die dans maak. Waar ek nie verstaan nie gaan ek uitvind. Ek gaan aandagtig en bewustelik leef in die oomblik en my nie laat verlei deur skuldgevoelens oor gister of vrese oor môre nie.

“It is not the strongest of the species that survives, nor the most intelligent; it is the one most adaptable to change.” — Charles Darwin

Elke oomblik van hierdie dag is ʼn besluit om anders te kyk, anders te hoor, anders te dink, anders te voel, anders te reageer. Ek gaan nie wag tot omstandighede my dwing om te verander nie. Ek gaan nie wag tot ek mank op my knieë geslaan word voor ek iets gaan doen aan die situasie waarin ek is nie.

“In any given moment we have two options: to step forward into growth or step back into safety.” — Abraham Maslow

Daarom is my gebed vir vandag —
“Heer, ek weet wat is die goed wat moet verander.
Ek weet die verandering moet by my begin.
Wys my hoe.”

... dan gaan ons wawyd wakker moet leef want die 'HOE' gaan kom in ʼn duisend stemme, op ʼn duisend plekke, in ʼn duisend maniere na ons toe kom.

Volmaan groete

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

One day or day one.
You decide.

― Unknown 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights