Die vrae wat ons vra — hieroor gesels ons in November! Elke oomblik van die dag, ʼn duisend vrae. Sommige word in ʼn breukdeel van ʼn sekonde gemaak, “Wat sal ek aantrek? Is daar tyd vir ontbyt?” en ander so langsamerhand, “Sal ek ʼn ander pad vat werk toe ter wille van die verkeer? Sal ek alles gedoen kry vandag?” Dan is daar vrae waarop ons nie noodwendig ʼn antwoord het nie, “Gaan my kind okay wees? Sal hy sy spore trap met minder blou kolle en littekens as sy pa?” Wat wel waar is, is die feit dat sinvolle vrae gee sin aan die lewe. Kwaliteit antwoorde, gee kwaliteit aan ons lewe.
Meer as ooit van te vore moet besighede en maatskappye in die vinnig-veranderde digitale wêreld waarin ons leef, die regte vrae vra. So onlangs soos ʼn dekade terug was Kodak sinoniem met fotografie en films. Vandag is die maatskappy in likwidasie omdat niemand (blykbaar) gevra het oor die toekoms van digitale foto’s op ʼn selfoonskerm nie. Vandag het die grootste biblioteek van foto’s nie eers ʼn kamera nie — Instagram. Die wêreld se grootste taxi maatskappy besit geen taxi’s nie — Uber. Die grootste akkommodasie verskaffer besit geen gebou of woonstel nie — AirBnB. Die wêreld se grootste kommunikasie maatskappye besit geen telefoon infrastruktuur nie — WhatsApp en Skype. Die mees populêre en grootste media blad skryf nie ʼn enkele sin of inhoud nie — Facebook, en die grootste movie maatskappy besit nie ʼn enkele cinema nie — Netflix. Êrens het iemand die regte vrae gevra en ʼn (aan)vraag geskep wat ons nie eers geweet het bestaan nie.
Intellektueel, emosioneel, en finansieel weet ons waar om heen te gaan om die regte (beste) antwoorde te kry. Ons het boeke (digitaal en in winkels), skole en universiteite, sielkundiges, adviseurs, life & career coaches, banke en konsultante ... te veel om eers op te noem wat alles tot ons beskikking is om na ons kop, gedagtes, en beursie om te sien. Die knaende vraag is natuurlik — waarheen gaan jy met jou spirituele vrae? Dominees en kerke is meestal uit pas met die spirituele vrae wat die moderne mens vra en word daar antwoorde gegee op vrae wat nie meer gevra word nie. Vir Martin Luther was die vraag, “Waar vind ek ʼn genadige God?” Vandag wil die mens weet, “Is daar ʼn God en hoe is dit relevant in my lewe?”
Die spirituele vrae van ons tyd pendel nie meer tussen hemel en hel nie; dit soek nie sentimentele retoriek oor sonde en verlossing nie; dit sien nie die Christendom as eksklusief tot die liefde van God nie ... en tog bly die Stem aan die binnekant klop. Vrae na die sin van die lewe in die algemeen en my lewe spesifiek. Vrae oor die essensie en doel in ons dag tot dag omgaan met mense om ons. Wanneer die lewe sy rolblokke in ons lewe stoot en ons skielik in ʼn cul-de-sac is of wanneer ʼn krisis opduik soos siekte, dood, egskeiding, werksverlies, is daar ʼn duisend vrae wat almal herlei kan word na spirituele vrae — vrae oor ons zijnswese (beingness), ons waarde, ons doel, ons inhoud, ons betekenis, ons verhoudinge, ons waarheid en liefde.
As Christen is die Bybel steeds my basisdokument waarin ek in die verhale van mense, oor mense, vir mense, in mensetaal iets van my eie verhaal vind. Ek is net so min blind vir die ‘foute’ in die Bybel as wat ek blind is vir my eie foute en tekortkominge. Tog is daar iets te sê vir die antwoorde wat ons vind in die ou tekste en sitate se wysheid en waarheid. Keer op keer staan ek verstom hoe ʼn pad uit die blaaie van dié ou boeke my weer raakloop. In ons tema die maand — LIVING THE ANSWERS — kan ons eerskomende Sondag stilstaan by ʼn paar vrae wat ons lees in die Bybel. Die eerste twee kom uit die eerste bladsye van die boek Genesis as God vir die mens vra, (i) “Waar is jy?” (Genesis 3:9) en dan vir Kain (ii) “Waar is jou broer?” (Genesis 4:9). Die eerste vraag is ʼn vraag na ons eksistensie en tweede vraag is ʼn vraag na ons verhoudinge. Ons sou dit ook kan stel as ʼn vraag na relevansie en ʼn vraag na relasie.
In die Wysheidsliteratuur word daar ʼn magte menigte vrae gevra wat vandag nog net so van toepassing is. “As ʼn man sterwe, sal hy weer lewe?” (Job 14:14); “Gee God om en bemoei hy hom met ons?” (Psalms); “Hoe moet ons ons kinders opvoed en ʼn voorbeeld wees?” (Spreuke); “Waarom gebeur slegte goed met goeie mense?” (Job en Profete). Die Nuwe Testament loop oor van vrae wat mense vir Jesus vra, “Hoeveel keer moet ons vergewe?” (Matt 18:21); “Wat moet ons doen om die Koninkryk te sien te laat kom?” (Lukas 18:18); “Hoe kan ʼn man wat oud is weer gebore word?” (Joh 3:4). Dierbare Paulus is van vrae aanmekaar gesit en glo my, sy vrae is ook die mens van vandag se vrae waarop ons miskien ʼn antwoord sal kry as ons die briewe wat die man geskryf het weer gaan lees en dit sal lees sonder die bril van ons vooropgestelde idees, opinies en agterdog.
Maar dit is die vrae wat Jesus vrae wat my tot stilte roep om so klein bietjie introspeksie te doen oor al die antwoorde wat ons op verkeerde plekke gaan soek wat net ʼn tydelike verligting gee sonder om ʼn oplossing aan te bied wat ek kan inpak vir my lewensreis. Vrae soos, “As jy net hulle liefhet wat jou liefhet, wat se waarde is daarin vir jou?” (Matt 5:46); “Wie van julle kan een enkele uur by sy lewe voeg deur jouself te bekommer oor die dag van môre?” (Matt 6:27); “Waarvoor is julle so bang?” (Matt 8:26) “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Sien en verstaan julle steeds nie? Is julle harte verhard? Het julle oë wat nie sien nie en ore wat nie kan hoor nie? Onthou julle nie?” (Markus 8:17-18) en ten slotte seker een van die belangrikste vra wat hy vra, “Sê julle wat julle sê oor my omdat julle dit in julle harte glo of omdat iemand anders dit van my vir julle gesê het?” (Johannes 18:34). Dit lyk vir my die moeite werd om Sondag stil te staan by hierdie vrae.
Laas Sondag het ek gesê dat die belangrikste vraag om te vra, is: WIE IS EK? Dit is ʼn vraag wat eerlik met jouself omgaan om sodoende jou Self te vind in dit wie jy werklik is en hoe God na jou kyk. Ek kry so mooi epos van iemand vir wie ek oneindige waardering en respek het waarin sy vra, “Moet ons nie nou anders begin dink en eerder vra ‘WAAR IS EK?’ nie? As ek die vraag vra ‘WAAR IS EK?’ dan ervaar ek myself as 'n getuienis van die waarheid wat diep van binne kom wat bevestig dat niks my ooit van God kan skei nie. Daar is geen ontkenning van my menswees nie. Ek vra net ‘WAAR is ek?’ op hierdie pad om te onthou wie ek is. Wie ek is, verander tog elke dag (hopelik?) en met elke verandering onthou ek meer dat my essensie oneindig onveranderlik spiritueel is.” Dit lyk vir my na ʼn baie goeie vraag om te verken en te integreer.
Kom deel Sondag in ons feesviering as ons met BROOD en WYN dankie sê vir ʼn nuwe seisoen en dankie sê vir Neo-Spektrum.
Na die diens is ons Algemene Jaarvergadering waarin ons terugvoer gee oor die jaar wat verby is en opwindende nuus deel oor die jaar wat voorlê. Werklik, in elke opsig is ons geseënd met die Lig, Lewe, en Liefde van God!
Intussen hoop ek om sommer baie van julle vanaand by Amanda se konsert te sien — dit gaan só die moeite werd wees!
ACIM: Kolping: 12 November — GÉÉN BYEENKOMS — weer 19 November @ 19h00. Stad: 16 November 19h30 — Chapter 6: The Lessons of Love — II. The Alternative to Projection — P96 Hardeband Boek
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“Your preparation for the real world is not in the answers you’ve learned, but in the questions you’ve learned how to ask yourself.” ― Bill Watterson