Hierdie week se liturgie: 3_februarie_2013
Aan die einde van die eerste maand staan ons vir ʼn oomblik stil om blaas-blaas uitasem die lied wat ons onsself voorgeneem het aan die begin van dié jaar te fluit. Die melodie is haas vervloë en die meeste van ons sing reeds ʼn ander deuntjie.
Ons hou aan vra vir nog net so bietjie tyd en hou die horlosie dop. “Gee net kans, die jaar is nog jonk,” belowe ons onsself “daar is nog baie tyd om te doen wat ons graag wil doen.” Ons maak die sitplekgordel vas en kyk in die truspieëltjie. Agteruit vorentoe. Haastig-haastig vat ons ʼn nuwe-ou pad. “Skuif oor na links ek wil verbykom” brom-brom ons mensmasjien. Waarheen jaag ons? Van wat probeer ons so desperaat wegkom? Waar dink ons is die plek waar alles is waarna ons soek? As ek om my kyk en sien hoeveel mense verdwaal is in hul gemoed; hoe baie soek na geloof, hoop en liefde; weet ek nie eers meer wat die regte vrae is om te vra nie wat nog te sê wat die regte antwoorde is.
Wat ek wel weet, is dat die antwoorde nie altyd in ons verstand lê nie maar ook in die hart. Ons het ore nodig wat die hart se stem sal hoor. Hoe dikwels het ek al my vrae in gebed na God geslinger net om keer op keer te hoor: Jy verstaan nie eers jou vraag nie, hoe sal jy die antwoord verstaan. C S Lewis vra op ʼn plek: "How many hours are there in a mile? Is yellow, square or round? Probably half the questions we ask - half our great theological and metaphysical problems - are like that.” Daarom moes ek vroeg in my lewe leer dat ek kan óf afwentel in wanhoop en vra hoekom my lewenspad aanmekaar vurk tussen keuses wat my wil begrens met ogiesdraad óf kan ek dankbaar wees dat die pad ʼn lewensreis is waarin juis die vrae, sonder antwoorde, die menslike potensiaal ontsluit. Voltaire sê mos “Judge a man by his questions rather than by his answers.” Dit is daarom nie vreemd nie dat Jesus omtrent elke vraag wat aan hom gevra is, antwoord met ʼn vraag asof hy wou sê: with love there are no questions; with love there are no answers!
Daar is dae met antwoorde en dae wat vrae het. Soms is ‘tyd’ die beste ‘spieël’ en ʼn spieël die eerlikste refleksie van tyd. Waarom so ongeduldig wanneer ons ons vrae aan God verwoord of wil ons nie regtig ʼn antwoord hê nie omdat ons reeds die antwoord weet? Miskien wil ons net ʼn ‘JA’ of ‘NEE’ hoor. Ons het só baie van alles maar nie geduld nie. Ons wil alles klaargemaak hê maar het verleer om “Asseblief” en “Dankie” te sê. Hoeveel keer pleit en soebat; versoek en bedel ons vir iets en bly ons hand leeg omrede ons vergeet, ons het dit reeds! Soms hoor ons die antwoord nog voor ons die vraag kon vra asof die ganse Skepping saamspan om vir jou te sê “Ja!” of “Nie nou nie!” of “Daar is iets beter vir jou op pad!” — Ek sê nog altyd dat diegene wat vra “Hoe gaan dit met jou?” en wag vir ʼn antwoord, is ware vriende. Ons raak nie ongeduldig met die vraag óf die stilte wat wag op ʼn antwoord nie.
Kom ons praat Sondag oor die VRAE in ons GEBEDE:
GEBREEKTE TYD EN GEKRAAKTE SPIEËLS:
... wat is die vraag om te kry hoe ons dit wil hê?
Maak tyd vir jouself om met jou Self te wees
Wees eerlik met jouself as jy in die spieël kyk
Intensies wat sal kyk én sien; hoor én luister
... hoe reageer ek as ek nie kry wat ek vra nie?
Wil jy regtig weet wat om te bid en hoe om te vra? Is ons moedig en dapper genoeg om die antwoorde in die gesig te kyk en te luister?
Bring jou gebede Sondag en kom ons gaan op ons knieë, bid, staan dan op en wees die antwoord!
Onthou ACIM in die stad vanaand en môre by Kolping Sentrum!!
Gedagte vir die Week:
“For every question, there is an answer. Where everybody fails, is by asking the wrong question.” ― Richard Diaz