Potgooi:
“The primary cause of unhappiness is never the situation but your thoughts about it.”
— Eckhart Tolle —
Winter leer ons dat Spiritualiteit (ons verhouding met God) nie ʼn ewige Somer en kalm see belowe nie, maar hoe om in die donker en deur storms te vaar.
Net die idee van donker nagte en storms vul ons met vrees. Die gedagte dat iets buite ons beheer gebeur, maak ons angsbevange. Hoeveel van dit waarvoor ons bang is, gebeur werklik? As ons eerlik is — bitter min. Die meeste vrese sit in ons kop en het niks te doen met die realiteit nie.
Die brein se primêre funksie gaan oor oorlewing. Dis geprogrammeer om te beskerm, i.e. vermy enige bedreigings. Dit soek gevaar, selfs waar daar nie een is nie. Ons voorvaders het geweet dat as jy een gevaar mis, is jy dood. Vandag beteken dit ons sien leeus waar daar net skaduwees is.
Navorsing het gewys dat die brein nie kan onderskei tussen fisiese en emosionele pyn nie. As ons deur vernedering, verwerping, kritiek, of teleurstelling gaan, aktiveer dieselfde gedeelte in die brein asof jy in fisiese pyn en gevaar is.
Dit vra emosionele intelligensie (EQ) om te kan onderskei tussen werklike gevaar en wat is ʼn emosionele reaksie. As ons net in ons koppe leef en besluite neem uit vrees, dan sal ons nooit die risiko vat om ʼn tree te gee in die onbekende landskap van liefde, vrede, vergiffenis, compassion, of medemenslikheid nie.
Eckhart Tolle is reg as hy sê, dis nie wat met ons gebeur wat die emosionele pyn veroorsaak nie maar die manier wat ons daarop reageer (daaroor dink).
As ons vashaak by die reptiel-brein se VEG / VLUG-reaksies kom ons nooit by die dieper vrae oor betekenis en vervulling uit nie. Ons bly slawe van vrees sonder om daarvan bewus te wees.
In Markus Evangelie is daar twee verhale oor die storms van vrees.
Die eerste een vertel van ʼn storm wat losbars terwyl Jesus lê en slaap in die boot. Sy dissipels skud hom wakker en vra: “Rabbi, gee jy nie om dat ons vergaan nie?” Jesus sê toe vir die wind, “Wees stil, bedaar!” 'n Groot kalmte volg. Hy vra toe vir hulle, “Waarom is julle bang? Het julle steeds nie geloof nie?” (Markus 4:40)
In die tweede verhaal uit Markus 6 is die dissipels weer in ʼn storm, maar Jesus was nog op land. Toe kom hy aangestap op die water en die dissipels skree vreesbevange dat dit ʼn spook is. Hy sê toe, “Wees dapper. DIT IS EK — moenie vrees nie!”
Matteus 14:28 kleur die prentjie dan verder in deur te vertel hoe Petrus sê dat as dit Jesus is, moet hy vir hom sê om na hom toe te kom. Jesus sê, “KOM!” en dan klim Petrus oorboord en loop op die water. Skielik sien hy die golwe en voel die wind ruk en dan begin hy sink terwyl hy uitroep, “Here, red my!” Jesus steek sy hand uit, gryp hom, en sê, “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Hier is vrees ’n tweesnydende swaard — kleingeloof en twyfel voed vrees, en vrees voed weer sinisme, wantroue en onsekerheid.
Kleingelowig ken net vertroue as die weer mooi is met geen storm op die horison nie. Twyfel is daai klein stemmetjie aan die binnekant wat die hele tyd agterdog saai. Dit maak ʼn gat waardeur water lek.
Vrees is die emosionele storm waar die EGO fluister dat ons dit nie gaan maak nie, omdat ons geloof te klein is, te broos, en so maklik gesluier word deur vrees.
Ons vertrou God net solank ons ons sin kry. Met die geringste ongerief soek ons waarborge, en ervaar God se teenwoordigheid net wanneer alles maklik is.
Ons roep na God om die storms weg te vat, maar vra nie vir God om ons te wys HOE om veilig deur die storm te kom nie. Oor en oor in my lewe het ek tot die diepste waarheid en grootste insigte gekom ten midde van storms.
Twyfel is so deel van ons menswees soos dors. Dit beteken nie ons geloof is swak en ʼn mislukking nie, maar van ʼn geloof wat durf om vrae te vra.
As Jesus vra: “Waarom het julle steeds so min geloof? Waarom twyfel jy?” dan is dit nie ʼn beskuldiging of veroordeling nie, maar ʼn uitnodiging wat vra: waarom fokus jy op die storm en wind as Ek reg voor jou staan?
Die vraag is: Wat doen jy met jou twyfel? Gee jy dit oor aan jou vrese sodat jou kop vir jou kan besluit wat is die slegste wat gaan gebeur? Gaan jy in 'n veg / vlug-reaksie, of is dit dat jy meer geloof het in jou twyfel, meer vertroue het in jou redes vir vrees?
Hierdie twee stories het vier argetipes wat deel is van ons almal se lewe:
Ons kan óf in die boot bly en nooit ontdek waartoe ons in staat is nie, óf ons kan die LIG na die donkerte bring. Ons kán leer (as ons wil) hoe om veilig deur die storms te navigeer. As ons dapper genoeg is, sal ons oorboord stap, en ontdek dat ons almal op water kan loop.
Ek sê weer: emosionele vrees berus op aannames, ʼn storie wat ons onsself vertel wat niks te doen het met die werklikheid nie.
In John Shelby Spong se kommentaar oor hierdie twee verhale skryf hy:
“The Christ within is the capacity for presence. The ability to remain grounded in uncertainty. The awareness that observes thoughts without being consumed by them. The deep trust that LIFE is larger than the immediate storm.”
Waarheen hierdie boot van GELOOF ook al gaan, gaan ek saam.
Soos altyd

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
