
Foto: Filip Kominik.
Potgooi:
“A house does not only hold furniture; it holds versions of ourselves we must grieve when we leave.”
— Susan Miller —
Om te verhuis, is iets wat die lyf doen en in die brein sin maak, maar nie besef dis ʼn eksistensiële skuif in jou hart nie. ʼn Huis is nie net ʼn struktuur nie maar ʼn getuie van als wat gebeur het oor meer as twee en ʼn half dekades.
Dit het gesien hoe ons ouer word, treur, dans, seerkry, feesvier, en geword het wie ek is in al die skakerings en nuanses van my menswees.
Ek stap oor die drumpel van my ou huis en die harde werklikheid van finaliteit sink in — dit voel soos dood en afsterf… om ʼn laaste keer ‘koebaai’ te sê.
Ek stap oor die drumpel van ʼn nuwe huis en alles voel onbekend. Vertrekke vol boeke-bokse, bubble-wrap skilderye, en meubels wat nie weet waar dit moet staan nie.
My lyf is hier, maar my siel is nog in Tamboerskloof. Alles is anders en mens voel gedisoriënteerd. Die vraag is: wanneer sal alles weer bekend voel?
Drempels is onsigbare lyne tussen wat was en wat sal wees. Dis nie soseer ʼn gevoel van disorder nie, maar eerder die gevoel van displacement.
Die SELF wat eens gemaklik beweeg het van bo na onder in my huis, twyfel en huiwer nou van een vertrek na die ander.
Die ritme wat eens so bekend was, is onderbreek. Alles wat mooi was in my ou huis — kruise en skilderye — is nou net ʼn herinnering wat wag om hul plek te vind teen mure wat my nog nie ken nie.
Om oor die drumpel van die nuwe huis te stap, is om te aanvaar dat iets wat WAAR was, het tot ʼn einde gekom — en dat iets wat WAAR is, en nog nie ʼn naam het nie, gaan nou 'n nuwe vorm en inhoud aan betekenis gee.
Dit is ʼn seisoen wat vra om stadig en saggies te loop. Dit nie te jaag nie.
Om van ʼn huis 'n HOME te maak, kom nie met ʼn tydlyn nie. Mens moenie ongeduldig raak nie — want die LEWE het ʼn manier om altyd weer sy pad te vind na ekwilibrium.
Die heiligheid van die oomblik lê in die wete: al voel als onklaar, onseker, onbekend, en onopgelos — gee dit GEBOORTE aan ʼn nuwe lewe …
— en elke geboorte gaan met pyn gepaard.
Drempels is nie grense nie, dis nie mure nie, dis nie heinings nie. Dis ʼn deurpad.
Hier is wat ek geleer het hierdie week —
Nou kan jy my vra — wat het jóú trek te doen met mý lewe?
Die antwoord is eenvoudig: ÁLLES!
Almal van ons gaan deur sulke oomblikke van lig en swaar voel op dieselfde oomblik. Niks dramaties het gebeur nie, geen krisis, geen spesifieke rede nie — maar jy kan voel iets het geskuif. Wat was, pas nie meer nie. Ons voel onsself in daardie ‘tussen-in-tyd’ staan.
Hierdie oomblikke is emosionele drempels.
Dit is nie net deure nie, maar enige plek waar ons voel ons laat iets gaan, en iets nuuts is besig om te gebeur. Tussen wat bekend is en iets wat ons trek na ʼn nuwe ervaring. Drempels verskyn waar verhoudings verander, wanneer jou werk sy betekenis verloor, wanneer kinders grootword, as ʼn siekte jou lyf plat trek, of as jou geloof wankel onder onsekerhede.
Sulke drempels laat ons ongemaklik voel. Ons ontken of steek daai emosies weg en maak gewoonlik impulsiewe besluite om so gou as moontlik oor daai drempel te kom. Sulke tussen-in oomblikke is ongeleë en word gesien as iets wat ons moet ‘verduur’ sonder om te besef dat drempels beteken nie iets is fout nie maar deel van die lewe se ritme dat iets eerlik besig is om te gebeur.
Tussen-in-tye voel onproduktief in moderne standaarde. Besluite voel prematuur. Energie fluktueer. Motivering wat vroeër gewerk het, ontbreek. Nuwe inspirasie voel onbetroubaar.
As ons net sal besef hoe daai ‘in limbo’-oomblikke vorm gee aan ʼn transformasie van wie ons is as mens — ons hoop, wense, drome, aspirasies, en ideale.
Kom ons kyk Sondag na alles wat ons oor die drumpel DRA sonder dat ons daarvan bewus is.
Ons verwar familiariteit met waarheid, en dis eers as omstandighede verander, roetines gebreek word, en ons broos sekerhede besef wat die gewig van alles is wat ons vir jare lank saam ons dra, dat ons vrymoedig oor die drempel kan stap.
Drempels ontbloot daardie onsigbare bagasie wat ons laat vergeet het wat is essensieel. Dat wysheid nie verdamp as ons twyfel nie. Dat liefde nie verdwyn omdat die omgewing verander het nie, en dat ons herinneringe soos souvenirs ons voete op die grond hou, en ons harte stewig vashou.
Dit is nie die bokse wat die swaarste is wat saamgekom het nie, maar die bokse wat waarde het.
Met ʼn nuwe bossie sleutels kom ʼn kans — as ons bereid is om dit te vat — om meer eg, meer eerlik, meer bewustelik en oplettend te leef.
Miskien is die genade van die oomblik hierdie waarheid: ek weet nie hoe my nuwe adres my lewe gaan verander nie, maar ek weet dit gaan my op 'n reis vat van groei en herontdek wie ek is as man, pa, vriend, en beminde.
Met liefde

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
