Hierdie week se liturgie: 16_september_2012
Eerskomende Sondag is Neo-Spektrum ʼn jaar oud! Dit was ʼn jaar met baie seëninge en ondersteuning. Dit was ʼn jaar met insig en uitsig maar veral ʼn jaar met diep besinning oor die sinvolheid van ons spiritualiteit en beoefening daarvan. Elke Sondag was daar ʼn warm toegeneentheid in ons wysheidsirkel (ja, selfs in hierdie lang uitgerekte winter 😉 met ʼn gevoel van ‘behoort’ en ‘omgee’ wat aanvoelbaar is.
Uiteraard gaan enige geboorte gepaard met onsekerheid en vertwyfeling – ons leer dit ook uit ‘A Course in Miracles’ (ACIM) dat separation altyd saam met skuldgevoelens en vrees gaan – maar selfs in hierdie proses was daar oor die laaste jaar die geskenk van versoening en vergiffenis. Waar sal ons wees in ons menswees sonder hierdie twee geskenke? Daarvoor sê ons dankie!
Oor die laaste jaar het ons met verskeie gespreksgroepe begin wat later ineengeloop het met die begin van ACIM. Die inleiding tot die kursus was deur meer as 30 mense bygewoon en ons is reeds besig met BLOK 3. Dit het ʼn oorweldigende positiewe terugvoer wat ons uitdaag om anders te dink; anders op te tree; ander te reageer op ons dag tot dag situasies. Sowat 73 mense het hul name en epos-adresse ingevul op die vorm wat Sondae gegee word om by ons weeklikse nuusbrief en Saterdag sms’e bygevoeg te word. Daarvoor sê ons ook dankie! Daarom wil ons ALMAL van harte uitnooi om Sondag saam met ons vir ʼn uur te kom ‘DANKIE SÊ’ vir die jaar. Selfs al was jy nog nie eenkeer by ons Sondagdiens nie maar ontvang elke week hierdie nuusbrief, wil ons jou nooi om eerskomende Sondag saam met ons vir ʼn uur te kom stil word en saam ons dankbaarheid te vier vir ALLES wat ons so mildelik ontvang en dat, ten spyte van soveel goed waaroor ons soms kla of as verskonings gebruik om nie tyd met ons Self (siel) te spandeer nie, ons steeds bewus is van die naelstring wat ons met God verbind.
DANKBAARHEID ONTSLUIT DIE KRAG VAN GOD.
As ek iemand hoor sê: “I’ve lost my soul” óf “ek voel nie meer my siel nie” ... dan hoor ek:
“ek het my konneksie met die lewe verloor” ... óf... “ek dink my lewe het geen betekenis nie”
——— “ek’t my innerlike betekenis verloor” - “ek’t my verbeelding & kreatiwiteit vergeet”
i. Kom ons sê DANKIE vir alles wat ons het en dat ons altyd weer van voor kan begin
ii. Kom ons sê DANKIE vir alles wat ons al verloor het om telkemale weer gevind te word
iii. Kom ons sê DANKIE vir alles wat ons is en dat ʼn pad ons telkens raakloop wat sin maak.
Om ons te volg op Facebook "click" heelbo aan die regterkant van die bladsy op die F
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms 13 September by die Kolping Sentrum om 7pm. Kontak my as jy belangstel om saam te kom reis deur hierdie amazing boek.
Gedagte vir die Week:
“I thank God for my handicaps, for, through them, I have found myself, my work, and my God” – Helen Keller