10 Desember 2017

Ek weet nie van jou nie, maar ek is glad nie reg vir kitsch kersversierings en cliché kersliedere in inkopiesentrums nie ... ek wens geen dag of jaar om nie maar hierdie tyd van die jaar raak ek kriewelrig omrede ek die tyd wil kortwiek en nóg-ʼn-jaar-verby wil rem voor ons agtien instorm. Aan die anderkant is daar toenemend by my elke jaar ʼn gevoel van ergernis oor die kommersialisering van Kersfees. Die verstikking aan die uitbuiting terwyl “Vrede op Aarde in die Mens ʼn Welbehae” oor die winkel se luidsprekers blêr. Ons mis die punt. Ons mis die doel. Ons vergeet om te onthou waaroor dit eintlik alles gaan. Miskien omrede ons godsdiens ʼn kommoditeit geword het en ons van God ʼn karikatuur gemaak het.
Ons wil ‘goud, wierook, en mirre’ hê maar soek nie Getsemane en die Via Dolorosa nie. Ons vra vir wyse manne en engele maar ons stal is gesluit vir enige vreemdeling ... wat nog te sê op ons voorstoep kraam. My kaste loop oor van als wat ek nie meer dra nie; my yskas is vol kos verby hul vervaldatum. Ek is skaam oor my naaktheid en verleë oor my honger. Dan onthou ek weer, “Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” — Genesis 3:8-9. Ons wil ʼn tuin van ons eie hê, maar weet nie of daar genoeg vyeblare is om ons naaktheid te versluier nie. Ons wil die vrugte eet en nie rekenskap hoef te gee nie.
“Waar is jy?” is die roep wat ek hoor in elke Kersfees. Waar is ek vir elke vreemdeling wat ʼn naaste word? Waar is ekom geboorte te gee aan ʼn nuwe Lewe, ʼn deurdringende Lig, ʼn allesinsluitende Liefde? Waar is ek in my Stille Nag wat sing Gloria in Excelsis?
Dan hoor ek weer, “Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier?” — 1 Konings 19:11b-13. Ons wil God se stem hoor maar nie as dit my rotsmure breek en my selfversekerde aarde skud nie. Ons soek God in die liggies van kersfeesbome en die strikkies van kersgeskenke en vergeet om te luister as die aandwind opkom of in die fluistering van die windstilte. Ons wil Kersfees maar ons kers sit sonder pit.
Elke jaar is dit my pleidooi — hoe gaan ons dié jaar se Kersfees anders doen? Hoe gaan dit anders, anders wees sodat ons sal onthou dit gaan oor die viering van ʼn diep spirituele (weder)geboorte? Sal ons die ster sien en volg tot by die plek waar ons moet wees om die engele te hoor sing van God wat in ons menswees leef en ons as mens wat seun/dogter van God is? Sal hiérdie Kersfees apart wees van al die voriges in die sin dat dit die Christenfees is wat ons medemenslikheid vier — meer nog, sal die betekenis van die Christenwoord, koinonia (fellowship and communion with God and fellow men) in elke opsig die inhoud en betekenis van hierdie Kersfees wees?
Kry ek ʼn WhatsApp van Altus gisteraand wat die volgende van Ds Hans Steyn met my deel. Dit verwoord wat ek probeer sê — “Ek het gisteraand die voorreg gehad om by Table View gemeente te kon deel wees van hulle Maandagaand se ete saam met haweloses, dwelmverslaafdes, straatmense en – vroue ... ja almal wat nêrens meer deel is van enige vorm van gemeenskap nie. Die saam-eet is ʼn erediens! Ons deel ons drome, ons praat oor die Skrifgedeelte, ons bid en sing, en ons eet saam. Daar gebeur iets aan die tafels ... skielik word Numza-sonder-adres-van-Da Noon my broer in Christus. Ons sit as gelykes voor God, dieselfde identiteit en status in Christus. Hy wil ʼn artist word, hoor ek. ʼn Sanger wat ʼn CD wil uitgee. Asraf en Miriam het gevlug uit die Kongo en sukkel met die nagevolge van die oorlog en diep verlange na hulle mense. Asraf wil ʼn ingenieur word. En Miriam vertel as sy die lotto wen ... dan koop sy ʼn wynrooi Range Rover. Ek vertel vir Bianca ek sukkel met PTSV en depressie en sukkel ook met die nagevolge van die destydse bosoorlog. Ons eet. Almal eet van die heerlikste kos berei deur ʼn engel, Minthia van der Vyver, en haar span. En daar is koinonia. Egte koinonia. Want dis die eerste week van Advent, en Christus, die hoop vir die wêreld, is hier. By ons. Tussen ons. In ons. Mag ons Christus die Kerstyd verwag en Hom op vreemde plekke ontmoet.”
“Waar is jy?” en “Wat maak jy hier?” is die indringende vrae wat hierdie seisoen voor elkeen van ons se harte lê. My eer en verwondering oor Kersfees is iets wat in my hart leef ... elke dag van die jaar. Eenmaal elke jaar kry ons ʼn geleentheid om dié wete te herlaai en ons doen dit met vriende en familie. Ons doen dit in ons Somer-Hoop projek en die sakke met inkopies wat ons Sondae na die Kapel bring. So word ons die hande wat die Liefde, Lig, en Lewe van Kersfees oordra aan hulle wat vra vir ʼn stal om geboorte te gee aan hul eie menswaardigheid.
So laat ons U Koninkryk kom. So laat ons U wil geskied. So bely ons opnuut, “Met my hele hart, my hele siel, met al my krag, en my ganse verstand ... en my naaste soos myself.” So ʼn Kersfees sal die hele jaar lank hou.

Besoek ons Facebook ​​​​​​​​​​​

Gedagte vir die Week:
“Then the Grinch thought of something he hadn't before! What if Christmas, he thought, doesn't come from a store. What if Christmas...perhaps...means a little bit more!” ― Dr. Seuss, How the Grinch Stole Christmas!

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights