Potgooi:
“God and love are synonymous. Love is not an attribute of God, it is God; whatever God is, love is.”
— Oswald Chambers —
Daar is 16 profetiese boeke in die Ou Testament waarvan 12 bekendstaan as die ‘Kleiner Profete’ bloot op grond van die feit dat die boeke nie baie lank is nie.
Die meeste Christene is uiters onkundig oor hierdie bundel boeke. Wie kan sê wat die inhoud en betekenis van Sefanja of Obadja is, of ʼn enkele vers aanhaal uit Miga, Joël, of Amos?
Wat sal jy sê as ek jou vertel dat elkeen van hierdie boeke is nog net so relevant in vandag se tyd, en dat elkeen van hulle se boodskap van toepassing het op ons geloof, werk, huisgesinne, en persoonlike lewe?
Ons gaan hierdie maand stilstaan by VYF van hierdie Kleiner Profete en vandag begin met HOSEA —
Die aangrypende verhaal van Hosea is roerend tragies. Dit speel af tussen 750-722BCE in die Noordelike Ryk tydens die koningskap van Jerobeam II. Israel was materieel welgesteld maar moreel bankrot en oral was die ‘verval’ duidelik sigbaar en dit was net ʼn kwessie van tyd voor hul sou val voor Assirië.
Hosea kom uit ʼn familie van priesters en profete. As ʼn ouer, rustiger, heilige man trou hy met ʼn heelwat jonger vrou genaamd Gomer — die een met helder oë en dansende voete. Ek kan my voorstel hoe sy vriende en familie hom sou waarsku teen so 'n baie jong en mooi vrou.
Aanvanklik gaan als goed tussen Hosea en sy jeugdige en energieke bruid. Hulle is deel van die JET-SET en elke aand is daar ʼn ander party — wat gewoonlik nie begin het voor Gomer nie daar is nie en baie gou tot ʼn einde kom as Gomer vertrek het.
Na ʼn rukkie kom Hosea en Gomer tot ʼn ooreenkoms dat hy vroeër huis toe gaan en sy kan vir nog so rukkie kuier. Dit gebeur dan ook dat sy heelwat later by die huis aankom met haar vriende. ʼn Baie ongesonde praktyk selfs in vandag se standaarde.
ʼn Ruk later het Hosea glad nie meer saam uitgegaan nie en sy het saam met haar vriende uitgegaan en saam met haar vriende weer huis toe gekom. Drie kinders word gebore met vreemde name: die oudste is ʼn seun wat hy noem, ‘Jezreel’ (God strooi), en toe ʼn dogter genaamd, ‘Lo‑Ruhamah’ (geen genade), en toe nog ʼn seun met die naam, ‘Lo-Ammi’ (nie my volk nie) want Hosea is nie seker of enige van hierdie drie kinders syne is nie.
En toe kom daar ʼn aand waar Gomer glad nie huis toe kom nie. Hosea het oral na sy vrou gaan soek. Dae en nagte het weke en maande geword waar hy tussen die strate van Galilea en Samaria geloop en roep het na sy vrou.
Intussen het Gomer die tyd van haar lewe. Sy het die gunsteling-play-thing geword wat vir jare lank aangehou het tot op ʼn dag wat die onvermydelike begin gebeur het — Gomer kyk een oggend in die spieël en sien kraai-pootjies om haar oë, gevolg deur die harde ontnugtering dat sekere gedeeltes van jou anatomie begin SAK.
Kort daarna het die JET-SET ʼn jonger model gevind, en was Gomer nie meer die ‘centre of attention’ nie. Maak nie saak hoe hard sy probeer het om die plooitjies toe te maak, en kunsmatig dit wat hang te lig nie, het niemand meer belanggestel nie. Die onvermydelike was nou ʼn realiteit en die enigste uitweg was om haar dienste te verkoop, en so word Gomer ʼn prostituut.
Maar selfs vroue-van-die-nag moet iets hê om te verkoop en toe dit ook nie meer aantreklik is nie, beland sy op ʼn slawe-blok waar Hosea tot sy skok sien dat hierdie gehawende vrou met gekoekte hare en bloedbelope oë wat opgeveil gaan word, is Gomer. Hy sit ʼn bot in van 15 stukke silwer en almal lag hom uit want vir daai prys kan hy ʼn jong manlike slaaf koop wat sterk is en nog baie jare kan hou.
Hy vat haar huis toe, nie as slaaf nie, maar as sy vrou en die ma van sy kinders — he restored her dignity — en so kom Hosea tot ʼn hele nuwe verstaan van God se onvoorwaardelike liefde.
“Love has nothing to do with what you are expecting to get – only with what you are expecting to give – which is everything.” — Katharine Hepburn
Sy huwelik word ʼn metafoor van Israel se ‘ontrouheid’ teenoor God, waar daar ʼn groter ‘commitment’ tot welvaart is en hoe om ander uit te buit as wat daar ʼn toewyding en eerbied was teenoor God.
Hoe is hierdie verhaal van toepassing op die tyd waarin ons leef?
Ons lojaliteit is nét so gebroke vandag. Ons beoefen ʼn halfhartige spiritualiteit wat fokus op MÝ geluk, MÝ behoeftes, MÝ tyd, EK sal besluit wat, waar, en hoe ek getrou sal bly aan enige iets, wat nog te sê aan GOD.
Net soos in die tyd van Hosea het die kanker van ‘complacency & indifference’ ook ons samelewing in die wurggreep van morele bankrotskap. ʼn Kalm-onbetrokkenheid wat lei tot stagnasie wat vir niks staan nie en vir alles val.
Daarmee saam ly ons aan ʼn traak-my-nie-agtige houding waar iemand anders iets kan doen, iemand anders sal help, iemand anders moet verantwoordelikheid vat — en as enige iets fout gaan, kry iemand anders die skuld.
Hosea se liefdesverhaal is ook ʼn refleksie van vandag — soveel gebroke huwelike en verhoudings, soveel interne konflik vanweë ons disfunksionele behoeftes en verwagtinge. Tog bly God se liefde getrou, selfs waar ons met die liefde mors en nie eers vir onsself lief kan wees nie.
Ons liefde is voorwaardelik — en kan net lief wees as jy eers vir mý liefde wys, sal net liefdevol wees as jy doen wat ek sê. Maar dit is nie hoe God se liefde werk nie. God se liefde is onvoorwaardelik — no terms and conditions apply!
Ons almal het iets van Gomer in ons. Ons wil hê almal moet van ons hou en leef ons in die verwagtinge van ander mense. Ons het geen moeite om ons eie menswaardigheid op te offer solank ons net nie verwerp word deur ander nie.
Maar dit is Hosea se vermoë om te kan vergewe wat God se liefde vir Gomer ontsluit. Sy radikale aanvaarding van wie Gomer is, sê, “ek vat jou met die lig in jou oë ÉN die donkerkant van jou siel… want toe jy my vergeet het, het ek jou onthou.”
DÍT is liefde.
Soos altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
