30 November 2014

Hierdie week se liturgie: 30_november_2014

Die laaste vier weke het ons verskillende aspekte van ons Spiritualiteit bespreek. Saam met die heerlike konferensie wat ons aangebied het, is verskillende temas oor ons Spiritualiteit verken. Dit was ʼn verrykkende reis wat so in beseringstyd van die jaar ons weer inspireer en motiveer om die laaste maand van die jaar in te gaan met geloof, hoop, en liefde vir die jaar wat voorlê. Ons het stilgestaan by vrae oor wat Spiritualiteit beteken en antwoorde hoe om dit elke dag te leef; ons het gesê dat Spiritualiteit is ʼn stuurwiel en nie ʼn spaarwiel nie; toe het ons gepraat oor Spiritualiteit en ons interpersoonlike verhoudings; en laas week het ons gesels oor die balans tussen gedagtes (kop), gevoel (hart), en ervaring (lyf) wat spiritualiteit bring as ons net weer die oeroue waarheid sal ontdek/ontgin van wat stiltetyd beteken.

Eerskomende Sondag gaan ons afsluit met die tema: SPIRITUALITEIT EN IDENTITEIT — en soos laas Sondag belowe gaan ons die vyf hoof Godsdienste bespreek en ʼn kort opsomming gee oor elkeen se onstaan en wat hul verstaan van die ‘Godheid’ is; wat dit ingemeen het en waar dit verskil sonder om veroordelend te wees of te dink ‘ons is reg’ en ‘hulle is verkeerd’ ... ons gaan kyk na ʼn samevatting van wat elkeen lees/leer, en wat die toepassing van elkeen is om aan die einde ʼn samevatting te gee wat ons Spirituele Identiteit is as ons na onsself verwys as Christene. In die verstaan van die HindoeïsmeBoeddhismeJudaïsme, en Islam is daar ook ʼn spieël om ons Christelike Identiteit te herken, erken, ken.

Die vraag oor IDENTITEIT is ʼn komplekse vraag wat filosowe, sielkundiges, teoloë, sosioloë en onderwysers al vir eeue laat kopkrap. Soos al dikwels gesê, is daar net één belangrike vraag in die lewe en dit is, “Wie is ek?” Die vraag oor identiteit vra, hoe weet jy wat jy is, wat jy wil hê/wees, waarheen jy op pad is, wat die essensie van jou lewe is? Dit sou onmoontlik wees om in een uur op ʼn Sondag dié vrae te beantwoord maar ons kan wel ʼn raamwerk gee van waar die mens vandaan kom en om te verstaan wat ons glo en waarom ons glo wat ons glo. Daarbinne lê ook perspektief en perspektief gee konteks en konteks gee insig/uitsig.

As ek dink oor die vraag na identiteit dan dink ek altyd aan Oscar Wilde se sêding, “Most people are other people. Their thoughts are someone else's opinions, their lives a mimicry, their passions a quotation.” Dis maklik om te sê, ek is 'n vry mens met 'n onafhanklike wil ... die vraag is, is jy of het ons net vryheid as almal om ons ook vryheid het? Ja, ons doen net wat ons wil, maar dit beteken nie dat ons 'wil' nie die wil van ander om ons konsidereer nie en wanneer dit in balans en harmonie is met die WIL (splendour, delight, desire) van God, dan verander (beïnvloed) dit ook ons wil direk.

Dit was nog altyd makliker om te ontken wie ons is as om te erken wie ons nie is nie. Ons weet WAT ons is, maar het géén idee wat ons kan WEES nie — en dis in hierdie potensiaal van moontlikhede waarin ons Spiritualiteit ons lei en begelei. Want sien, 'identiteit' het niks te doen met my geslag, godsdiens, sosiale status, seksuele oriëntasie, of IQ nie. Dis pretensieus om iemand voor te stel en te sê, “ontmoet Piet, hy is 'n kardioloog” of “dit is Anna en sy bly in die mooiste huis in Tamboerskool” want dit sê niks van wie Piet of Anna is nie. Maar as ons sê, “dit is Piet wat altyd tyd het vir iemand anders en hy is getroud met Anna wat my geleer het wat vergiffenis werklik beteken” dan raak ons aan wie hierdie twee mense in hul wese is.

Mahatma Gandhi (ʼn Hindoe) het gesê, “The best way to find yourself is to lose yourself in the service of others” ― en dit raak ook aan die hart van die Christelike Spiritualiteit wat Ubuntu ons leer. Maar (en dis ʼn versigtige ‘maar’) baie mense dink omrede hulle aan 'n groep (geloof, kerk, denominasie, gemeente) behoort, is hul okay. Die 'groep' word hul identiteit en solank ek ʼn 'groepie' is, is ek okay. Die verskil is dat uit ons Spiritualiteit (verhouding met God) word die sirkel van mense vir wie ons lief is groter as die dampkring van net hulle wat familie en vriende is; hulle met wie dit maklik en gerieflik is; waar en solank dit geleë is. Albert Einstein het gesê, “We experience ourselves our thoughts and feelings as something separate from the rest. A kind of optical delusion of consciousness. This delusion is a kind of prison for us, restricting us to our personal desires and to affection for a few persons nearest to us.”

Elke dag kry ek Fr Richard Rohr se dagstukkie en wat ʼn sinchronisiteit dat vandag sin sê — “Your True Self is who you are, and always have been in God, and at its core it is love itself. Love is both who you are and who you are still becoming, like a sunflower seed that becomes its own sunflower. Most of human history has called the True Self your ‘soul’ or ‘your participation in the eternal life of God’ … you are love becoming love.”

Is die verhaal (inhoud én betekenis) van elke godsdiens nie maar die soek van die mens na identiteit nie? In die narratief van elke Godsbeskouing lê daar tog ʼn ryk kultuur-historiese agtergrond van die mens se eie verhaal van verdwaal en gevind; van verwydering en versoening; van ontkenning na ken (knowing) en van knowing na waarheid en van waarheid na wysheid. In die spore van elke godsdiens lê ook ons spore. Die verhaal van ʼn Indiër Hindoe of die Boeddhisme van ʼn Tibettaanse monnik is ook my verhaal in Christus. Die spore van die mens se soek na identiteit vat ons altyd na die Oase van ons Oorsprong — daar waar die mens as beeld van God, gemaak van God, hom/haarself vind in beskrywings soos – splendour, desire, delight, tenderness, kindness, love and grace of God through Christ! Ons los tog iets van onsself agter as ons op 'n plek was. Iets bly daar wat ons weer vind as ons teruggaan soontoe. Dieselfde met God, niks gaan weg nét omdat ons weg is/was nie, en Spiritualiteit is daardie herinnering wie ons werklik is en waar ons nog altyd behoort het.

Om die storie van Jesus te ken, maak nie van ons ʼn Christen nie. Dit gaan daaroor om IN Christus, soos Christus, ʼn Messias te word/wees vir elkeen wat ons pad kruis deur in ʼn verhouding met onsself te staan sodat die wêreld om ons die Liefde van God sal sien en ervaar. Dít lyk vir my is ons ware identiteit — when I know who I am, I will be a reflection of the great ‘I AM’. When I know who I am through you, I discover grace. Vertel my wat jy liefhet en ek sal vir jou sê wie jy is.
BOEKGROEP KENNISGEWING: Dr. Rudi Labuschagne sluit dié jaar se boekgroep af en praat oor die boek ‘Change your thoughts. Change your life. Living the Wisdom of Tao’ deur Wayne Dyer. 18h30 Maandag 1 Desember by Leonie van Heerden, 22 Alpha Straat, Brackenfell. Skakel Leonie 082.759.80.86 vir meer inligting.

>>> ACIM Kolping: Ons sluit môreaand die jaar af met ʼn samevatting oor als wat ons gelees/leer het.

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting

Gedagte vir die Week:
“Treat everyone you meet as if they were you.” ― Doug Dillon

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights