BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

19 Januarie 2014

Hierdie week se liturgie: 19_januarie_2014

So op ʼn volmaan Woensdag steek ons die halfpadmerk oor van die eerste maand. Ek sit gisteraand op ʼn klip en kyk oor die see en saam met elke brander wat inrol en teen klippe konsert hou, dink ek aan Franciscus van Assisi se “Brother Sun, Sister Moon!” Die getye met hul eie ritme, die maan in haar eie baan, laat my opnuut dink oor die begrip ‘tyd’ as ons praat van alles het ʼn vasgestelde tyd; tyd genees; kom tyd, kom raad; of soms uitroep “O, liewe tyd!” Herman van Veen sing: “De tijd tikt tot aan het slot en als de wereld valt dan is de klok kapot.” Wat ons dink is vandag die einde van die wêreld het môre geen betekenis nie. In die tussentyd mors ons soveel tyd — tot ons op ʼn dag wens om net nog eenmaal te sien, voel, hoor, ruik, proe waar son en see en strand en voetspore ontmoet.
By die huis gaan sit ek op die windstil stoep en tel liggies. Agter elkeen van hulle asem mense. Êrens bad ʼn pa sy kroos; kry ʼn kind sy goed reg vir vandag se eerste skool; maak ʼn petroljoggie iemand se kar vol; hou ʼn suster ʼn pasiënt se hand vas; kam ʼn vrou haar hare voor ʼn spieël ... en toe kom die maan op. Helder wit oor die hawe se kant en so begin ʼn tweegesprek in my gedagtes. ʼn Dialoog waar ek God hoor vra — “Is jy lief vir my?” waarop ek kinderlik opreg antwoord, “Ja, U weet ek is!” en toe, “Sal jy vir my lief wees as jy geen oë het om te sien nie?” Ek dink, wat ʼn vreemde vraag om te vra want dit moet verseker moeilik wees as ʼn mens nie die een vir wie jy lief is, kan sien nie. “Sal jy vir my lief wees as jy geen arms of bene het nie?” Nog ʼn vreemder vraag want ek het nog nooit daaraan gedink hoe dit moet wees as mens nie iemand se liefde met jou arms kan voel of bene het om na iemand te stap vir ʼn drukkie of ʼn soen nie. “Sal jy vir my lief wees as jy geen tong het nie?” en ek wonder waarheen is hierdie hoogwater in my kop op pad want ek kan my nie indink hoe dit moet wees as ek die woorde van liefhê nie kan sê of iemand vir wie ek lief is kan roep nie. “Sal jy vir my lief wees as jy geen ore het nie?” en dis toe dat ek wens ek het dit nie eers gehoor nie want miskien is ek met die maan gepla ... maar saggies hoor ek dit weer, “Is jy regtig lief vir my?” en weer antwoord ek, “ja, ek is regtig!” 
Dis toe dat ek besef — nou waarom doen jy nie iets daaromtrent as jy oë het om te sien, ʼn mond het om te praat, hande en voete het wat kan voel en loop en ore het om te hoor nie? As ons dit alles het, waarom is dit dan só moeilik om compassion te betoon?
Van kleinsaf hoor ons dat LIEFDE die belangrikste is maar word dan grootgemaak met die idee dat om te presteer is belangriker, om sekuriteit te hê, is belangriker. Leef gesond, staan eerste, doen die regte ding, maak die regte keuses ... en êrens verloor ons onsself in die proses om spontaan, onbevange, hartstoglik, onvoorwaardelik lief te hê. Dis tog nie vreemd dat vir wie liefde die belangrikste is, kom die res vanself. Nee, liefde bring nie materiële welvaart nie maar boy-oh-boy dit is ʼn skat wat al die welvaart van die wêreld nie kan koop nie!
Ons tema vir die maand is COMPASSION en laas Sondag het ons stilgestaan by die bekende verhaal van die Barmhartige Samaritaan as ʼn gelykenis van ons eie potensiaal om liefde te kies bo ons vrees, of as ʼn gewonde soms die liefdevolle omgee van ʼn vreemdeling te omarm. Eerskomende Sondag gaan ons my gunsteling gelykenis bespreek naamlik die verhaal van die Verlore Seun. Dis voorwaar ʼn verhaal waarmee ons almal kan vereenselwig en volgens my ʼn opsomming van waaroor ‘A Course in Miracles’ gaan.
