Tussen al die vakansiedae weet ek nie meer of dit Woensdag, Dingaansdag, My Fair Lady, of Guy Fox is nie. Die weke, dae, ure gaan so vinnig verby dat ʼn mens wil uitroep, “Is dit Mei of My maand?” Ons is so uit voeling met onsself dat die verandering in seisoene meestal gepaardgaan met spanning en twyfel. Hoe vinniger ons herfs in beweeg hoe korter is ons lont, hoe meer ons ons blare verloor hoe minder geduld het ons.
Kom ons gesels die maand oor iets wat ons almal wens ons het meer van, naamlik — WYSHEID. Ek gaan myself doelbewus weerhou van enige definisie van ‘wysheid’ en eerder Sondag in ons wysheidsirkel wil hoor wat julle sê ... maar ons is dit almal eens dat wysheid meer as kennis en ervaring is. Ons gaan eerskomende Sondag begin met VERTROUE en kan deur die loop van die maand gesels oor kennis & ervaring (ondervinding); oor integriteit & eerlikheid; miskien ook Emosionele & Spirituele Intelligensie (EQ en SQ) nadertrek; en dan afsluit met deursettingsvermoë & mededeelsaamheid. Dit is alles aspekte van WYSHEID.
In Spreuke word daar verwys na “Lady Wisdom” wat ons leer dat wysheid begin met kennis en opvoeding maar daar is iets meer ... vandag leer ons ons kinders om te presteer, niks fout daarmee nie ... ons leer hulle om eerste te staan en die beste te wees, ook niks fout hiermee nie ... ons leer hulle oor finansiële sekuriteit en gesond leef, beslis niks fout met dit nie ... maar ons leer hulle nie om dit alles met liefde te doen nie en dat bo al hierdie goed is die belangrikste om wie jy is en wat jy doen met liefde te wees en doen want anders slaan ons ʼn loopgraaf tussen kennis & ervaring en wat wysheid is en beteken. Kom ons antwoord ʼn paar eenvoudige vrae om dit te illustreer: As jy ses maande oor het om te leef, wat en hoe sal jy goed anders doen? Hoeveel van die goed waarvoor ons bang is, gebeur regtig en wat is jou grootste vrees? Wat het jy met liefde vandag gedoen wat jy vir die res van die jaar sal onthou en wanneer laas het jy iets vir die eerste keer in jou lewe gedoen? Indien jy vir iemand een stukkie lewensadvies kan gee, wat sal dit wees? As ons leer uit ons foute, waarom is ons so bang om foute te maak? Die besluite wat jy vandag neem, is dit vir jouself of vir iemand anders? Is daar enige iets vandag nog belangrik wat 5 jaar terug ʼn krisis van bekommernis was en waarom is dit nie meer nie?
Daar is ʼn paar redes waarom ons glo ons het nie wysheid nie waarvan die eerste is dat ons ons hande voor ons oë sit en dan uitroep dat ons blind is. Ons vergeet wie ons is en hoekom ons hier is. ʼn Tweede rede is dat ons dink ons kan die naelstring knip met God en beter na onsself kyk as wat God doen. Vreemd dat elke keer waar ons voel die liefde is weg, of ons ontneem, of het verander, of nie genoeg nie, dán roep ons na God (Liefde). Die derde rede is dat so min van ons regtig lief is vir onsself. Ons is grootgemaak met ʼn skuldgevoel dat ʼn mens eerder moet liefhê as om liefgehê te word. Ons is geleer ons moet ander liefhê selfs al is dit ten koste van onsself, en voeg dan by, “dis wat Christus van ons verwag!” Dis nie hoe ek die Evangelie verstaan nie, trouens Jesus homself sê, “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” want deur ons liefde kom daar insig (waarheid) en in ons liefhê kom daar uitsig (wysheid) en die uitsig gee jou insig want vertroue begin met waarheid en eindig met waarheid. Die vierde rede is dat ons krampagtig vashou aan ons gisters en die ego met vuurwerke en confetti toelaat om aanhoudend ons gedagtes, emosies, gevoelens te stook met skuldgevoelens en vrees. Wedergeboorte (reborn) beteken — you let go of the past! Die vyfde rede waarom ons glo ons het nie wysheid nie is omdat ons weinig vertroue in onself het, trouens ons hang so aan ʼn rafeltjie. Maya Angelou sê êrens op ʼn plek, “I don't trust people who don't love themselves and tell me, ‘I love you.’ ... There is an African saying which is: Be careful when a naked person offers you a shirt.”
O-ja, ons het opinies en aannames en sommer ʼn handvol persepsies maar vertroue in ons wysheid, huh-uh dit het ons lankal saam met ons waarheid opgegee. Persepsies (en veral assumptions) bepaal tog ons optrede en jou optrede bepaal jou waardes. Die gelykenis van die ‘VERLORE SEUN’ illustreer bogenoemde op ʼn treffende manier want dit is ʼn verhaal wat gaan oor insanity versus sanity en die Vader van die verlore seun wat ons altyd draai na ons sanity en God doen dit nie met ʼn boos gesig en hand wat wil klap nie ... NEE, God doen dit deur ʼn feesmaal voor te berei. Dit is wat die woord ‘EVANGELIE’ tog beteken, GOEIE NUUS! — God is juis lief vir sondaar want hulle is nooit boring nie ;-))
Die Griekse woord vir vertroue (elpitzo) beteken ook hoopvol (daaroor het ons die hele laas maand gesels), oortuiging, vertrou in die integriteit en vermoë van ʼn persoon se karakter of die beginsel van ʼn saak. Dít het ALLES te doen met vertroue in onsself. Ons soek te veel vertroue in mense, organisasies, regerings, helde, loopbane, en selfs bemindes. Vertroue vra of jy die aantygings van mense om jou sal verduur deur getrou te wees aan jouself en daarom vertrou kan word. Vertroue vra NIE waarin glo jy nie — vertroue vra waarom doen ons nie wat ons sê nie? Spreuke 3:5-8 sê dit mooi, “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken hom in alles wat jy doen en hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het alle wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is want dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam.”
Ons staan voor die spieël van Wysheid en vra vir onsself, “Waarom het ons nie wysheid nie?” God vra, “Is jy lief vir my?” Ons antwoord, “JA, U weet ons is!” God vra, “Sal jy my liefhê as jy geen arms en bene het nie?” Ons dink vir ʼn oomblik daaroor hoe moeilik dit moet wees om vir iemand lief te wees sonder arms en bene. God vra, “Sal jy vir my lief wees as jy nie oë het nie?” Ons probeer onsself indink hoe dit moet wees om vir iemand lief te wees as ons hom of haar nie kan sien nie. “Sal jy vir my lief wees as jy geen tong het nie?” Dit moet voorwaar moeilik wees om lief te hê as mens dit nooit kan sê of beantwoord nie. God vra, “Is jy lief vir my?” en weer antwoord ons, “Ja, U weet ons is!” Nou waarom doen ons nie iets daaromtrent as ons wel bene en arms, oë en ʼn tong het nie?
Kom ons gesels Sondag oor WYSHEID en ons begin deur ʼn eerlike, openhartige gesprek te hê oor wat VERTROUE werklik is en hoe ons dit heelmaak waar ons dit verloor en/of vergeet het.
ACIM: Kolping — geen byeenkoms môreaand weens langnaweek. sStad 4 Mei 19h30 — Chapter 13: The Guiltless World p236 Section VI ‘Finding the Present’
Besoek ons Facebook https://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651?fref=ts
Gedagte vir die Week:
A bird sitting on a tree is never afraid of the branch breaking, because her trust is not on the branch, but on its own wings.