Liturgie: 5_februarie_2017
Baie mense sal dink dat my werk is om te ‘praat’ — I talk for a living — maar eintlik is my wêreld ʼn leefruimte van ‘luister’ ... na mense se stories, hul vreugdes en verdriet, hul drome en teleurstellings, hul twyfel en optimisme, hul verlore en gevind ... en wanneer hierdie stemme stil word, gaan ek na die woorde van boeke en klankkleur van musiek. Die genuanseerde ritme van musikante wat met ʼn fyn oor luister om in harmonie met ander orkeslede die melodie oor te dra. Weereens word ek die luisteraar ... na die stem van die klavier, die klarinet, die geluid van vingers op snare, die asem van die sanger. Besef ek opnuut: Musiek is ʼn energie dialoog. Klank is vibrasie en elke vibrasie het ʼn frekwensie wat resoneer ... of nie.
Vanweë verskeie omstandighede is ek deur skool sonder enige herinnering hoe my stem geklink het. Ek was stil, in die wêreld agter my oë was daar van kleinsaf ʼn sterk interne dialoog. Daar was geen behoefte om die stilte prys te gee nie. Op universiteit het ek baie vrae gehad asof ek nie ʼn sin kon eindig sonder ʼn vraagteken nie. Ek wou gehoor word, ʼn stem gee aan my verswygings al moes ek dikwels van professore hoor, dit is ontydig of ongeleë. Die meeste van die tyd het ek gevoel soos ʼn saksofoon speler in ʼn orkes met nét viole. Ek wou so graag (be)wys dat daar plek is vir ʼn saksofoon in ʼn Beethoven simfonie. Die dirigente het dit nie geduld nie en tog het ek geweet die groot Komponis sou graag dié kombinasie wou hoor. After all, the whole cosmos is a combo!
Vir die volgende twintig jaar na universiteit sou ek soms moedswillig, meestal dwarstrekkerig, op die wêreld gil. Menigte verhoudings, persoonlik en op die periferie, in flarde skree — min hardop, meestal na binne, selde verbaal, grotendeels intern. Musiek was my ontsnap — note het betekenis gegee aan lirieke van melodieë wat my sou vind. Nie eenkeer hoef ek daarna te gesoek het nie. My dagboeke was/is niks anders as bladsye vol gesprekke nie. Soms in rym met plakkertjies, dikwels wat klink soos gebede sonder aanhef of ʼn amen, altyd eerlik opsoek na die Stem wat al die ander stemme sou stil. Om gehoor te word moes ek leer om te luister. Ek moes leer om te luister.
Homo-sapiens bewandel die Aarde vir die laaste 200 millennia maar die laaste 100 jaar domineer ons stemme dié planeet. Die mens is soos ʼn dromspeler wat nie weet wanneer sy solo eindig nie en die dissonansie van ons geroesemoes is besig om ʼn invloed te hê op die groter ekologie. Dit omdat die mens toon-doof is vir die ekosisteem se uitroep vir meer stilte terwyl ons versink in die dryfsand van ons ego-maniese kakofonie. Ons hou van ons stemme maar het geen idee hoe klink ons stiltes nie ... ons het ʼn duisend vorme van kommunikeer met vingers op skerms maar gee clue hoe klink die stem van die siel nie. Ons totale media is opgestel om vir jou te vertel wat ander mense sê. Nie eers die nuuskanale kan meer ʼn opinie vorm en ʼn debat voer sonder dat almal gelyk praat en mekaar in die rede val nie. Ons hoor nie die kinders lag nie, ons maak nie meer vensters oop om die voëls te hoor sing nie, ons ken nie die geluid van ʼn waterstroom nie. Die krieke is stil snags en die tortel vlug teen dagbreek om die spitsverkeer se gekreun te ontsnap.
We have a lot of conversation and very little communication! We have a lot of shit-chat, and very little listening! En selfs al luister ons, hoor ons nie die helfte van wat gesê word nie omdat die apies in ons kop besig is met hul eie sirkus. Ons luister om te antwoord, ons luister nie om te hoor nie. Die monoloog in ons kop het selde tyd vir ʼn dialoog met die siel. Geen wonder dat ons wonder of God luister, of God hoor, of God verstaan, of God bestaan nie en as hy doen, is dit ʼn wonderwerk! Vermoedelik omrede ons nie eers meer bewus is van al die filters waardeur klank moet beur om vir ons betekenis te kry nie. Ons kommunikeer tog eerstens deur te luister met intuïsie en intensie; in die klank van taal en die raamwerk van ons kultuur; met gebare en gedrag; ons luister met voete van geloof, ʼn gesindheid van hoop, met harte wat liefhet en liefgehê wil word en dan, DAN eers kommunikeer ons met woorde en sinne.
Vir eeue lank het die mens na mekaar se stemme en verhale geluister om vure; ons het ons stories vertel op ons reise want om van punt A na punt B te kom, het ʼn tydjie gevat. Daarna het ons begin om hierdie verhale op skrif te stel en het ons geluister na die woorde van sages, shamans, wizards, teachers, storytellers soos wat dit oorgedra is op boekrolle en kleitablette. Dit sou ʼn paar duisend jaar vat voor ons ʼn audio opname kon maak om iemand se stem te hoor. Ek is oud genoeg om dit te kon beleef toe die eers kassetspelers in ons land gekom het en jy met die druk van twee knoppies jou eie stem of iemand anders sin kon opneem. Dit sou nog ʼn dekade of twee vat voor ons na video sou kon kyk en iemand sien én hoor. En toe raak die geraas te veel en verloor ons onsself om te kan luister én te hoor. Geen wonder die media moet op ons skree met opskrifte soos — SCANDAL; SHOCK; EXPOSED; REVEALED — voor ons enigsins om- of opkyk.
Ons gaan Februarie gesels oor RESET YOUR EARS — because listening creates understanding and understanding creates harmony. Ons kan Sondag afskop met ʼn handvol sleutels om die slotte van ons ore af te haal om beter luisteraars te word deur: (1) Stilte (2) Onderskei (3) Ontleed (4) Assimileer (5) Reflekteer (Receive; Appreciate; Summarize; Ask) — pas daarna kan ons begin met ʼn gesprek oor LUISTER na die stem van God, hoor die vibrasie van die siel op die frekwensie van die Goddelike, en leef in vrede met harmonie.
Daar is nie ʼn enkele spirituele tradisie wat nie die belangrikheid van stilte en kontemplasie beklemtoon nie. Die plek van gebed in ons geestelike groei het só abstrak en serebraal geraak dat ons nie eers meer weet wat dit beteken nie behalwe net nóg woorde, nóg ʼn monoloog. Die meeste Christene sien die Bybel as letterlik ‘Woord van God’ waar niks verander, afgewys, verkeerd bewys, of gekritiseer mag word nie asof God ophou kommunikeer het en as die sin, “Maar die Bybel sê!” eers uit is, is dit die einde van die gesprek. Niemand luister nie, niemand hoor nie ... wat ons nie verstaan nie word verban en wie nie is soos ons nie word met mure en heinings buite gehou ... common-sense and understanding have to make room for tweets and twits!
Dit is eers as ons ore oopgaan (listen) dat ons oë ook oopgaan (understand). Vra vir enige blinde hoe goed hulle sien met hulle ore. Wanneer ons gaan begin om te luister, sal ʼn hele nuwe wêreld vir ons oopgaan. Ons sal anders kyk (luister) na ons konflik, spanning, ongelukkigheid, en teleurstellings. Ons sal ʼn ander reaksie hê as ons luister om te verstaan en nie luister om te reageer nie. Die reëls is eenvoudig: Luister met belangstelling. Kommunikeer met waardigheid. Antwoord met integriteit — hoe anders sal ons wêreld lyk as ons hierdie drie waardes implementeer? Kom saam met ons op reis as ons met stilte en min woorde die volgende maand gaan leer om beter te luister.
🌺 ACIM — Stad 13 Februarie 19h30; Kolping 2 Februarie 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“The word 'listen' contains the same letters as the word 'silent'.” ― Alfred Brendel