Abschrift KV 426
2016 — !! My beste en mooiste wense vir ʼn geseënde jaar.
Terug in somer Kaapstad na ʼn kort ‘breek’ met ʼn hernude besef — dit is voorwaar ʼn voorreg om oorsee te kan reis. Om in ʼn klein dorpie in die Alpe te sit, omring met oorweldigende berge en asemrowende natuurskoon, is genoeg om baie dinge in perspektief te plaas byname hoe bevoorreg ons is om in hierdie mooie land van ons te woon en hoe ons besonder-mooi ons skoei om ʼn waardering te hê vir die anders-mooi van ʼn ander land. Knus aangetrek vir die -3°C en met die geluid van vars sneeu wat onder jou sole breek, is daar baie gedink oor die skat van ʼn geloofsgemeenskap wat ons het. Elke dag, elke aand, was Neo-Spektrum in my gedagtes met ʼn dankbaarheid vir elke seisoen waardeur ons is die laaste vyf jaar met ʼn opgewondenheid oor die geleenthede wat 2016 vir ons gaan bring.
Maar dan, op ʼn dag, lank voor sonop in winter Europa, vat ons die sneltrein na Salzburg ... ek het my kind belowe om hom te gaan wys waar Mozart gebore is. Teen 230 km/h kronkel die trein deur valleie en sneeubedekte berge en so kom ons aan in Salzburg. Die taxi neem ons na die Ou-Dorp wat links van die rivier lê terwyl die Nuwe-Dorp regs van die rivier lê. ʼn Stad met kastele en paleise en nou gange wat die strate met mekaar verbind. Geboue waarop 1422 en 1577 in die gewels gemessel is en ons maak ʼn draai in die oudste restaurant in Europa wat sedert 1706 bestaan. Die meeste van ons ken Salzburg as geboortedorp van een van die wêreld se grootste komponiste en onthou vaagweg die film ‘Sound of Music’ uit ons kinderdae wat in dié sprokiesdorp gemaak is maar niks berei jou voor vir hierdie klein juweel tussen die Oostenrykse berge met sy Barok kerke en argitektuur wat so goed bewaar word dat dit lyk of dit gister gebou is. Na ʼn koffie en croissant begin ons aan die bokant van Getreidegasse stap en kronkel deur die stegies ... vyf stomme Suid Afrikaners se monde hang oop in die kerk waar Mozart gedoop is in ʼn stad wat se geskiedenis ʼn herinnering is aan ʼn tyd, vir ʼn baie lang tyd, toe mense nog iets gedoen het met oortuiging ... hetsy die komponering van ʼn simfonie of die bou van ʼn katedraal, óf die ou-mark wat die laaste 1500 jaar steeds vrugte en groente verkoop. By Nommer 9 Getreidegasse gaan staan ons vir ʼn foto onder die huis waarin Mozart gebore is en vir ʼn oomblik hoor ek hom klavier speel.
Johannes Chrysostomus Wolfgangus Theophilus Mozart is op 27 Januarie 1756 gebore. Asof al die voorname nie genoeg was om ʼn kind ʼn kompleks te gee nie het hy na homself verwys as Wolfgang Amadè Mozart. Salzburg was toe nog onder die beheer van ʼn kerklike prinsipaal van die Heilige Romeinse Ryk en ingelyf by Bavaria (Suid Duitsland). Sterk beïnvloed deur Johan Sebastian Bach en veral sy seun Johan Christiaan Bach sou Mozart in sy kort leeftyd vir die wêreld ʼn rykdom van musikale komposisies los wat sekerlik die mens vir alle eeue sal inspireer. Mozart het sy eerste Concerto gekomponeer toe hy 4 jaar oud was, sy eerste simfonie op 7 en op 12 sy eerste vol opera. Maar sy lewe was verstrengel in konflik en versukkel in finansiële spanning vanweë sy hardkoppigheid en spandabelrigheid. Hy sou baie reis wat in daardie dae uiters primitief was ... van Italië tot Londen, van Praag tot Parys. Hy was nooit werklik gesond nie en op 5 Desember 1791 (35 jaar oud) sterf hy weens komplikasies van verskeie siektes en word in ʼn naamlose, massagraf begrawe.
In 1984 verskyn die film ‘Amadeus’ wat ʼn verstommende 8 Oscars gewen het — die aangryplike verhaal van Mozart wat vertel word deur sy geheime mededinger Antonio Salieri wat, verteer deur sy jaloesie op Mozart, bieg teenoor ʼn priester. Op ʼn stadium sê hy, “My hele lewe wy ek aan God, skryf ek net musiek vir Hom, leef ek selibaat vir Hom maar Hy gee vir hierdie vulgêre kind al die talent. Hoekom?” Waarop die priester antwoord, “Maar hy is Amadeus” — wat beteken, Geliefde van God. Soos Salieri tereg opmerk, “Sy musiek was asof jy luister na ʼn diktasie van God ... jy kan die Stem van God hoor in elke noot.”
God noem ons (almal) ‘Amadeus’ – geliefde van God. Ons almal is komponiste, ons almal skryf ons lewenssimfonie ... ons is die dirigent van ons orkes wat bestaan uit familie, vriende, kollegas, vreemdelinge ... soms lig en laf en ander kere swaar en melancholies maar altyd aan die skryf. Ons talente is nie minder of niksseggend net omdat dit nie op verhoë is nie. Ons waarde en deugde is nie nutteloos net omdat dit nie vir eeue lank vir mense uitgespeel word nie. Elkeen van ons ‘speel’ (pun intended) ʼn rol, elkeen van ons maak ʼn verskil. Elkeen van ons neurie ons eie melodie.
Paulus skryf aan die gemeente in Kolossense ʼn ‘concerto’ as ʼn inspirasie hoe om as ‘BELOVED OF GOD’ te leef — “So, as those who have been chosen of God, holy and BELOVED, put on a heart of compassion, kindness, humility, gentleness and patience; bearing with one another, and forgiving each other, whoever has a complaint against anyone; just as the Lord forgave you, so also should you. Beyond all these things put on love, which is the perfect bond of unity. Let the peace of Christ rule in your hearts, to which indeed you were called in one body; and be thankful.” (Kol 3:12-15)
Aangeheg is ʼn musiekblad in Mozart se handskrif. Ons hoef nie note te kan lees om die musiek te hoor nie. Ons gesels Sondag oor — ALMAL IS GEKIES ... MIN REAGEER! — en wat dit beteken om ‘Amadeus’ genoem te word terwyl ons luister na mooi Mozart musiek.
ACIM: Ons begin die jaar — 18 Januarie STAD 19h30 en 28 Januarie by KOLPING — Lessons of the Holy Spirit p103 Hardeband Boek ... ons lees al drie lesse en bespreek dit.
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“May God grant you always ... A sunbeam to warm you, a moonbeam to charm you, a sheltering angel so nothing can harm you. Faithful friends near you. And whenever you pray, Heaven to hear you.” ― Irish Blessing