Potgooi:
“Your True Self is who you are in God and who God is in you.”
— Richard Rohr —
Elke godsdienstradisie vra dié vraag: Wat in ons is EWIG? — daarmee probeer ons sin maak van die lewe ná die dood.
Persoonlik dink ek ons brein is gewoon te klein om ‘ewigheid’ te begryp. Ons besef skaars hoe onbeduidend ons plek in ons eie sonnestelsel is, wat nog te sê in die konteks van ʼn sterrestelsel. En as ons probeer verstaan wat ons plek in die uitgestrekte heelal is, voel dit asof ons laaste bietjie begrip eenvoudig verdamp.
Tog is ons die enigste planeet waarvan ons weet waar daar ʼn spesie is wat oor hierdie vraag dink, en met ‘self-awareness’ oor ons plek in die heelal besin.
Ons glo dat God die God van die ganse kosmos is. God is teenwoordig in die makrokosmos van materie en waarna wetenskaplikes verwys as “dark matter and dark energy” (nie omdat dit 'donker' is nie maar so onbekend en ondefinieerbaar), en net so ook in die subatomiese gedeeltes van die mikrokosmos.
Wanneer ons praat oor God as Lig, Lewe, Liefde, en Waarheid, weerhou ons onsself om vir God vorm, definisie, of dimensie te gee. Ons berus eerder in die nederige besef dat ons God slegs kan ervaar in ons liefde (i.e. in ons omgee, erbarming, vreugde, vergiffenis, en vrede).
“Die een wat nie liefhet nie, ken God nie, want God is liefde.”
— 1 Johannes 4:8
Dit is die agtergrond vir ons maand se tema oor die ESSENSIE van ons menswees en met ‘essensie’ bedoel ons die diepste waarheid van wie ons is.
Hoe verander dit ons perspektief oor onsself as ons hoor ons is Beeld en Gelykenis van God (Gen 1:26), ons asem die Asem van God (Gen 2:7), en dat ons Geliefde seuns en dogters van God is in wie Hy ʼn welbehae het (Lukas 2:14, 3:22)?
Dit is merkwaardig dat dit juis die Christen-mistici was wat oor hierdie vraag die diepste nagedink het. Een van hulle was Johannes van die Kruis (1542–1591), ʼn Spaanse priester wat dit mooi verwoord as hy skryf:
“The soul is in itself the most lovely and perfect image of God. In order to reach the summit of this high mount, (the soul) must have changed its garments (resulting in) a new understanding of God in God, the old human understanding being cast aside, for a new love of God”
Met ander woorde: ons diepste wese is reeds die beeld van God, maar om dit werklik te ontdek moet ons van ons ou denke, ons ou vrese en vooropgestelde sekerhede afstand doen.
Die vraag is nie: wat het ek bereik; hoeveel besit ek, watter rol speel ek in die samelewing nie. Hierdie dinge verander die hele tyd — ons verander van werk, ons het verskeie lewensmaats, ons liggame verouder, ons oortuigings krimp en verbreed, ons gemoed gaan deur hoog- en laagwatergetye.
Maar diep binne ons is daar ʼn kern wat standvastig bly.
Waarna Thomas Merton, Carl Jung, en Richard Rohr verwys as my ‘Ware Self’, is die diepste waarheid van wie ek IS onder al die maskers en sluiers van my prestasies, verwagtinge, en vrese.
Die ego wil homself voortdurend bewys. Die Ware Self hoef niks te bewys nie.
Heel my lewe lank is my geloof geanker binne die Christen-Mistiek. Vanuit hierdie perspektief het ek lankal besef dat ons essensie die plek is waar ons menslike ervaring en God se teenwoordigheid mekaar in stilte ontmoet.
Dit beteken nie dat ons God word nie, maar beteken wel dat ons oop is om die lig, lewe, en liefde van God deur ons te laat vloei. Paasfees is nie net ʼn herdenking wat 2000 jaar terug in Jerusalem gebeur het nie, maar ʼn Waarheid wat in ons diepste menswees manifesteer — dat daar 'n LEWE in ons is wat die dood nie kan uitdoof nie.
Daarom pleit ek dat Paasfees met meer toewyding en introspeksie gevier sal word en NIE as net nog ʼn langnaweek nie. Dat dit ten diepste gaan oor innerlike transformasie wat elke aspek van ons lewe sin en betekenis, en waarde gee.
Maak tyd om stil te raak. Regtig stil. Word bewus van jou gedagtes wat kom en gaan. Een oomblik voel ons selfverseker en dan weer onseker. Die een dag hoopvol en die volgende dag weer oorweldig deur twyfel.
Vra jouself: waar kom hierdie emosies vandaan; wat probeer dit sê; hoe kan ek anders daarop reageer sodat my emosies nie voel soos blare wat deur die wind heen en weer gewaai word nie?
As skuldgevoelens vra: hoekom gebeur dit met my; wat het ek verkeerd gedoen; hoekom voel ek soos 'n teleurstelling — onthou in wie se Beeld jy geskape is.
As vrees sê: jy gaan dit nie maak nie; die res van jou lewe gaan 'n herfs-seisoen wees; en verwerping is wat jou in die oë staar — dan bring ons dit na die kruis waar die horisontale balk ons herinner aan ons eenheid met mekaar en die vertikale balk ons herinner aan ons eenheid met God, en wat met liefde gedoen word, verdryf die vrees wat maak dat ons ons doel mis.
Hoe baie kyk ons na die KRUIS en voel uitgesluit, asof ons nie werklik glo dat dit deel van óns lewe is nie? Verlossing, vergiffenis, vernuwing … ? Ja, vir ander — maar nie vir mý nie.
Verlossing beteken bevryding van als wat maak dat ons ons lewensdoel mis.
Vergiffenis van al die gedagtes wat ons het oor die goed wat met ons gebeur het.
Vernuwing beteken om te beweeg van wat was, na die eindelose potensiaal wat reeds in ons opgesluit lê.
So kry Paasfees ʼn nuwe betekenis waar ons onthou:
Die boodskap van Paasfees is dat daar net een ding is wat magtiger is as die dood: LIEFDE.
Dood het nie die laaste woord nie. Liefde het.
Wanneer ons deur hierdie lens na die Kruis kyk, verander alles. Die kruis word nie meer ʼn simbool van dood nie — maar ʼn uitnodiging tot LEWE:
God is liefde. ONS God is liefde.
Soos altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
