5 Oktober 2014

Hierdie week se liturgie: 5_oktober_2014

>>> Eerskomende Sondag sê ons DANKIE vir drie jaar se seëninge by Neo-Spektrum! Bring ʼn bottel wyn of champagne en ʼn bordjie eetgoed of koek saam en dan kuier ons na die tyd lekker saam en deel ons met mekaar ons dankbaarheid en waardering.
Anders as ander ‘dominees’ wat iets rêrig spiritueel doen met verlof of ʼn sabbatical soos om die Camino de Santiago te gaan stap of tyd te spandeer in die Taizé gemeenskap in Frankryk vir ʼn diep spirituele herlewing (wat amazing klink) was dit helaas nie wat ek met my vakansie gedoen het nie ... ek het gestap en gesweet en geskryf en vreemde kos probeer in strate wat se name ek nie eers kan uitspreek nie en gulsig my sintuie verlustig aan die argitektuur en kultuur van stede vêr van hier. Die enigste kerke wat ek besoek het was die klein weggesteekte kapel in Begijnhof Amsterdam waar ek ʼn kersie aangesteek en gekniel het terwyl die Sagrada Família in Barcelona my so oorweldig het dat ek ʼn paar dae later eers tot verhaal gekom het in die kleiner Santa Maria del Mar waar ek weer ʼn kersie aangesteek en gekniel het.
Daar was geen behoefte om enige iets Teologies of Spiritueel te lees nie. Een aand, toe ek toevallig die Font del Geni Català (Fountain of Catalan Genius) in Barcelona raakloop, het ek oorgegee aan die muse om vrylik in en deur my te vloei. Skielik, sonder enige verwagting of aankondiging het ink begin woorde vind wat uit my pen gerol het oor die strepies papier van my dagboek ... dit was nie vreemd dat die oorheersende emosie wat dié fontein sou ontsluit die gevoel van ‘dankbaarheid en waardering’ was nie waarna ek elke dag daarna ʼn bladsy sou wy om vyf of meer ‘gratitudes’ neer te skryf — nie net die voorreg om te kan reis nie maar ook kennelike bewus wees van God se teenwoordigheid wat nog altyd my padkos en reiskaarte was/is. Om een of ander rede het die woorde van Jesus in my oorgeloop langs daardie fontein, “Strome lewende water sal uit jou binneste vloei” en van toe af was daar geen keer nie. Dit sou die hartklop van elke dag en nag daarna word en daarom het ek besluit om dit ook ons tema vir Oktober, die mooiste mooiste maand, te maak — Jesus wat Jesaja 58:11 aanhaal in Johannes 7:32, “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
“STROME LEWENDE WATER” – is natuurlik ʼn metafoor vir alles wat helend en verfrissend; skeppend en inspirerend; opbouend en lewegewend is. Ek kan aan meer as ʼn dosyn sulke strome dink ... compassion sou beslis een wees; geloof gevolg deur kreatiwiteit sou mens ook nie kan mis nie; vergiffenis en versoening nog twee; celebration en blydskap sal beslis ook in- en uitlope wees; en dan is vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing ook sytakke wat die één hoofstroom voed wat in en deur ons vloei naamlik LIEFDE.
Die een ding wat so vakansie vir ʼn mens bring, is tyd om te dink ... daar is nie skerms of móét-doen nie, selfs tyd verloor tyd. In Amsterdam stap ek weer in die spore van plekke waar ek gebly, geëet, gelag, geverlang het toe ek daar gewoon het. Nostalgiese besoeke wat klanke en kleure uit jou geheue oproep om opnuut te besef hoe diep my liefde vir hierdie stad van water en fietse lê. In Prinsengracht stap ek verby die ‘De Duif Kerk’ wat nou ʼn ouditorium is vir musiekkonserte waar die Katolieke prediker Jos Brink dienste gehou en ʼn boodskap in jou gehammer het om dit nooit te vergeet nie en skielik onthou ek ʼn preek van hom wat hy gedoen het oor, “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.” (1 Johannes 4:12) en 24 jaar later kan ek dit soos gister onthou dat ek daar uitgestap het en vir die eerste keer besef het dat waar ons mekaar liefhet, sien die wêreld God. In watter fakulteit van die brein word dié onthou gebêre?
In Parys stap ek verby die Saint-Germain-des-Prés kerkie en gaan sit oorkant by die Les Deux Magots kafee. Dié kerkie is die oudste in Parys en is in 512AD (jip, jy lees reg!) deur St Germain gebou. Terwyl ek die dag in my dagboek opsom en die gratis WiFi van die kafee gebruik om met die huis te gesels, onthou ek een Oukersaand wat ek in dié stampvol kerkie was (ek was nie lus om in die ysige koue in ʼn tou te staan vir die Notre Dame nie) en alhoewel ek nie ʼn woord Frans kon verstaan nie kon ek tog die laaste Benediction in Latyn volg wat gesê het, “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Efesiërs 3:18-19) Alhoewel ek daardie Oukersaand alleen in ʼn vreemde land en stad was, was daar iets in dié woorde wat my die gevoel van behoort gegee het. Ek was deel van daardie, “saam met al die gelowiges ...” en op ʼn swoel warm herfsdag in September 2014 stroom die herinnering terug.