ʼn Seun vra sy erfporsie en gaan stad toe om dit in ʼn kort rukkie uit te mors. Daar beland hy tussen varke en sê vir homself, “... selfs my pa se slawe is beteraf as ek. Ek sal teruggaan en as ʼn slaaf vir hom gaan werk.” Toe sy pa hoor sy seun is op pad terug gee hy opdrag dat die vetgemaakte kalf geslag word vir ʼn fees. Die broer het ʼn tantrum en sê vir sy pa dat hy sy lewe lank getrou vir hom werk en nie sy pa se geld gaan uit hoereer het nie maar vir hom is daar nog nooit eers ʼn bokkie geslag nie. En dan antwoord sy pa hom — “Jy is altyd by my, en alles wat ek het is joune, selfs as jy iets kortkom sal ek dit ook vir jou gee. Ons kan nie anders as om fees te vier nie want jou broer was dood, en hy nou lewe hy weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry!” Die broer dink dat sy pa se liefde vir ʼn verlore seun beteken minder liefde vir hom. Hy wil liefde meet en weeg en kwaai brom — “Dis nie regverdig nie!” Die verlore seun se gebed tussen die varke is “God, bring my terug na my sanity!” Die broer is die EGO se verwronge idee dat liefde verdien moet word maar Jesus vertel hierdie verhaal om die liefde van God te demonstreer — ʼn LIEFDE sonder voorwaardes, sonder boekhou, sonder vergelyking. Dis net ons wat ons hande voor ons oë hou en dan glo ons is blind. Die verhaal van die Verlore Seun is ʼn verhaal van COMPASSION maar bowenal van VERGIFFENIS want van al drie karakters word vergiffenis gevra. Hoe ontsluit vergiffenis, compassion?
      “To forgive is not to forget, to forgive is to remember that nobody is perfect and that each of us stumbles when we want so much to stay   
      upright. That each of us says things we wish we had never said. That we can all forget that love is more important than being right. To forgive
      is really to remember that we are so much more than our mistakes. That we are often more kind and caring and that accepting another’s flaws
      can help us accept our own. To forgive is to remember that the odds are pretty good that we might soon need to be forgiven ourselves. That life
      sometimes gives us more than we can handle gracefully. To forgive is to remember that we have room in our hearts to begin again and again,
      and again.” [To forgive is to remember — Author known to God]
Waag dit vandag om met ʼn geringe gebaar van welwillendheid vir iemand ʼn stukkie son te bring. Doen iets wat jy nog nooit gedoen het nie sonder om iets terug te verwag.
Kyk vanaand vir die volmaan! Sien hoe helder verlig sy die donker, dan staan ons op en gebruik ons oë, ore, mond, neus, bene, arms en omgee om die wêreld om ons ʼn beter plek te maak. 

Kom Sondag as ʼn “Brother Sun, Sister Moon” om ʼn kapel te verlig met ʼn helder teenwoordigheid. Tot dan, onthou om te onthou — vergiffenis en compassion laat ons op die voete van engele dans!
►►WERKSWINKEL: INLEIDING TOT ‘A COURSE IN MIRACLES’ (ACIM) — Saterdag 18 Januarie 10am-12pm — BESPREEK BY MY ASB
Die ACIM groepe begin weer 20 Januarie (STAD) en 23 Januarie (KOLPING)

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.

Gedagte vir die Week:
“Love and compassion are the mother and father of a smile.” ― Steve Maraboli: Life, the Truth, and Being Free

BOEKE wat deur Terblanche aanbeveel word 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-oarrow-circle-right
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights