Potgooi:
“Kindness in words creates confidence. Kindness in thinking creates compassion. Kindness in giving creates love.”
— Lao Tzu —
Ons staan dié maand stil by VYF van die ‘Kleiner Profete’ wat ons leer ken uit die Nevi’im (profetiese geskrifte) in die Ou Testament.
Ons het begin met Hosea wie se Godsbeeld verander na ʼn God van onvoorwaardelike liefde (ahavah). Toe het ons stilgestaan by Amos wat tot insig kom dat God is ʼn God van geregtigheid (tzedek). Laas week het ons gekyk na Miga wat tot die besef kom dat God is ʼn God van liefdevolle-goedheid (chesed), en vandag kyk ons na seker een van die bekendste verhale naamlik Jona wat tot die verstaan kom dat God is ʼn God van COMPASSION.
Die verhaal van Jona is ʼn storie (gelykenis) wat vertel word. Daar was nie ʼn historiese persoon met die naam Jona nie. Dit speel af rondom 800 BCE maar is geskryf êrens tussen 538 – 480 BCE.
Die woord Yonah in Hebreeus beteken: ‘Duif’ en sy pa se naam was Amittai wat beteken: ‘Waarheid’.
Die agtergrond waarteen die skrywer die storie vertel, is die tyd net na die Jode terug is uit ballingskap. Daar was soveel vooroordele en agterdog teenoor almal wat nie suiwer Jode was nie. Daar is met afsku gekyk na die Jode wat agtergebly en met ander volkere getrou het.
Op ʼn dag hoor Jona ʼn stem wat saggies fluister, “Staan op Jona. Gaan na Nineve. Praat met hulle. Sê vir hulle Ek sien hul woede en geweld.”
Hy vries. “Nineve? In Assirië? Absoluut nie!” Die Assiriërs was waarmee jy kinders bang gepraat het om hul huiswerk te doen en hul blomkool te eet. Assirië was die ryk wat nasies verpletter, mense gemartel, en oor onskuldige bloed geloop het asof dit plaveisel was. Almal het geweet: Assirië was die ‘swart hart’ van die wêreld.
Vir God om te sê, “Gaan na Nineve!” — was soos om vir ʼn Israeli te vra om na Gaza te gaan en vir Hamas te sê, “God is ook vir julle lief,” of vir ʼn priester uit Ukraine om na Moscow te gaan en te sê, “God se genade is ook vir julle.”
Dit was vir Jona net so ondenkbaar as gevaarlik en hy is seker God maak ʼn fout. Daarbenewens weet Jona dat God hom nie stuur om vir die inwoners te gaan sê dat God hul gaan verpletter nie, maar om hulle te vra om berou te hê sodat God hulle kan red, en Jona haat dié idee.
So doen Jona wat almal van ons doen as iemand met outoriteit ons vra om iets te doen wat ons nie wil nie — hy sê, “JA,” maar doen iets anders. Hy gaan na die hawe en vat ʼn boot in die teenoorgestelde rigting. Al die pad na Tarshish in die Suid-Weste van Spanje.
ʼn Groot storm breek los en die kaptein besef dat Iemand daarbo, hou nie van iemand hier onder nie, en besluit om die lot te werp wat toe op Jona val wat erken dat God gesê het hy moet Nineve toe en hy probeer om God die verleentheid te spaar vir ʼn enorme fout wat Hy maak.
Hulle gooi Jona oorboord en dan verskyn ʼn ‘GROOT vis’ (nêrens sprake van 'n walvis nie) wat vir Jona heel insluk. Vir drie dae en drie nagte is hy in die maag van die vis maar toe kon die vis hom ook nie langer inhou nie (Jona het seker gerook!)
Die vis braak Jona uit op land en toe hy die laaste vis-spoeg en binnegoed van sy gesig afvee, hoor hy weer die stem wat sê, “Hoe lyk dit Jona, is jy lus om Nineve toe te gaan?”
Jona stem in, maar soos ons almal besluit hy dat as die eerste manier nie werk nie sal hy die tweede manier probeer wat ek noem: die Frank Sinatra manier — “I’ll do it MÝ WAY!”
Hy daag op in Nineve en preek al die verse van veroordeling en ongeregtigheid met skuim om die mond, in al die agterstrate en buitewyke van die stad. Tot sy skok, en teleurstelling, kom die hele stad tot bekering — van die koning tot selfs die diere. Hulle skeur hul klere en met diep berou en trane pleit hulle vir God se vergiffenis en genade.
Jona is woedend en gaan sit buite die stad om te sulk. God is stil en sê niks. Toe Jona die volgende dag wakker word, is daar ʼn boom met ʼn dik bas en baie blare langs hom waar hy kan skuil teen die woestynwind en hitte van die son. Hy is passievol lief vir die boom. Steeds sê God niks en is daar net stilte.
Die aand gaan slaap hy, en toe laat God ʼn wurm kom wat die hele boom opvreet. Die volgende dag sien Jona dit en hy huil soos ʼn minnaar wat sy geliefde aan die dood afgestaan het. Hy treur en ween oor sy mooi boom.
Dan antwoord God en vra, “Hoe is dit dat jy soveel medelye en empatie het vir 'n boom wat jy nie geplant het, nie water gegee het, nie gehelp het om te groei, en net een dag daar was — maar vir 'n stad met 120,000 inwoners wat ‘nie hul linkerhand kan onderskei van hul regterhand nie’ asook al die diere voel jy niks behalwe bitterheid en haat?
Jona is stil want hy besef dat God se compassion is soveel groter, soveel dieper as sy bekrompenheid en misplaaste nasionalisme, sy vooroordele en selfgeregtigheid.
Hy treur oor ʼn plant, God treur oor ʼn stad. Jona wil wraak hê, God wil genade hê. Jona se hart is te klein vir God se liefdevolle-goedheid, God se hart is groot genoeg vir ʼn allesinsluitende en allesomvattende liefde.
God se ‘compassion’ is nie ʼn beloning nie — dit is die atmosfeer waarin ons asem.
Die Hebreeuse woord vir ‘compassion’ is: rachamim — wat letterlik beteken: baarmoeder. Om ‘compassion te hê’ (rachum) is die liefde van ʼn moeder vir haar ongebore kind in haar skoot. Dis ʼn tere liefdevolheid wat sy voel terwyl sy haar kind versorg, koester, en veilig hou.
Soos enige moeder, kom God na ons toe en sien ons wonde voor Hy ons foute en mislukkings sien, en Hy beweeg altyd eerste na die wonde toe.
Elkeen van ons kan ten diepste assosieer met die verhaal van Jona.
Ons hoor soms daai stil stem aan die binnekant wat vir ons sê wat die regte ding is om te doen. Ons sê ons sal dit doen, maar doen dit nie of besluit om dit te doen maar soos ék wil, wanneer ék wil, solank dit iets vir mý inhou.
Ons weet van die ‘vis’ wat ons heel insluk — elke diep emosionele gat wat ons gevange hou: daardie egskeiding wat jy nie gesien kom het nie; 'n diagnose wat jou lewe in twee skeur; 'n teleurstelling wat jou selfbeeld en selfvertroue in 'n duisend stukkies breek; 'n verslawing wat elke verhouding om jou vernietig; of 'n krisis in jou geloof as jy 'n kans staan om als te verloor wat jy bymekaar gemaak het.
Ons het almal al in ʼn Nineve gestaan — waar ons vergiffenis vra vir onsself maar nie vir hulle wat ons seergemaak het nie. Ons bid vir vrede, maar doen dit vanuit ons ivoortorings van vooroordele en diskriminasie. Ons praat oor liefde tot dit 'n opoffering van ons vra. Ons glo God is universeel tot God se seëninge val op hulle van wie ons nie hou nie.
Nou is die vraag — waarvan hardloop jy weg; wie is jou Nineve; wie is daar wat jy weier om te vergewe en wat jy sal verkies dat God hul eerder sal straf as wat God hul wonde genees?
As ons aan Jona dink, onthou dit: ons almal leef in die skoot van God, laat ons daarom geboorte gee aan compassion teenoor almal, want God doen.
Met liefde.

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
