Potgooi:
“Loyalty is tested when circumstances change. Faithfulness is proven when you stay true to your commitment.”
— Sonya Parker —
Vir ʼn maand lank reis ons met VYF van die ‘Kleiner Profete’ wat elke op hul eie manier deur ʼn transformasie gegaan het van hoe ons God ervaar, en oor God moet dink. Dit was ʼn dramatiese skuif van ʼn Godsbeeld wat vir ʼn duisend jaar God gesien het as ʼn ‘Tribal God’ deur priesters wat die Torah belangriker ag as om na die Stem van God te luister, en waar daar op die wreedste manier opgetree is teenoor ander nasies, alles in die naam van hierdie God
Ons het begin met Hosea wie se Godsbeeld verander na ʼn God van onvoorwaardelike liefde (ahavah). Toe Amos wat tot die insig kom dat God is ʼn God van geregtigheid (tzedek). Daarna oor Miga wat tot die besef kom dat God is ʼn God van liefdevolle-goedheid (chesed), en laas week gekyk na Jona wat tot die verstaan kom dat God is ʼn God van compassion (rachamim).
Ons sluit af met Habakuk wat God sien as ʼn God van getrouheid (emunah).
Sy naam kan beide beteken: om te omhels (embrace) en om aan vas te klou (cling).
Ek hoor hom sê, “Ek het my lewe lank aan God vasgeklou selfs in my twyfel, en God omhels toe die wêreld ondraaglik gevoel het, en geweier om te laat los, selfs al het die antwoorde nooit gekom nie.”
Die boek wat sy naam dra, lees soos ʼn joernaal van gebede. Dit is ʼn dagboek vol versoekskrifte, pleidooie, en smekinge om met vertroue die moed te hê om aan te hou soek na antwoorde en met integriteit die lewenspad te stap.
Hy word die stem vir almal wat al ooit gevoel het: mense praat oor God se onvoorwaardelike liefde maar hul eie liefde kom met voorwaardes; mense praat oor regverdigheid maar lig nie 'n vinger om iets vir iemand anders te doen as daar nie iets in is vir hulself nie; mense praat oor ‘kindness’ tot hul nie hul sin kry nie; mense glo God is 'n God van ‘compassion’ maar sukkel om te vergewe en om uit te reik na hulle wat weerloos en kwesbaar is.
Die woord ‘emunah’ wat soos ʼn refrein herhaal, beteken: om lojaal en betroubaar, geloofwaardig, standvastig, en getrou te wees ongeag ons omstandighede.
Al die ander profete rig hul woorde aan mense wat konings en priesters insluit. Hulle gaan met ʼn opdrag na ander om met vermaning en aansporing te pleit vir inkeer, en om hul aksies en reaksies weer te belyn met wie en wat God werklik is, en wat Hy van ons vra.
Habakuk se skrywe is intiem persoonlik. Vir drie hoofstukke lank slinger hy sy vrae na God. Hy probeer sin maak van die tyd waarin hy leef. Hy wil weet hoekom die wêreld lyk soos hy lyk; waar is God as dit seer is; en hoekom God toelaat dat slegte goed gebeur met goeie mense?
Hoofstuk 1:
‘n Gebed word Klaaglied
Habakuk kyk om hom en al wat hy sien is: geweld, korrupsie, onreg, gierigheid, en uitbuiting. Hy vra wat almal van ons dink maar min durf om te sê —
“Waarom hoor U nie, hoekom bly U stil, Here? Waarom doen U niks nie, o God?” — Hab 1:2-4
Miskien voel jy ook soms dat ons vra en soebat maar God reageer nie en dan sug ons moedeloos en sê, “Ek weet nie meer hoe om te bid nie.”
Dan antwoord God dat hy die Galdeërs gaan stuur om die Israeliete te leer van ‘getrouheid’ en dit ontstel Habakuk nog meer want hoe kan ʼn liefdevolle God wat getrou is so iets laat gebeur?
Hoofstuk 2:
‘n Gebed word Waglied
Habakuk klim op die wagtoring en wag vir God se antwoord. God reageer maar nie met ʼn maklike antwoord nie —
“Die regverdige (tzedek) sal leef deur sy getrouheid (emunah).” — Hab 2:4
Moses gee 613 wette en Habakuk vat dit saam in één: Die regverdige hou aan om reg te doen, al stort die wêreld rondom hom ineen. Die een wat getrou is, is betroubaar en weet wat die regte ding is om te doen, en doen dit dan!
Dan kom die waarskuwing / vermaning van God —
Habakuk eindig nie met antwoorde nie, maar met ʼn gebroke Halleluja. Hy kyk terug na wat God gedoen het deur die geskiedenis — hoe Hy getrou is in sy verbond, hoe Sy teenwoordigheid getrou daar was in woestyne en oorloë, en hoe Sy liefde getrou bly selfs as ons vergeet.
Habakuk kom tot die besef dat geloof nie beteken ons verstaan alles, of het al die antwoorde op ons vrae nie. Geloof is nie iets wat die verstand met slim formulering kan verduidelik nie — geloof is om met die hart te sien.
Hy kom tot die gewaarwording dat God verstaan ons vrae en onsekerhede. God voel nie geaffronteer as ons twyfel nie. God se getrouheid hang nie af van ons gebroke pogings om getrou te wees teenoor onsself, ons medemens, en teenoor God nie.
Maar, die grootste waarheid wat tot Habakuk deurbreek, is die wysheid dat die lewe nie bepaal word deur wat met jou gebeur nie maar hoe jy daarop reageer.
Daarom eindig sy laaste verse met ʼn triomfantlike uitroep:
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” — Hab 3:17-18
Ek kyk terug na hierdie man wat vasklou aan God se getrouheid en God se liefdevolle-goedheid omhels, en besef opnuut weer:
Toe ek jonger was, is ek geleer dat geloof is ʼn ‘vaste wete’ en om te glo bring vir ons sekerheid. Vandag weet ek dat geloof beteken MOED (courage) —
Moed om te kies vir onvoorwaardelike liefde (ahavah). Moed om te staan vir wat regverdig is en te doen wat reg is (tzedek). Moed om altyd te reageer met kindness (chesed). Moed om met meegevoel en erbarming God se compassion (rachamim) toe te laat om deur my te vloei. Moed om getrou te bly en my getrouheid (emunah) ʼn refleksie te maak van my verhouding met God...
... en om dit te doen met liefde
Soos altyd!

Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
