“Light is not so much what you directly see
as that by which you see everything else.”
— Richard Rohr, ‘The Universal Christ’
Wat Fr Richard hier sê oor LIG is ook waar van water. Ons is nie elke dag bewus van die FONTEIN nie en tog sal niks om ons bestaan as dit nie vir water is nie. Geen kos om te eet as die reën nie ons vrugte en groente vind nie; geen muur in jou huis of teëls op jou dak kan gemaak word; nie die klere wat jy aan het of die elektrisiteit in jou huis sal bestaan as dit nie vir water is nie ... daar sal nie eers bome vir suurstof wees nie.
Water is onontbeerlik vir elke vorm van lewe op dié planeet. Water is LEWE ... en die fonteine is die slagare na die hartklop van ons bestaan.
Ons sit ons gesprek voort oor — DIE FONTEIN VAN LEWE — en onderstreep weer ons mantra vir die maand:
“From the river of your delight You give them to drink;
for with You is the fountain of life; in Your light we see light.”
— Psalm 36:8
Vra jouself: waarna verwys Jesus as hy sê, “... the water that I shall give him shall become in him a well of water springing up unto eternal life” (Johannes 4:14) en waarvan praat hy as hy ons uitnooi, “... as enige iemand dors is, laat hy na my toe kom en drink” (Johannes 7:37) of as die skrywer van Openbaring sê, “And he showed me a river of water of life, bright as crystal, proceeding out of the throne of God and of the Lamb ... (Openbaring 22:1 en dan vers 6) ... to the thirsty I will freely give from the fountain of the water of life.”
In ons verstaan van die drie maniere waarop God homself openbaar, is God die water en Jesus die fontein terwyl die Heilige Gees die krag van die water is wat ons voed en die gravitasie wat die water laat vloei na ons landerye.
Vir die skrywer van Johannes Evangelie staan die “ek is die water van die lewe” en “ek is die brood van die lewe” as die twee hande wat ons dors les en ons honger versadig. Dit word elke gelowige se gebed — “Gee dat ek die water en brood van die lewe sal word vir elkeen wat my pad kruis en saam met my reis.”
Beide water en brood word in die Bybel gebruik as metafore — dit gaan oor ons geestelike dors en spirituele honger. In Johannes 4 gaan dit oor Jesus wat die Samaritaanse vrou by die put ontmoet. As hy praat van haar ‘dors’ dan sit hy sy vinger op haar skuldgevoel, skaamte, en sonde dat sy by haar vyfde man is en daardie man is eintlik ʼn ander vrou se man. Wanneer hy in Johannes 6 met vyf-duisend mense voor hom sit wat ‘honger’ is en hulle kos gee met ʼn seuntjie se lunch-box dan gaan dit oor die menigte wat hul honger probeer voed met wette en rituele, materiële en fisiese genoegens.
Die eerste ‘inkarnasie’ van LEWE (i.e God) was ± 14 biljoen jaar gelede wat begin het met, “Laat daar LIG wees” en toe die echo van die een wat uitroep, “Ek is die LIG van die wêreld.”
Baie Christene glo dat God na die wêreld gekom het deur Jesus. Dis nie waar nie — God was/is die hele tyd hier. Trouens, die aarde is deurdrenk van God. In alles wat lewe is die Groot Misterie sigbaar. Self in ʼn dooie logge klip is biljoene elektrone sigbaar. Vir my as Christen is dit wel waar dat in Jesus kon die mens die eerste keer sien wat dit beteken om as beeld van God, in die gelykenis van God te leef. Jesus is gebore in ʼn reeds Christus-deurweekte wêreld.
Al wat dit van ons vra is om die water te drink en die brood te eet ... sodat ons die water en brood sal word. In ʼn wêreld wat leef op McDonalds en Coke Cola is daar min aptyt vir hierdie Fontein se water en die brood wat hierdie water gee. Miskien is ons bang dit vat die plesier van ʼn hamburger en die tonic water van ons gin weg.
Ons is slawe van ons begeertes, en slawe van ons behoeftes en verwagtinge. Ons dors en honger skree ten hemele maar ons hou krampagtig vas aan dit wat nie voed of versadig nie. Dit is seker die grootste les van 2020. Vir my het Covid-19 soveel seëninge gebring waarvan die grootste is om weer my Fontein te ontdek, en weer dankie te sê vir my daaglikse brood.
Ek kry hier pragtige stuk al die pad uit Valparaíso in Chili van iemand wat elke week ons ‘Broodjie’ saam lees en dit vir ons uit Spaans vertaal het —
Maak hierdie week ʼn daadwerklike poging om die Water en Brood van LEWE te word vir jou gesin, jou vriendekring, jou kollegas en self ʼn vreemdeling. Wees moedig om te kan sê, “Ek het dors, ek het honger” en kom na die Water toe om te drink, neem die Brood in jou hande en eet.
Kom gesels Sondag saam as ons vir mekaar vra hoe hierdie Fontein werk in die praktyk — waar en hoe drink ons as ons besigheid en inkomste in onsekerheid verval; wat se verskil maak die Fontein as my huwelik op die rotse of my familie in konflik met mekaar is; en hoe maak ons seker dat storms nie ons Fontein wegspoel of vertroebel nie?
Kom ons sien God in ons eie realiteit. Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Met liefde
Sondae eredienste om 10 vm in die Kapel van Kolping
Ons doen nie meer besprekings nie.
en dit is first-come-first-served ... ALMAL is welkom.
Ons vra wel dat jy steeds met 'n masker sal kom,
steeds afstand hou, en steeds hande was.