Hoe mooi is die lig van hierdie Herfsdae ... soggens talm die eerste lig vir bykans ʼn uur voor die son net voor 7 oor die Hottentots-Holland berge skuur en saans lanterfanter die goue skakerings van skemer teen Tafelberg en 12 Apostels voor die son oor die oseaan nagsê. Die jaargety van ougoud en roesrooi blare is hier. Die Kaap se eerste winterreëns, wat al die skakerings van groen sal uitrol, is op pad. Daar is ʼn seisoen van saai en ʼn seisoen van oes. ʼn Tyd vir snoei en ʼn tyd vir maai.
“Autumn is a second spring when every leaf is a flower.” het Albert Camus gesê.
April, was nog altyd so ‘tussenin-maand’ soos ʼn intermezzo in ʼn simfonie. Dis asof die dae nie hul mind wil opmaak of dit somer, herfs, lente of winter wil wees nie. Die dae is wel korter en die nagte het ʼn byt. Soos die seisoen verander, is daar ook innerlike veranderings wat deur sommiges meer intens ervaar word — ons nagure van melancholie is langer en bedags voel ons soos ʼn boom wat sy blaar verloor het. Tradisioneel het ek ook geleer om níe iets vir April te reël of organiseer nie want dié maand se wispelturigheid is so onvoorspelbaar soos die weer en die mens gewoon te lui om tot enige iets te commit want almal sit en wag vir die somer se grand finale om uit te speel voor die winter kom.
Met reg dan is ons tema vir dié maand — LONGING FOR BELONGING — en gesels ons oor die inhoud en betekenis van sekere gelykenisse uit die Bybel in hierdie seisoen van verandering en eerskomende Sondag gaan ons gesels oor die eerste en seker bekendste GELYKENIS in die Bybel naamlik Genesis 1 — ja, jy lees reg, Genesis 1! Die agtergrond van die eerste boek in die Bybel is dat dit geskryf is deur ten minste vier Joodse bronne (outeurs) oor ʼn tydperk van ±600 jaar. Die skrywer(s) van Genesis 1 dateer ± 600BC in die tyd toe die Jode in ballingskap was in Babilonië. Genesis 1 is geskryf deur priesters as (i) ʼn credo, ʼn geloofsbelydenis (ii) ʼn reaksie op die Babiloniese skeppingstradisies / mitologieë en (iii) om die gode (son en maan) van die Babiloniërs ondergeskik aan God te plaas en die heiliging van die Sabbat as tradisie te vestig.
Nou, wat baie min mense weet, is die feit dat Genesis 2:4b ʼn totaal ander skeppingsverhaal is wat dateer uit ± 1000BC — met ander woorde, 400 jaar ouer as Genesis 1. Geskryf met die doel om (i) die ‘sleg/kwaad/bose’ in die wêreld te verduidelik (ii) die mens se verwydering van homself en God en (iii) verlange na versoening met God binne die ‘paradys’ van eenheid met God.
Ons kan Sondag in meer detail kyk na die verskillende skeppingstradisies maar vir eers net dit:
Om hierdie gelykenis te ontsluit in die ryk betekenis wat dit het, moet die Westerse mens vir ʼn oomblik uit sy klein gemaksone stap sodat ons Spirituele sintuie ontsluit kan word vir die taal van simbole en metafore want wie nog die skeppingsverhaal van Genesis histories-letterlik lees, sal die betekenis in totaliteit mis en wie dit lees as een lang storie van Genesis 1:1-Genesis 3:23 sal nooit die lae van interpretasie verstaan wat ons juis van die fundamentalisme wil/kan verlos nie.
As die Christendom nie dié seisoen van winter gaan oorleef waarin die pole van dualisme met veiligheid oorgesteek kan word om die spanning tussen ʼn blinde (fanatiese) fundamentalisme en ʼn ewe (fanatiese) rebelsheid te oorbrug sonder om die baba met die badwater uit te gooi wat alle tradisies en credo’s van die hand wys as loutere onsin nie. Want om dit met hierdie oeroue tekste te doen, spreek van ʼn naïwiteit sonder insig om ons eie verhale te herken, erken, en te ken ...
Ek wil pleit vir ʼn vernuwing in ons verstaan van waar ons vandaan kom. Ek wil pleit dat ons onself sal lig uit die groef van ʼn serebrale intellektuele aanbidding en dit sal waag om anders te kyk sodat ons sal sien — anders sal luister sodat ons sal hoor — anders te voel sodat ons anders sal reageer. Kom ons gesels Sondag oor die Skeppingsverhaal ... kom ons verken ons plek, rol, en funksie binne die Skepping ... kom ons motiveer en inspireer mekaar as Medeskeppers in die paradys van potensiaal en moontlikhede ...
Kom ons breek die ‘APRIL-fools spell’ en ons wys dat ons in hierdie tussenin-maand iets anders kan doen as die gewone — op Saterdagaand 16 April 2016 het Neo-Spektrum die hele galery van Barnyard in Durbanville bepreek en saam gaan ons na die Las Vegas Show kyk met musiek van Celine Dion, Cher, Diana Ross, Tom Jones, ZZ Top, Santana, Elvis Presley, Elton John, en Michael Bublé om net ʼn paar te noem. Kry jou kaartjies by Else-Helene elseloubser@mweb.co.za of 083.270.94.03 en dis R150pp en bespreek sommer vir jou en vriende en bring kinders saam — hulle het gewoonlik ʼn heerlike tyd van dans en saam sing. Op so manier breek ons die gewoonte van ʼn stom-dom April wat nóg somer nóg winter is en ons doen iets ten bate van Neo-Spektrum.
ACIM — 18 April in die STAD 19h30 en 14 April by Kolping 19h00 — Chapter 11: GOD OR THE EGO — From Darkness to Light
Besoek ons webblad www.neo-spektrum.com waar jy ook elke vorige week se gesprek en liturgie kan aflaai onder TEMA ARGIEF. Daar is ook ʼn kaart hoe om by ons uit te kom 10h00 Sondae by Kolping Sentrum, Biccard Straat, Durbanville.
Gedagte vir die Week:
“Spring passes and one remembers one's innocence. Summer passes and one remembers one's exuberance. Autumn passes and one remembers one's reverence. Winter passes and one remembers one's perseverance.” ― Yoko Ono