Niks in die lewe is toeval nie, en die beste is verniet ...
Dit leer ek al hoe meer soos die jare sy grys om my ore wys. Nog ʼn lewensjaar blaai in seisoene en soos altyd rondom jarigwording is daar ʼn tyd vir stilte en nabetragting. ʼn Soort van tyd vir dankbaarheid en waardering vir gesondheid in die lyf, gemoedsrus in die gedagtes, liefde in die hart, vere vir die siel se vlerke, en ʼn beursie met ʼn geldjie vir brood en wyn.
Tyd vir erkentlikheid teenoor elkeen wat my lewe direk of indirek verryk en verfyn. Elkeen in die sirkel van ʼn Neo-Spektrum wat op dié leeftyd van my lewe ʼn seëning geword het of dit Sondae deel is van ons Wysheidsirkel en of dit is dat ʼn weeklikse padkos-epos tog ʼn mate van inspirasie en motivering is vir dit wat in jou lewe gebeur en om met ʼn meer gefokusde bewussyn daarmee om te gaan. Vir elkeen wat hom/haar deel voel van die werk wat ons doen in ons Geloofsgemeenskap — of dit is met ʼn maandelikse bydrae, hande en voete by een van ons projekte, deel van ons Leierspan se beplanning en kontrole, ʼn vriendelike uitnodiging om my in te nooi by jou huis, vir die onvoorstelbare liefde wat gedeel, gedoen, gevoel, geweet word by Neo-Spektrum!
Glo my, daar is nie ʼn dag in my lewe dat ek nie die Here God dank vir die voorreg om elke dag te doen waarvoor ek lief is en wat ek voel gee sin in my lewe en voeg waarde toe tot die bestaan wat ek gekies het nie. Dit is ʼn geskenk wat ek nooit vanselfsprekend aanvaar nie. In die kronkels wat my lewe al geloop het, het ek tuisgekom in ʼn Gemeenskap van mense wat almal een ding ingemeen het — to love life beautifully and to do good abundantly!
As ek dié week my verjaarsdag vier, dan lig ek ʼn glas op elkeen van julle! Onbeskeie blaas ek elke kersie in een asem met die wens om die jaar wat voorlê die geskenk te wees vir die familie- en vriendekring waarin ek beweeg. Mag die jaar wat voorlê die allermooiste demonstreer, die allerbeste manifesteer, die allerliefste inspireer.
Ek neem die komende naweek af en Dr Rudi Labuschagne sal soos altyd eerskomende Sondag se uur gesprek lei met sy deurleefde spiritualiteit wat hart, gedagtes, en siel met geloof, hoop, en liefde vul. Maak ʼn afspraak met jouself en trek ʼn sirkel om Sondag tussen 10 en 11am vir ʼn besoek aan Neo-Spektrum se sirkel-kapel.
En nou, mag dié dag se son in jou bedding blom met die oorvloed van milddadigheid en mag die sakrament van dié seisoen ʼn versoening bring tussen leef en lewe met die liefde en vrede wat alle verstand te bowe gaan as ons die toonlere van dankbaarheid besing.
ACIM — 21 Julie: Kolping 19h30 en 25 Julie: Stad 19h30
6 Augustus — 9am tot 1pm — Ons Spiritualiteit Konferensie by die Sanlam Ouditorium met drie uitmuntende sprekers. Maak nou reeds ʼn aantekening daarvan en nooi vriende en familie saam. Asseblief.
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
The definition of beauty is
that definition is none --
of heaven, easing analysis,
since heaven and He are one.
— EMILY DICKINSON