So 170km noord van Barcelona lê die klein vissersdorpie Cadaqués aan die Costa Brava baai wat die tuiste was van Salvador Dali asook die kuierplek van onder andere Picasso en Joan Miró. Hoog bo teen die heuwel van die prentjie-mooi dorpie is die St Mary kerkie wat al om die uur vir jou sê hoe laat dit is. Een middag vat ek die kronkel paadjie op na die kerkie en tot my teleurstelling is dit gesluit – lyk my selfs kerke vat ʼn siësta in Spanje – op pad af stop ek vir ʼn bier in ʼn steeg waar my arms albei kante van die paadjie se mure kan raak. In my dagboek probeer ek die drie dae in die vissersdorpie opsom ... my gedagtes raak verstrengel in ink en prentjies en kiekies op my foon wat my moet help onthou ... en toe skryf ek die woorde neer van seker een van die heel mooiste verse wat ek ken, “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38-39). Miskien klink dit oordrewe vroom of dalk net oordadig sentimenteel maar in daardie oomblik het alles wat ek gesien en beleef het tot op daardie punt bymekaar gekom in die besef — ek hoef nie die hele tyd aan God te dink nie, ek hoef nie elke dag te bid nie, die kerkie se deure mag maar gesluit wees ... niks en niemand kan my ooit van die liefde van God skei nie! Selfs al verstaan ons nie mekaar se taal nie het ons almal één ding in gemeen: ons wil weet dat daar ʼn liefde is waarin ons kan dans ... want elke keer as ek dié vers onthou dan gebeur daar iets met my hart en daardie middag in Cadaqués het ek vir die eerste keer in my lewe besef dat ek so hard probeer om iets te doen wat nie eers Jesus probeer doen het nie en dit is om die ‘Liefde van God’ te probeer verduidelik want dit kan ek net so min doen as om te probeer verduidelik hoe ruik die kleur blou. Jesus het gepraat in metafore en gelykenisse in alles wat Hy om hom gesien het en dit was presies wat ek om my gesien het in Cadaqués — vissersnette, brood, wyn en olyfbome! — en met dit die ‘Liefde van God’ as volg vir myself verwoord ...
·         Die liefde van God is soos om ʼn trok te huur (én te betaal) vir iemand wat pas geskei is en na ʼn ander huis moet trek.
·         Die liefde van God is soos om jouself aan te meld om eenmaal per week ʼn bejaarde sonder motor te neem vir inkompies.
·         Die liefde van God is soos om tyd te maak vir jou kinders om na hul musiek, stories, voor- en afkeure, vrese en drome te luister.
·         Die liefde van God is soos om eenmaal per maand jou tafel te dek en iemand wat jy nie ken nie in ons gemeente te nooi vir ete.
·         Die liefde van God is soos om iemand wat hul man/vrou voltyds versorg ʼn aand af te gee om te gaan fliek of teater terwyl jy ʼn uur of drie na hul
geliefde kyk.
Want ja, ek is oortuig dat nie die dood of lewe, nie vakansies of sabbaticals, nie ouers wat geskei of ouers wat vergeet het wat dit is om mekaar en hulle kinders lief te hê, nie die spanning om te wag vir ʼn mediese diagnose, nie ʼn egskeiding of ʼn drug rehab, nie goed in die verlede of toekoms, of enige iets anders kan ons van die Liefde van God skei nie.
Kom ons begin die nuwe maand met ʼn Celebration of Thankfulness en dan sê ons Sondag dankie vir die oorvloed van seëninge wat ons deel by Neo-Spektrum terwyl ons sing — “Die liefde van God is strome lewende water wat uit ons binneste vloei”

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.

Gedagte vir die Week:
“God is willing to walk the earth again and again, incarnate in us.” ― Eugenia Price  

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights