The Giveness of Life - Getuie

Sondagdiens

29 September 2019

Hierdie week se liturgie: 29 September 2019

Ons tema vir September was — THE GIVENESS OF LIFE — en wat ʼn wonderlike reis om onderwerpe soos GELOOF (faith) en GEBOOIE (commitment)GEBED (prayer) en GENADE (grace) te kan verken. Eerskomende Sondag sluit ons ons tema af met ʼn gesprek oor wat beteken dit om ʼn GETUIE (witness) te wees. Net soos die ander vier begrippe is GETUIE ʼn klein woordjie met diepgaande betekenis en omvangryke invloed.

Ons het grootgeword met die oproep om ʼn ‘getuie’ te wees VIR Jesus en daarmee is bedoel ons moet vir ander vertel van Jesus en waar moontlik, hulle lei om Jesus ‘aan te neem as Verlosser en Saligmaker’ ... want ons was oortuig dat dit God se hart bly maak as ons ander tot bekering bring want ʼn getuie is iemand wat nie skaam is vir sy/haar geloof nie en met vrymoedigheid kan getuig van God se liefdevolle trou.

Latere jare sou ons ‘getuies’ assosieer met hulle wat traktaatjies uitdeel en aktief soek na siele wat bekeer moet word. Dikwels sou iemand vra: “Is jy ʼn getuie van Jesus?” as ʼn soort bewys van ware Christenskap. Uiteraard was daar dan ook 'n reaksie (rebellie) teen so opdringerige verwagting. Iemand anders se geloof in die algemeen en verhouding met God was/is volgens my nog altyd ʼn baie persoonlike saak. As ek jou nie uitvra oor die seksualiteit van jou binnekamer nie, hoekom sal elk jou vra oor die spiritualiteit van jou binnekamer?

Maar 'n mens word ouer en wyser ... met die grys en littekens kom daar nuwe insigte en raak ʼn mens se reaksie so ietwat stadiger (geduldiger) — wat ʼn goeie ding is! Meer as dikwels kom ʼn mens in situasies waar iemand jou vra wat jy glo en waarom jy glo wat jy glo? Dan word ʼn mens ʼn ‘getuie’ sonder dat ʼn mens dit eers agterkom, en besef ons die bagasie wat ons vroeër jare aan die woord gekoppel het, is êrens neergesit vir ʼn nuwe insig (waarheid) en uitsig (wysheid) van wat 'getuie' beteken.

The Giveness of Life — die GESKENKE van die lewe ... geloof, gebooie, gebed, genadeen getuie is vyf van die belangrikste wortels in ons Lewensboom wat die vrugte dra van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid, en selfbeheersing. Die opdrag (the Great Commission) van Jesus om ‘getuies’ te wees kan in die eerste hoofstuk van Lukas se Handelinge gevind word as sy inleiding tot die verhaal oor die tydperk ná Jesus se sterwe.

Dis 'n vers wat ons almal ken – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my GETUIES wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand 1:8)

WAT SÊ HIERDIE VERS? Dit is ʼn opdrag oor getuienis wees ... die Griekse woord vir getuie is marturos waar die woord martyr vandaan kom — dit beteken om getrou te bly ongeag, nieteenstaande, desondanks die omstandighede. ʼn Mens kan tog net ʼn getuie in ʼn regbank wees van iets wat jy self gesien, self beleef en eerstehands ervaar het nie.

Dit begin met ʼn belofte — “Julle sal KRAG ontvang ...” Die Griekse woord is dunamis (power, strength, ability) waar die woorde dynamics, dynamite en dynamo vandaan kom. Is dit ‘krag’ teen die bose? Nee, dis krag vir die duiwel (ego) wat tussen ons ore leef. Is dit ‘krag’ teen die wêreld? Nee, want wat kan die wêreld jou bied wat jy nie reeds het nie? Ons het krag nodig vir al ons stukkies stukkend — al ons vrese en swaar-dra aan ons skuldgevoelens. Krag nodig vir ons illusies dat ons afgesny is van God, los is van mekaar, dat ons dink ons is nie-genoeg-nie, en dat ons dit nie gaan maak nie. Krag nodig om te onthou ons asem, God se asem (Genesis 2:7); ons is refleksie van God as lig; geskape as weerspieëling van God as lewe; beeld van God as liefde.

  • WIE MOET GETUIG? JULLE!” — in die woorde van Handelinge praat Jesus met sy dissipels, mense uit die gewone vlakke van die gemeenskap ... vissers en tollenaars en hulle wat teen die grensdraad van die samelewing vas gewaai is. Hulle wat die toelatingseksamen van die Fariseërs, Priesters, en Stamhoofde nooit sou slaag nie maar geroep is om getuies te wees.

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matt 5:16) en “Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur.” (2 Kor 2:14)

  • WAARVAN MOET ONS GETUIG? “julle sal MY getuies wees” — dit sê iets van ʼn baie persoonlike verhouding wat nie gaan oor die moets-en-moenies van wette nie, en beslis nie oor die moraliteit van ʼn bepaalde samelewing se gedragskodes nie. Dit gaan oor wie en wat Jesus se voorbeeld, inspirasie, en motivering beteken. Om te WEES is om getuie VAN Jesus te wees en te word ... from being to becoming!

“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.” (Job 42:5) en “Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Handelinge 4:20)

  • WAAR MOET ONS GETUIES WEES? Jerusalem — by die huis; waar die oordeel op sy felste is; waar mense jou ken en nie staan vir ons pretensie en selfgeregtigheid nie. Judea — ons volksgenote en familie; die eendersdenkendes van ons eie kultuur. Samaria — andersdenkendes; hulle wat ʼn ander taal praat as ons; ander gewoontes en tradisies; hulle wat deur ons verag en verwerp word. Uithoeke van die Aarde — vir hulle wat totaal buite ons verwysingsraamwerk lê ... nie net geografies nie maar veral psigografiese uithoeke ... hulle wat ons nie ken nie en tog ons paaie kruis.

En dit is waarmee ons hierdie maand se tema afsluit. Ek hoop om jou en jou gesin en vriende Sondag in ons Sirkel te sien.

In Oktober neem ek my jaarlikse verlof en Dr Rudi Labuschagne sal Sondae se gesprekke lei. Daar sal met ander woorde geen weeklikse e-posse wees nie. Kom reis die komende maand saam met Dr Rudi wat altyd met ʼn deurleefde wysheid en waarheid die gesprekke lei op sy unieke styl van aanbieding. Ek belowe jou, dit sal in elke opsig vir jou tot seën wees.

Ons gesels weer in November
Met liefde en waardering

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Whatever we do,
we must not treat the Great Commission
like it's the Great Suggestion.”

― Swindoll Charles R. 

 

A COURSE IN MIRACLES

STAD: 30 September 2019 @ 19:30
KOLPING: SKOOLVAKANSIE

Ons lees die tweede semester van die jaar
LESSONS FROM 'A Course in Miracles'
[Lessons 156 & 157]

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights