13 April 2014

Hierdie week se liturgie: 13_april_2014

Net die een en ander belangrike datums om te onderstreep ... eerskomende Sondag na die diens vind Neo-Spektrum se eerste Algemene Vergadering plaas by die Kolping Sentrum. Ons wil graag ʼn beroep doen op almal wat reeds aangesluit het as lede van ons amptelike struktuur om dit by te woon. Skakel asseblief vir Riaan Neethling by riaan.neethling@gmail.com vir meer inligting asook om aan te dui dat jy daar sal wees. Dit sal ons almal se harte mooi maak as ons almal saam kan besin oor ons beplanning vir die toekoms. Dan is dit oor ʼn week Paasnaweek en Vrydag 18 April om 9h00 het ons ʼn Goeie Vrydag Diens en die Sondag (gewone tyd 10h00) vier ons Paasfees saam.
Dit is juis ons tema vir die maand — VAN KRUISIGING NA OPSTANDING — om Paasfees 2014 nie om te blaai as net ʼn langnaweek nie, maar om sin en betekenis te vind in wat dit vir ons beteken. Dit gaan uiteraard oor veel meer as ʼn histories feitlike gebeure want ‘sterf-en-opstaan’ is iets wat die meeste van ons een of ander tyd in ons lewe deurgaan. Inderdaad lê die inhoud van die gebeure verby dorings, swepe, en spykers. In essensie staan die kruis as ʼn simbool van LEWE — hoe wens ek dat ons as mens die mite in ons kop oor dood wil verruil vir die Groot Gedagte van hoe Lewe in alles, deur alles, vir altyd vloei. Miskien as ons dít besef sal ons meer sensitief wees met ons eie lewe en ʼn groter respek (reverence) hê vir lewe in die algemeen.
Soos ʼn plakkaat op iemand se Facebook sê — “Imagine if trees gave off WiFi signals. We’d probably plant so many trees we’d save the planet. Too bad they only produce the air (oxygen) we breathe.”
Hoe dikwels vra mense, “wat beteken die dood van Jesus aan die kruis want as dit vir ‘sonde’ was, waarom lyk die wêreld soos dit lyk?” Die enigste plek waar ons in die Bybel die woorde lees, “Christus het vir ons sonde gesterf” is in 1 Korintiërs 15:3 en Paulus praat hier baie spesifiek van homself. Wat Jesus self sê, is dat hy in sy dood ons met mekaar (Jood en Nie-Jood) en ons met God versoen. Hy sê oor en oor dat die kruis die simbool word van vergiffenis, liefde en lewe. Lees weer sy roerende gebed in Johannes 17 kort voor hy in hegtenis geneem is ...
Die “sonde” waarvoor Jesus sterf is die idee dat daar ʼn verwydering (separation) bestaan tussen mens teenoor mens, en tussen ons en God. Ons “sonde” is die selfkruisiging van skuldgevoelens en vrees. Die “sonde” van liefdeloosheid en ʼn gesindheid van onvergewensgesindheid. In die dood van Jesus weerklink ʼn ewige roepstem dat daar géén verwydering bestaan nie. Dit eggo in die ligstrale van ʼn ewigheid dat daar vir die idee van skuld, is daar vergiffenis; vir die verminkende kanker van vrees, is daar onvoorwaardelike liefde.
As ons dan na woorde vir respek, waardering, en aanbidding soek, kom ons word eerskomende Sondag stil rondom ʼn paar verse van ʼn man wat in die tronk sit vir sy geloof en weet dit is net ʼn kwessie van tyd voor hyself aan ʼn kruis vasgespyker word. Deur die tralies van ʼn sel kyk hy na Romeinse soldate met die oë van die Een wat hy vrymoedig noem, my Here en my God!
Vir ʼn oomblik lees ons hierdie woorde sonder vooroordeel, sonder agterdog, sonder allerlei tekskritiek of gelaaide teologie – en hoor dié
geloofsbelydenis — “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap 
      afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te 
      maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die
      vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir
      julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die  
     Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle
      is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit
      die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.”
(Efesiërs 2:14-22)
Kom ons word Sondag stil in die lees van hierdie paar verse en dan vra ons onsself of hierdie Paasfees vir ons dié geskenk van VREDE kan bring? Ons beweeg verby die wettisisme van gebooie en teologie en neem hierdie VREDE in albei ons hande en sê, “DANKIE!” vir ʼn oomblik in ons jaar waar ons as Christene ons Yom Kippur (Dag van Versoening) vier.
Die “gebou” waarvan Paulus hier praat, vind ook ʼn refleksie in die “fondamente” van Neo-Spektrum. Die “hoeksteen” van Neo-Spektrum is en sal altyd Jesus Christus wees. ʼn Ronde kapel met sirkels stoele het ons “heilige tempel” geword waar ons nie net VREDE kom skep nie, maar waar ons dit saamvat na elke aspek van ons daaglikse lewe. Die dag as ons dit nie meer kan sê nie, is die dag wat ons die laaste boom afkap en snikkend roep na die laaste blaar se asem.
Op ʼn vreemde manier het die Katolieke Kerk sy deure vir ons geopen om ʼn plek van aanbidding te hê en op ʼn tasbare manier is ons deel van die “geestelike huis waarin God woon.” En dit maak ʼn verskil ...

>>>> ACIM BEGIN WEER NA DIE PAASNAWEEK — 24 April 2014 om 19h00 by Kolping en dit gaan ʼn OOPGESPREK wees om die formaat en inhoud van ons volgende blok te bespreek.

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.

Gedagte vir die Week:
“Darkness cannot drive out darkness: only light can do that. Hate cannot drive out hate: only love can do that.” ― Martin Luther King Jr

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights