Vyf Profete — Amos

Potgooi:

 

“When you see something that is not right, not fair, not just, you have to speak up. You have to say something; you have to do something.”
— John Lewis —

Ons gesels hierdie maand oor VYF van die 12 profetiese boeke in die Ou Testament wat bekendstaan as die ‘Kleiner Profete’ bloot op grond van die lengte van die boeke.

Dit is belangrik om net eers te verstaan, wat of wie 'n profeet in die Bybel se konteks is:

  • Die Hebreeuse woord vir 'n profeet is ‘navi’ en word gesien as die Stem vir God tydens 'n morele, sosiale, of geestelike krisis — die woord beteken: om geroep te wees om namens ander te praat.
  • 'n Profeet se rol was nie om die toekoms te voorspel nie, maar om insig en betekenis te gee aan die tyd waarin hul leef — not fortune-tellers, but truth-tellers.
  • Hulle is diegene wat die ‘fluistering’ hoor in die lawaai, en sien as alles donker raak, en bereid is om met eerlikheid en waarheid die pad na verandering (transformasie) aan te wys.
  • Profete kan met wysheid die groter prentjie sien en die oorsaak en gevolge van ons aksies en reaksies herken.

Ons het laas week begin met Hosea se boodskap dat God se liefde is onvoorwaardelik. Hierdie week kyk ons na die agtergrond, invloed, en betekenis van Amos.

Sy naam in Hebreeus beteken: lasdraer (burden-bearer), en hy kom van ʼn klein stowwerige dorpie met die naam Tekoa sowat 16 km suid van Jerusalem in die hart van Judea — die Suidelike Koninkryk, tydens koningskap van Ussia rondom 760BCE.

Hy stel homself bekend in Amos 7:14 as hy sê: “Ek was nie 'n profeet of 'n profeet se seun nie, maar 'n veewagter en versorger van wildevyebome.”

Ek kan my dit voorstel hoe hy met sy strooihoed en plaasklere opdaag in die Noordelike Koninkryk waar Jerobeam II die koning is. Die stadsjapies van Samaria het seker met ʼn grynslag hom gespot oor sy suidelike aksent, en ek kan net hoor hoe hul onderlangs brom: “Wie dink hy is hy om hier in ons heiligdom te kom staan en preek? Kyk hoe lyk hy!”

Hulle onderskat hierdie herder, want wat hy doen, is baie slim. Hy sleep ʼn seepkis nader en gaan staan in die middel van stadsplein en sê dan, “Kom ek vertel julle van die sonde van jul vyande!”

Wie is daar wat nie daarvan hou om te hoor wat als verkeerd en sleg is van hulle van wie ons nie hou nie? Die mense staan nader, want dit gaan interessant wees om te hoor.

Hy begin met Damaskus vir hul brutaliteit in oorlog, en dan Gaza en Tirus vir hul slawehandel, gevolg deur Edomiete vir hul wraakgierigheid en die Ammoniete en Moabiete se genadelose aanvalle teen Israel en wat geen respek het vir die dooies nie.

Die gehoor hou hiervan, en hul skree al hoe harder, “Ditsem, Amos, sê hulle! Vervloek is hierdie goddeloses! God sal hul straf en vir ewig verdoem!”

Nog meer staan nader om te luister, dan draai hy die fokus na Judea waar hy vandaan kom. Hulle is volksgenote van Israel, maar word op neergekyk omdat die Noordelike Ryk soveel ryker was, soveel meer invloed gehad het, en militêr soveel sterker was.

Amos praat oor Juda wat nie die Torah nakom nie en afgode aanbid, met sinkretisme (i.e. vermenging van verskillende godsdienste) in Jerusalem. Hy praat oor die arrogansie van die koningshuis en die morele verval van Juda.

Die toeskouers het nou verdubbel en jy hoor hul uitroep, “Ja, daai hoi polloi van die suide is almal huigelaars! Hulle het vergeet wie Dawid regtig was en wat hy aan ons gedoen het!” terwyl hul met selfvoldane hoogmoed Amos aanmoedig om nog foute en euwel uit te wys.

En dan, as die gehoor stiller raak, sê Amos, “Waar ek vandaan kom, en deur die land wat my gevat het tot hier, sien ek 'n enorme split tussen wat mense sê hulle glo en hoe hul leef, tussen wat hul beskou as heilig en hoe hul optree teenoor mekaar.”

Sy luisteraars is stomgeslaan, en dan gaan Amos verder, “Oral sien ek korrupsie en mense dink omdat hulle welgesteld is, is hulle geseënd. Die howe is aan die kant van hulle wat ander uitbuit en wie se gierigheid geen einde ken nie. Ja, ek praat van JULLE!”

Die omstanders raak onrustig en probeer hom stilmaak, maar Amos praat harder, “Julle glo dat tzedek (geregtigheid) is die fondasie van jul geloof, maar is julle billik teenoor hulle wat nie kos het om te eet nie, teenoor julle volksgenote wat siek is, teenoor hulle wat nie hul pad na regverdigheid kan koop nie?”

“Want,” sê Amos, “geregtigheid is hoe liefde sigbaar word. Sonder regverdigheid is daar geen liefde nie,” en dan kom sy punchline: “God is 'n God van geregtigheid, wat altyd balans bring in 'n wêreld van onreg.”

Die inwoners van Bethel het genoeg gehad. Hulle laat kom die priester Amaziah en verdryf Amos terug na waar hy vandaan sou kom.

Hoe is Amos se boodskap steeds relevant in vandag se tyd?

So baie mense sê, “We want justice!” maar wat hul bedoel, is, “We want revenge.” Ons vergeet, God se geregtigheid kom met genade, liefde, en compassion.

God se regverdigheid is ʼn oproep om verantwoordelikheid te vat vir mekaar.

Jesus som dit mooi op as hy sê, “Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê, want dit is 'n samevatting van die wet en die profete.” (Matt 7:12)

Die teenoorgestelde van armoede is nie rykdom nie, maar geregtigheid — om billik en regverdig te wees teenoor ALMAL.

Verder waarsku Amos dat dit maklik is om om jou te kyk en te sien: ek het ʼn huis, ʼn kerk, klere in my kas, kos op die vuur, en genoeg om te koop wat ek nodig het; daarom moet dit beteken dat ek God se guns het en dat ek ‘reg’ leef.

Ons verwar gerief met seëningesukses met regverdigheid, godsdienstigheid met 'n deurleefde verhouding met God.

Amos veroordeel nie, maar hy lê die waarheid bloot deur te sê, “Geloof is nie in die liedere wat ons sing, die versies wat ons opsê, die preke waarna ons luister, of die rituele wat ons beoefen nie — maar hoe ons die geringste om ons behandel.”

Geregtigheid is om met die hart te sien.

Dis hoekom Amos steeds saak maak vandag, omdat die God wat gepraat het deur ʼn veewagter en vyeboer, se stem steeds gehoor word deur hulle — who dare to care, who dare to see, and who dare to act.

Ek glo in 'n God wat die hart sien.

Met liefde.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“The moral test of society is how it treats their children who are in the dawn of life, their elders in the twilight of life, and those in the shadows of life.”
― Hubert H. Humphrey 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2026
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights