Sondagdiens
12 Januarie 2020

Hierdie week se liturgie: 12 Januarie 2020
Volspoed die nuwe jaar in — gevul met optimisme en oorloop entoesiasme.
Met ywer en geesdrif gaan ons die geleenthede en potensiaal hengel om van 2020 ʼn goeie, beter, beste jaar te maak en daarom ons tema vir dié maand — KEUSES EN BESLUITE. Dit vra dat ons ʼn intellektuele, emosionele, en spirituele skuif sal maak van ego-denke na siel-denke. Wat is ego-denke ...? Dis die slaggate van obsessies, projeksies, vrees, agterdog, skuldgevoelens, skaamte, en verleë in ons selfbeeld en selfwaarde. Wat is siel-denke ...? Dis die brood van vergiffenis, versoening, liefde, aanvaarding, medemenslikheid, omgee, erbarming (compassion) as ʼn refleksie van God as ʼn herinnering dat ons in die gelykenis, as beeld van God geskape is.
Elke Nuwejaar, soos elke geboortedagviering, is geskryf in die belofte van Jesaja 43:18-19 — “Forget the former things; do not dwell on the past. See, I am doing a new thing! Now it springs up; do you not perceive it? I am making a way in the wilderness and streams in the wasteland.” Met dit in ons knapsak loop ons die jaar tegemoet en het laas week begin met ʼn paar gedagtes/verandering om te verken ...
... laat los die beheptheid met wat ander mense dink; die leuen dat ons nie-goed-genoeg-is-nie; die naywer om die heeltyd reg, die beste, die belangrikste te wil wees; die krampagtige vasklou aan gisters asof dit môre anders gaan uitspeel, en die bagasie wat ons saamsleep met ʼn oor-romantisering van dit wat ons dink ons het ‘verloor’ asof dit enige betekenis nog vandag het. Laat los — let it go, let it be, forgive and move on!
Dit bring ons by dié week se handvol keuses vir ʼn nuwe jaar se besluite:
- Ons verstik aan al die gedagtes oor goed wat ons nie het nie — ons glo as ons net dit of dat het, dan sal ons gelukkig wees. Die probleem is: as ons dit het, dan soek ons dat ... as ons daar is, wil ons hier wees. Dis nie vreemd dat selfs Jesus hierteen waarsku as hy sê, “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” (Lukas 12:15) Op ʼn ander plek vra ʼn jongman wat moet hy doen om ‘ryk by God te wees’ en dan antwoord Jesus hom — “gaan verkoop die goed wat jou besit ...” (Matteus 19:21)
- Almal van ons het ʼn onheilige vrees vir mislukking — in die stryd om die hele tyd te ‘wen’ omdat ons só bang is vir vernedering, verwerping, en verloor raak ons verdwaal in die doolhof van nie meer weet wie ons is, waar ons vandaan kom, en waarheen ons op pad is nie. The Fear of Failure verblind ons vir enige vorm van groei. Ons vergeet dat gister se mislukking is vandag se groei. Ons staan op. Ons probeer weer. Ons val. Ons probeer beter. Ons leer die les en die ervaring word die vrugbare grond vir ʼn oes wat ʼn veel dieper honger sal voed. Denzel Washington sê sy pa het altyd vir hom gesê, “Fall forward” — moenie dat enige iets jou stuit om verleenthede te sien as geleenthede vir groei nie.
- Hou op uitstel — die boeie van ‘procrastination and delay’ wat ons gevange hou in die tronk van spyt en selfverwyt. Ons voel gou jammer vir onsself (victim mentality) terwyl ons ander die skuld gee (blame-game) vir ons selfopgelegde gevangenis. Natuurlik is ons nie altyd in beheer van wat gebeur nie, maar ons het verseker die krag/mag om te kies hoe ons daarop gaan reageer. Die spreuk: van uitstel kom afstel — is baie waar. Daarom glo ek die gevaarlikste woord is ‘UITSTEL’ ... ʼn duisend keer per dag moet ʼn mens waaksaam wees teen gedagtes wat sê, “LATER!” want wat is spyt anders as ʼn ‘later’ wat nooit gekom het nie?
- Bostaande sluit aan by die genadelose geknaag van regrets — ons ken hierdie jakkalsies wat die wingerd vernietig baie goed. Soos reeds genoem, klou ons vas aan die herinneringe van wat was. Ek is gebore met nostalgie en as ʼn Maanbeer het ek ʼn goedere trein wat ek saamsleep met joernale oor verlang. All the ‘what ifs ...’ wat ons soos die ou Prediker se Klaagliedere op die hart dra. Maar nie meer nie! Ja, ek verlang soms, en soms meer as soms — but I have no more regrets. Ja, berou (remorse) is eerliker as spyt (regret), maar ek laat nie meer toe dat dit my aksies en reaksies beïnvloed nie.
- Kry ʼn groter perspektief — gee so tree of twee terug, want niemand kan die prentjie van die skildery sien as jy met jou neus teen die verfdoek staan nie. Hiermee help vriende en familie baie as hulle jou herinner aan die groter prentjie van ons omstandighede en dat ʼn bepaalde situasie of episode in jou lewe is nie jou lewe, en jou altyd nie. Gebed en meditasie gee insig (waarheid) en uitsig (wysheid). Liefdediens aan ander gee perspektief. Vandag se hartseer, spanning en onsekerheid het oor ʼn jaar of twee weinig sin en oor tien jaar van nou af baie min betekenis. Ons sal nie eers onthou wat ons wou hê, waarvoor ons bang was, die redes hoekom ons uitgestel het, of enige van die emosies oor spyt en selfverwyt nie.
Ons het dit laas week ook gesê en dit is die heilige waarheid — Our lives are shaped by the actions that we take.
Ek moes leer om die beloftes van God in my hart se spens te bêre vir dae waar ek vergeet wie ek is. Die goeie dae van seëninge en vreugde in my kosblik pak vir die nagte van honger en dors. In die landkaarte van die Heilige Boeke die plekke merk wat vir my ʼn oase geword het sodat ek die pad terug sal vind na my Oorsprong.
Kom sluit Sondag by ons aan vir ʼn sinvolle gesprek oor die KEUSES EN BESLUITE van ʼn nuwe jaar. Vir ʼn uur word ons stil ... gee ons ons drome, wense, voornemens, gedagtes, emosies, en verlange oor aan God om vir ons te fluister hoe om hierdie jaar se melodie te sing en dit dan deel met elkeen wat vir ons ʼn naaste is.
Soos altyd,
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie ...”
― Jesaja 43:2 ―
.
A COURSE IN MIRACLES
Ons lees hierdie jaar die wonderlike boek
'Rising Strong' van Brené Brown
Stad: Maandag 13 Januarie @ 19h30
Kolping: Donderdag 16 Januarie @ 19h30