Hierdie week se liturgie: 28 Julie 2019
“Happiness is what you allow to happen through you and not with you.” ― Chuck Spezzano
Vir ʼn maand lank gesels ons oor die beginsels wat toegepas kan word as ons voel die lewe druk, of as dinge gebeur wat buite ons beheer is, óf wanneer ons oorweldig word deur ʼn wêreld in nood ten midde van soveel korrupsie en geweld. Maklik om ʼn glas te breek — ʼn totaal ander storie om ʼn glas te kan maak ... maklik om te ‘moun’ (sic: moan), ʼn totaal ander storie om ʼn verskil te maak in jou milieu (tyd, plek, en omstandighede).
Soms voel dit of sommige mense net soveel plesier daaruit put om te kla as wat hul genot vind om NIKS daaromtrent te doen nie. ‘Kla’ is vir baie ʼn lewensgewoonte ... ʼn soort ontkenning van verantwoordelikheid ... ʼn soek na simpatie om die agterdog en selfgeregtigheid te verdoesel. Probeer vir ʼn dag lank om nie een enkele keer te kla of kreun oor enige iets nie. Nie een keer nie! Ná 24 uur, vra jouself of jy kan voel hoe die energie skuif van lamenteer na inspireer, van klaagliedere na ʼn (happy) wals? Eckhart Tolle skryf êrens, “When you complain, you make yourself a victim. Leave the situation, change the situation, or accept it. All else is madness.”
Any fool can criticise, condemn, and complain ... almal van ons raak soms verdwaal; ons keer, en kry seer; ons sê en doen goed wat ʼn wond los by iemand anders; ons val en staan op; ons val en probeer weer! My littekens sê, my past is real ...!! Almal van ons ken ‘the dark night of the soul’ (waarna die Spaanse mistiek en digter John of the Cross verwys) en ons weet wanneer ons voor die vurk in die pad staan waar ons ʼn keuse maak: gaan ek vervloek en kritiseer, blameer en moed opgee — of — gaan ek die tafel dek vir my reisgenote waar selfs hulle wat nie van my hou nie kan kom aansit en ons ons glase lig op gemoedsrus en gesondheid want kyk, ons bekers loop van vreugde oor!
Dít is die lewe — ons lag, ons treur, ons skree, ons bid, ons wonder, ons weet, ons vergeet, ons vloek, ons honger, ons versadig, ons verloor en ons vind. Dit is die lewe se ritme en nie net my menu nie. Ek hoef my daarom nie te bemoei met die vraag wat is verkeerd met MY, of wat het EK verkeerd gedoen dat ek soms die ritme vang dat die lewe net soms, minder gelukkig is ... minder seker is ... minder in beheer is.
Een ding weet ek verseker: ek wil minder moan en meer moeite doen om te verstaan; ek wil nader aan myself staan sodat ek meer eerlik, meer getrou met my waarheid (authenticity) kan omgaan en nie so damn bang is vir verwerping en veroordeling nie; en in sover dit van my afhang om in vrede met almal om my te leef met volle erkenning aan elkeen wat vir my ʼn naaste en ewemens is, want soos Paulus sê, “niemand leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie” (Romeine 14:7). Die geluk en vreugde van die lewe is verbind aan daardie wisselwerking, daardie interafhanklikheid, daardie harmonie en balans tussen al ons verhoudinge.
ʼn Sport-kommentator sê vir Lionel Messi, “It’s not fair that God gave someone so much talent.” waarop Messi reageer deur te sê, “God gave me the talent and my centre-forwards gave me the ball.”
Die vraag die laaste paar weke is — WAT moet ek doen as die lewe my soms oorweldig en HOE skuif ek die versugting van kreun-en-steun na ʼn gesindheid van liefde, aanvaarding, respek, menswaardigheid, en seëninge?
Hier is ʼn paar vlietende gedagtes: gee meer as wat jy ontvang en wat jy ontvang moet dit nie vanselfsprekend aanvaar nie; sê “asseblief”, “dankie”, “goeiemôre”, en “goeienag”; moenie alles glo wat jy hoor en alles spandeer wat jy gespaar het nie; bedoel elke woord en elke spasie tussen die woorde as jy sê, “ek is lief vir jou” en sê dit meer en nog ʼn keer, want dit vra of vat NIKS van jou om die kraan van liefde oop te maak nie.
As jy van iemand verskil, moenie kwaad word nie, en as jy kwaad word, moenie ʼn ander persoon verneder nie — leer om van mekaar te kan verskil sonder om iemand anders se menswaardigheid te verguis. Onthou — “konflik is vrees verwoord” (ACIM) en vra altyd jouself as jy kwaad word, “waarvoor is ek só bang?” Wees verdraagsaam teenoor hulle wat anders is as jy en onthou dat jy (soms) vir jouself ʼn vreemdeling is en daarom loop ons saggies met iemand anders se ontmoeting. Los ou-koeie waar hul hoort en as jy ʼn saak bepraat, bespreek, besluit het dan gaan gooi jy die wrewel en suur in die see en slaan ʼn bordjie op die strand wat sê, ‘NO FISHING!’
Wat beteken dit as ons sê, ‘jy moet vir jouself lief wees’ anders dat ons onsself sal aanvaar met ons beste maar ook minder goeie eienskappe; onsself met deernis en erbarming sal hanteer en minder judgemental sal wees oor onsself? Verander wat jy kan verander en beywer jou daartoe om die splinters te verwyder. Laat jou ja, JA wees en jou nee, NEE. Maak beddings (boundaries) in jou tuin sonder om mure en heinings te bou. Leer om op jou eie te kan wees ... jy kan nie jou lewe lank soos ʼn skoothondjie agter als wat beweeg aan hardloop uit vrees dat jy nie genooi gaan word na whoever, whenever, wherever nie. Onthou — as jy nie met jouself kan wees op jou eie nie, hoekom sal enige iemand anders met jou alleen wil wees?
Maar, en dit is ʼn sagte ‘máár’ — op die ou einde van die dag, wanneer jy die laaste keer jou asem uitblaas, is daar net een vraag en een vraag alleen: did I live a meaningful life!? Sonder enige oordrewe vroomheid of dat iemand my sal beskuldig van piëtisme is dit my onwrikbare oortuiging dat ons ons ‘meaningfulness’ vind vanuit en deur ons spirituele toewyding (i.e. spiritual discipline, devotion, and dedication). Maak erns met jou STILTETYD. Bid gereeld. Maak dit deel van jou weeklikse ritme om op ʼn Sondag vir uur die gemeenskap van ander gelowiges op te soek en te deel in die teenwoordigheid van God.
En DÍT is waarmee ons eerskomende Sondag afsluit as ons vir oulaas gesels oor — DEK DIE TAFEL VIR ‘N ANDER.
-o0o-
Ons Spiritualiteitkonferensie dié jaar gaan oor Spiritualiteit van Tieners en Jongmense as ons saam met drie kundiges gaan gesels oor
TEGNOLOGIE en KONNEKSIE,
INTIMITEIT en KONNEKSIE,
SPIRITUALITEIT en KONNEKSIE.
DATUM: 3 Augustus 2019
TYD: 9:00 tot 1:00
PLEK: SANLAM Hoofkantoor (Bellville) se Ouditorium
BESPREEK: bookings@neospektrum.co.za
NAVRAE: Lourita (071.579.45.39) of Edward (082.788.18.24)
PRYS: R200 pp en R350 vir couples. Alle skoliere en studente is R50
SPREKERS:
Hugo Theron - Kliniese Sielkundige, gaan die kompas wees wat gesels oor Konneksie en Tegnologie. Die invloed van 'tegnologie' op ons kinders en jongmense en waarom dit 'n ligtoring is wat óf waarsku teen skerp rotspunte, óf 'n rigtingwyser om nuwe lande te ontdek. As begeleider en terapeut van jongmense kom hy met 'n rykdom van ervaring oor die tendense, uitdagings, inspirasies, en verwysingswêreld van kinders, tieners, en adolessente.
Delene van Dyk is 'n seksualiteitsopvoeder en terapeut van beroep en bearbei haarself die afgelope 25 jaar, in Afrika en internasionaal, in die veld van geestes- en seksuele gesondheid, en onderrig. As seksuoloog gaan sy gesels oor Konneksie en Intimiteit. In die sessie gaan Delene fokus op intimiteit as 'n emosionele voertuig en hoe om individuele "versnellers" en "remme" te herken, om sodoende kwesbaarheid, die kern van intimiteit, beter te verstaan.
Selina Palm - Senior Navorser by Universiteit Stellenbosch, gaan haar ervaring deel as Teoloog en jarelange navorsing op die gebied van Jeug-Spiritualiteit veral rondom onderwerpe soos sosiale geregtigheid, versoening, identiteit, asook vrae oor kerkleer, dogma, teologie en spiritualiteit. Sy gaan ons hand vat om die reis aan te pak na ons TRUE NORTH as sy gesels oor Konneksie en Spiritualiteit.
Uiteraard wil ons soveel as moontlik jongmense na die oggend uitnooi. Ons sal graag ook na HULLE wil luister en hulle stemme kans gee om gehoor te word. Wil jy nie asseblief dié nota aan vriende, familie, kollegas, en vriende van tieners en jong volwassenes stuur nie?
Sien en voel die seëninge van God in die reën en die wit sneeu op die Bolandse berge.
Soos altyd,
met liefde,
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
STAD: 5 Augustus 2019 @ 19:30
KOLPING: 25 Julie 2019 @ 19:30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]