Hierdie week se liturgie: 7_julie_2013
Een van die wonderlikste voordele van ʼn iPad is dat ʼn mens met die Kindle App direk van Amazon boeke te koop. Een van die grootste nadele van ʼn iPad is dat ʼn mens met die Kindle App direk van Amazon boeke kan koop ;-)) Dis nét te maklik!
Nooit het ek gedink dat ek gewoond sou raak om jou vinger oor ʼn skerm te vee nie want die gevoel van papier met pen en liniaal is waarmee ek grootgeword het ... gou raak ʼn mens dit gewoond om gedeeltes in te kleur en notas te maak met kruisverwysings. So lees ek op die oomblik twee boeke van Marcus Borg — Meeting Jesus for the first time, en Reading the Bible again. Ek vind soveel aanklank by hierdie formidabele teoloog se insig. Doen jouself ʼn guns, en lees een van sy twintig boeke!
Die laaste twee Sondae het ons eers gesels oor Rut en laas Sondag oor Ester. Die rede is dat ek toenemend besef hoe sleg mense die Bybel ken. Vir my gaan om te lees en om te sien, hand-aan-hand. Om te lees verander hoe ons na die wêreld kyk, en as dit verander hoe ons na die wêreld kyk, kom daar verandering hoe ʼn mens reageer op alles wat oor ons lewenspad kom.
Weens verskeie redes het die Bybel sy aantreklikheid vir baie Christene verloor. Een daarvan is dat baie Christene ‘moeg’ geword het vir ʼn ou menu en opsoek is na nuwe menu. Niks fout met die ou menu nie maar as moderne gesofistikeerde mense is ons opsoek na ʼn nuwe relevansie in ons verhouding met God. Ek hoor dikwels dat iemand sal sê – “die Bybel oortuig my van niks” – wat natuurlik jammer is, want ook dít is vir my ʼn bewys van hoe sleg mense die Bybel ken. Dit is wel so dat die meeste van ons vermoeid geraak het met fundamentalisme en onsself distansieer van ʼn eng subjektiewe Bybelbeskouing wat ʼn projeksie is van ʼn nog enger Godsbeskouing.
Vir my is dit ewe eng om na die Bybel te gryp net wanneer jy in nood is en dan verdwaal rondblaai opsoek na ʼn antwoord van God maar die res van die tyd lê die Bybel onder ʼn stapel koerante wat die tydgees van ontnugtering weerspieël — ons glo eerder koerante as wat ons die Bybel sal glo! Al sou die boeke van die Bybel lyk soos koerante van hul tyd, is en bly die Bybel vir my die mens se antwoord op ʼn verhouding met God. Daar is bitter min verhale in die Bybel waarmee ek nie direk kan assosieer in die tyd waarin ons leef nie ... of dit die verhaal van Job of Jesaja is; die poësie van die wysheidsliteratuur (Psalms, Spreuke, Prediker); die mooiste liefdesverhale wat nog geskryf is (Jakob en Lea; Hosea en Gomer; Rut en Boas); of die metaforiese waarhede van ʼn Jona en Noag. Al sou dit verhale wees in ʼn ander tyd en kultuur, is die waarhede steeds dieselfde. As Westerlinge sukkel ons om te onderskei tussen ‘Feitlike Literatuur’ en ‘Metaforiese Verhale met ʼn waarheidselement.’ Iets kan ʼn enorme waarheid dra sonder dat dit histories feitlik is. En vir dit het ons ʼn plek Sondae waarheen ons kan gaan om hierdie verhale te ontsluit en ons aan te moedig om in die inhoud en betekenis van dié verhale, insig (waarheid) en uitsig (wysheid) te vind.
Kom ons vat dié maand een van die bekendste gedeeltes wat elke Jood en Christen ken, naamlik die TIEN GEBOOIE en ons kyk na elkeen van hierdie tien (baie kort) sinne wat ʼn refleksie is van die siel wat ʼn mens gevind het! Jy sal verbaas wees om te hoor dat die twee tafels (bene) van die Tien Gebooie het ALLES te doen met ons verhouding met God en ons verhouding met ons ewemens. Jesus som dit op deur aan te haal uit die Torah “jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en jou naaste soos jouself” — en hiermee die Goue Reël gee van: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê!
Dit gesê, is ek verstom-verbaas as ek mense vra om die Tien Gebooie op te noem, hoe die meeste êrens hakkel en stotter om dit bymekaar te kry. Omtrent niemand weet dat daar drie weergawes van die Tien Gebooie in die Ou Testament is en dat hulle van mekaar verskil nie. Maar ek kan jou belowe dat as jy saam met ons hierdie ‘lemoen’ skil, sal dit vir jou ʼn hele nuwe, ander, betekenis ontsluit. Nooit weer sal jy twyfel wat die merkwaardigheid van dié Tien Leefreëls is nie want dit gaan nie oor Commandments nie, maar oor Commitments. Exodus 20 is ʼn geloofsbelydenis, ʼn credo, ʼn leefwyse (a way of life).
Die vierde leefreël sê: eer die Sabbat! — meer as wat die mens die Sabbat hou, hou die Sabbat die mens. Dit is ʼn dag waarin die mens sy menswaardigheid onthou en aan sy/haar ewemens, waardigheid gee. Dit is een dag wat anders is as die res. Dit is die dag waarop die mens sy ritme en balans (weer) vind. Kom ons begin ʼn nuwe maand deur ʼn uur opsy te sit om dít te onthou ... en na die tyd eet ons lekker saam aan ons lang tafel.
Ons begin na die skoolvakansie weer met ACIM.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
In U is elke keuse reeds gemaak. In U is elke konflik reeds opgelos. In U is alles waarvoor ek hoop reeds aan my gegee.
U vrede is my vrede. My hart is stil en my gedagtes rus in U. U liefde is my hemel, en U liefde is my liefde.
― Les 286 [ACIM] Die stilte van die Hemele, hou vandag my hart.