Hierdie week se liturgie: 15_september_2013
Voor ons met vandag se nuusbrief begin, net eers twee of drie belangrike datums om te onderstreep:
· Eerskomende Saterdag 14 September 09h00 is ek gasspreker by ʼn Damesoggend ten bate van die Alta du Toit Sentrum by die Barnyard (Willowbridge). Dit is ʼn heerlike oggend met musiek en gesprek deur ander kunstenaars en ek gaan gesels oor die aangrypende verhaal van Rut. Jy kan kaartjies, of sommer ʼn tafel, vir jou en vriende bespreek by Marietjie 021.913.2106
· Saterdag 5 Oktober van 9h00 tot 1pm bied ek weer ʼn werkswinkel aan oor die “GESKIEDENIS VAN DIE BYBEL” by Kolping en gaan jou met die hulp van uitdeelstukke op ʼn reis vat van Abraham ±1500BC tot by Konstantyn 325AC. Daar gaan in detail gekyk word hoe die Bybelverhale inmekaar gevloei het tot en met Christus asook vertel en verduidelik wat die invloed van die Egiptiese, Kanaänitiese, Babiloniese, Griekse, en Romeinse godsdienste op die vorm en inhoud van Judaïsme was. Vir eens en vir altyd sal jy verstaan waarom dié boeke so merkwaardig is en waarom die invloed daarvan deur drie van die hoof godsdienste geëer en respekteer word. Maak ʼn kring om die datum en ek sal later die kostes en ander detail deurgee.
· MAAR — eerskomende Sondag is Neo-Spektrum twee jaar oud! Ons gaan dit op ʼn gepaste manier vier. Oud en jonk word uitgenooi om Sondag 10h00 die kapel te kom volmaak vir ʼn uur van dankie-sê en na liggaam en gees gevoed word met harte wat oorloop van dankbaarheid en waardering.
Een van die belangrikste spirituele beginsels waarvolgens ek leef is die volgende: Thankfulness Releases the Power of God! Ek glo dit met my hele hart. Dit beteken nie dat as jy dankie sê dan doen God iets nie ... dis wanneer ons dankie sê dat ons vir die eerste keer fokus op al die seëninge wat die hele tyd daar is. Ja, ons sê baie keer dankie maar selde skuif dit ons intensie – en dis reeds waaroor dié maand gaan: The Power of Intention! Wanneer ons intensies skuif na dankbaarheid is dit as te ware of ʼn ligskakelaar aangaan. Dan skuif al ons neediness & expectations in ruil vir ʼn baie groter bewuswording — hoe ʼn veel groter Krag in en deur ons vloei. Dit is nou maar eenmaal so dat hoe hoër my misplaasde verwagtinge hoe minder (kleiner) my dankbaarheid.
Ons etos word in sewe punte verwoord en kom ons staan Sondag by elkeen vir ʼn oomblik stil en dan gee ons geleentheid om in die stilte van ons mooi aanbiddingsplek dankie te sê vir die oorvloed wat ons het. Vir die toewyding en entoesiasme en kwaliteit van mense wat deurleef hul eie wysheid (insig) en waarheid (uitsig) deel. In hierdie sewe riglyne loop ʼn pad ons raak en het vir ons ʼn sonsopkoms van hoop en ʼn volmaan van geloof geword het in tye toe ons met net ons liefde gewag het op ʼn nuwe dag, ʼn nuwe geleentheid, ʼn nuwe seisoen. Daardie dag, daardie geleentheid, daardie seisoen is vandag!
Hier erken ons dat die KRAG wat in ons is nie van ons is nie
Hier ontmoet ons ’n God wat LEWE en LIEFDE is
Hier laat ons ’n GELOOFWAARDIGE stem hoor
Hier word alle mense MENSWAARDIG behandel
Hier is ruimte vir ANDERSDENKENDES
Hier gee ʼn wysheidsirkel aan elkeen ʼn STEM
Hier is geen VERWYDERING of VEROORDELING nie
Daar gaan ʼn mooi geskenk oorhandig word vanaf Neo-Spektrum aan die Kolping Sentrum om ʼn blywende plek in die kapel te vind en saam gaan ons brood breek en die wyn deel.
Dit is ook die 17de September reeds drie jaar na my hartaanval en hartomlynings en daarom sal ek ook persoonlik eerskomende Sondag saam met elkeen van julle dankie wil sê vir gesondheid en die voorreg wat dit is om in jul diens te staan.
Hoop om jul elkeen daar te sien.
== ACIM leeswerk -- Marianne Williamson se boek “The Gift of Change” – Chapter Four: From anxiety to atonement.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredesverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet” — Jesaja 54:10