Die doel van jou lewe is om jouself weer en weer en nog ʼn keer opnuut te skep en herskep. Noem dit bekering of wedergeboorte, noem dit herlaai of herstel, noem dit restourasie of rehabilitasie ... dit is ʼn voortdurende proses en die dag as dit stop, is jy dood en wag net om te sterf.
Die betekenis van lewe is om uitdrukking te gee aan elke ervaring, elke belewenis, elke avontuur van elke oomblik. Ja, dit sluit die soet en die suur, die lekker en die sleg, die vergoed en die verloor van elke ervaring in. Elke besluit van elke oomblik is ten diepste ʼn besluit oor hoe jy die beste weergawe van jouself kan wees. Sodra jy dit verstaan, sal dinge begin verander en sal ons alles vanuit ʼn nuwe perspektief sien. In elke keuse wat jy maak, elke gedagte wat jy het, elke woord wat jy sê, elke aksie en elke reaksie, vra jouself af: IS DIT DIE BESTE WEERGAWE VAN MYSELF?
Hoe sal jy reageer as die ganse kosmos oor ʼn megafoon so groot soos ons planeet vir jou sê, “Jy is soveel meer as wat jy dink, soveel groter as wat jy glo ... en jy maak saak, jy maak ʼn verskil.” — sal ons die illusie volhou dat ons behoeftes en verwagtinge als oorheers, sal ons steeds kerm oor mislukkings en teleurstellings, sal ons ons veroordeling en voorwaardes volhou of sal ons ʼn besluit maak om te WORD wat ons geroep is om te WEES?
Dis alles vrae wat aansluit by ons maand se tema oor — REBOOT YOUR LIFE — en het reeds gesels oor (i) begin by die begin, (ii) besluit wat belangrik is en wat nie, (iii) kom uit die loopgraaf van jou geut, (iv) kry ʼn gebalanseerde begroting, (v) neem verantwoordelikheid, en (vi) besef hoe waardevol trane is as dit ons help om te laat los (let go).
Hierdie week gee ons nóg drie tree vorentoe:
Gereeld hoor ons iemand sê, “My life feels stuck!” en daarmee word bedoel: ek weet nie waarnatoe ek op pad is; wat die sin van alles is; en hoe om ʼn verandering te maak nie. Soos enige iets anders in ons lewe begin ʼn nuwe roete, nuwe rigting met ʼn besluit. Daardie besluit maak ons met die beste intensies en nie met bakhande wat behoeftes en begeertes bedel nie. Ons gaan sit met ons spirituele kompas en kyk na ons lewenslandkaart en neem dan ʼn nugter, goed ingeligte besluit oor die pad vorentoe. Dit begin deur weer (opnuut) jou persoonlike waardes te definieer. Wat is die verskil tussen beginsels (principles) en waardes (values)? Die meeste mense het ʼn knapsak vol beginsels maar het geen idee wat hul waardes en deugde is nie.
► Jy kan dit noem: my-living-life-alive-reboot
Een van die heel belangrikste lewensvrae om vir jouself te antwoord is dit: wanneer is genoeg, GENOEG!? Dit geld vir ons genoegens — die goeters wat ons bymekaar maak om mense te beïndruk van wie ons nie hou nie. Dit geld vir die mentaliteit wat sê, “ek werk sodat ek die lewe kan geniet ...” Regtig? Jy werk om die lewe te geniet? Tussen jou 10 of 12 uur op kantoor, 6 dae van die week, en dag 7 om die volgende 6 dae se 10 / 12 uur te beplan? Dan koop jy ʼn groter huis, of dalk twee. Jy vat die familie, mét die au pair, na ʼn eksotiese eiland. Kom terug huis toe en “werk sodat jy die lewe kan geniet ...”
Maak geen fout nie, dit is fantasties om die finansiële vryheid te hê om in ʼn mooi huis te woon en op heerlike vakansies te gaan, maar huise en vakansies se gelukkigheid (happiness) hou nie baie lank nie en ʼn nuwe dit en ʼn nuutste dat se vreugde (joy) verdamp gou as jou prioriteite skeef en krom is. As jy ernstig is oor ʼn LIFE-REBOOT gaan jy meer tyd moet maak vir jou eie emosionele, intellektuele, en spirituele groei.
Leer om “NEE” te sê ... of dit dwelms of drank is wat jou laat vergeet wie jy is; geld, mag, seks in jou poging om te manipuleer en beheer te behou; godsdienstigheid wat onsensitief verdeeldheid saai; of hulle wat gulsig sonder dankbaarheid en waardering gryp en vat sonder om jou menswaardigheid met liefde, aanvaarding, respek, lojaliteit en seëninge te eer.
► Jy kan dit noem: my-enough-is-enough-reboot
‘Eindes’ is nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Om jou werk te verloor, uit ʼn verhouding te stap, of te emigreer is meer as dikwels ʼn geleentheid vir groei en transformasie. ʼn Herontdek en herwaardering van wie en wat jy is. Maar moenie daar vashaak nie. Ons kan nie die res van ons lewe oor en oor gister in ons kop afspeel met die hoop dat die storie anders gaan eindig nie. Leer daaruit. Groei daardeur. Pak die lesse in jou rugsak en slaan albei arms om vandag. Laat gaan die gedagtes en herinneringe wat nie jou menswees respekteer nie. Vergewe hulle wat vergeet het wie hulle is en kwaad is omdat dit makliker is om te blameer as om die les te leer.
Die geheim is om te beweeg van die verstand na die siel. Daardie aspek van ons kollektiewe menswees wat onlosmaaklik deel is van die Goddelike. Wanneer ons na onsself en die wêreld waarin ons leef kyk vanuit ʼn Goddelike perspektief, vind ons ʼn hele nuwe konteks van ons plek, rol, bydrae, roeping, en betekenis in die lewe in die algemeen en my lewe spesifiek. Wat die verstand vir jou bring, is ondervinding. Wat die siel jou gee, is wysheid.
► Jy kan dit noem: my-cornerstone-and-
Die lewe is kosbaar, bewaar dit. Die lewe is vol beloftes, bring dit tot vervulling. Die lewe is vol geleenthede, benut dit.
Hoop om Sondag almal in ons Sirkel te sien.
Met liefde en waardering
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
.
STAD: 27 Mei 2019 @ 19:30
KOLPING: 23 Mei 2019 @ 19:30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]