Geloof, Hoop en Liefde vir 2021 IV

20 Januarie 2021

Remember that when you
leave this earth,

you can take with you
nothing that you have
received – only what you
have given.”
― Francis of Assisi 

Mag ek begin met ʼn vreemde stelling — die doel van die lewe gaan nie primêr net om ‘gelukkig’ (happy) te wees nie, maar hoe om ʼn sinvolle lewe te lei. Die ‘geniet die lewe’ is nie die doel op sigself nie, maar hoe om betekenisvol om te gaan met al die nuanses en skakerings van die lewe. Dis iets wat ek geleer het uit die werk van die Vlaamse psigiater, Dirk de Wachter.

Die laaste drie maande moes keer op keer plek maak vir verdriet. Meer as dikwels is ek gekonfronteer met die realiteit én finaliteit van dood. Trouens, die laaste 100 dae is 14 mense oorlede wat ek goed geken het, o.a. my pa en beste vriend.

Weereens sou die woorde van John Green aan my deur klop — “Grief does not change you. It reveals you.”

Ons tema vir dié maand is — GELOOF, HOOP, en LIEFDE vir 2021 — minwetende hoe hierdie drie geweefde begrippe lig sou werp op die vraag oor lewe en dood…

Jy sou kon dink dit is te morbied vir ʼn Woensdagoggend en eerder ʼn paar woorde van bemoediging verkies, of ʼn klein bietjie motivering en inspirasie in ʼn baie onsekere tyd, óf dalk net vra: versterk ons geloof, gee vir ons hoop, en doen dit met liefde. Miskien sal ek dan antwoord: is dit nie juis nou belangrik om hieroor te praat omdat ons gekonfronteer word met onsekerheid en spanning, siekte en dood tydens ʼn pandemie nie?

Een van die grootste paradokse van die lewe is dit: wanneer alles goed gaan, wanneer alles verloop soos ek wil, waar ek wil, en hoe ek dit wil hê, het ons min sin aan die vrae oor wat regtig belangrik in die lewe is. Wanneer ons sorgloos en sonder spanning is, is daar min behoefte om te praat oor geloof, hoop, en liefde. Ons samelewing (saam + leef) is vervang deur ekkigheid wat wentel om mý geluk, mý gemoedsrus, mý behoeftes en verwagtinge.

Die waarskynlike onsin is die vergissing dat ek dink dat ek alles SELF MAAK sonder om te erken dat ons outonomie ons meer eensaam, meer weerloos, meer kwesbaar agterlos. Hierin lê die misterie van die lewe — slegs wanneer ons besef dat ons mekaar nodig het, vind ons liefde. Die paradoks waarna ek verwys, en jy mag dit inderdaad raar vind, lê in die feit dat in ons weerloosheid word liefde gegee en gevind.

In meer as een opsig is ons die laaste 10 maande gedwing tot stilstand. Daar is ʼn aandklokreël wat ʼn stilte bring aan die einde van die dag. Meer as ooit is daar ʼn geleentheid vir dankbaarheid en waardering wanneer alles om ons stil raak.

Maak geen fout nie — natuurlik wens ek vir iedereen ʼn gelukkige lewe, maar terselfdertyd pleit ek dat ons ook sin sal vind wanneer die lewe ongemaklik en moeilik is. Ons moet onsself ook toelaat om van tyd tot tyd ongelukkig te wees sonder om dit te stigmatiseer of te pharmatiseer ... en dan vir ʼn vertroueling sê, “Hoor my. Sien my. Hou my vas.”

Die meeste mense leef in ʼn diep ontkenning oor hulle eie ‘ongelukkigheid’ en het geen vrymoedigheid om dit met diegene die naaste aan hulle te deel nie uit vrees vir veroordeling en verwerping. Ons leef in ʼn wêreld met gefragmenteerde kommunikasie — the one liner in a WhatsApp with a sad-face-emoji can never truly say what you think and feel — ons praat, maar sê niks, ons voel, maar wys nie, ons bestaan, maar behoort nie.

Ons het vergeet hoe nodig ons dit het om te behoort (belong), die verlange na hegting, ons interafhanklikheid en verbinding, ons smag na koestering en om van geweet te wees.

Wanneer die dood van ʼn geliefde ʼn bewuswording van my eie mortaliteit bring, breek die “kleine goedheid” (soos De Wachter dit noem) deur die skrefies.

Die kleine goedheid om die buitengewone in die gewonigheid van elke dag te vind. Die kleine goedheid om nie alles nou en dadelik te wil hê nie, maar ook te kan wag met rustigheid en geduld. Die kleine goedheid wat met nederigheid sinvol omgaan met die eindigheid van seisoene. Die kleine goedheid wat die nood van ʼn ander sien en met welwillendheid en medelye daarop reageer. Die kleine goedheid wat die genoegsaamheid van die lewe waardeer en met barmhartigheid daarmee omgaan.

Dit is waarna Augustinus verwys as hy praat oor liefde — “What does love look like? It has the hands to help others. It has the feet to hasten to the poor and needy. It has eyes to see misery and want. It has the ears to hear the sighs and sorrows of men. That is what love looks like.”

Ek dank die Here GOD vir hierdie tyd van rou en verdriet, want dit het my geleer om meer sensitief te leef met ʼn groter dankbaarheid vir alles wat ek vanselfsprekend aanvaar. Ek dank God vir ʼn tyd van onsekerheid omdat dit my geloof versterk, my hoop verskerp, en my liefde verfyn. Ek dank God vir ʼn tyd van broosheid omdat dit my die waarde van afhanklikheid en die betekenis van diensbaarheid leer.

Ek dank die Here God dat my vreugde en vrede nie langer afhang van omstandighede nie en dat die woorde van Janet Erskine Stuart opnuut my herinnering is — “Joy is not the absence of pain but the presence of God.”

Hierin vind ek my troos. Hierin lê my bemoediging. Hieruit vloei my inspirasie.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“We are not inside
on our way out,
we are outside
on the way in.”

― George Bernard Shaw 

 

'n Paar belangrike skakels om te besoek:

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Ons Sondae Sirkel is voorlopig opgeskort
volgens reëls en regulasies van Vlak 3
Ons hou julle op hoogte
wanneer ons weer hervat

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights