Potgooi:
“Out of suffering have emerged the strongest souls; the most massive characters are seared with scars.”
— Kahlil Gibran—
Gibran se woorde herinner ons dat littekens is nie tekens van mislukking of verloor nie maar simbole van groei. Mense met ʼn ryk lewenservaring en deurleefde siel, is nie diegene wat lyding vrygespring het nie, maar wat daardeur gegroei het, gevorm en verander is.
Emosionele pyn is onvermydelik; hoe ons daarop reageer gaan bepaal of dit lyding (suffering) of heling (healing) gaan word.
Elke kneusplek van teleurstelling, elke wond van verwerping, elke skraap van onsekerheid en vrees, kweek in ons die kapasiteit vir compassion en empatie, groter vrede en dieper liefde.
As ʼn mens kyk na die oeroue verhale van pelgrims op hul lewensreis is daar VYF stappe waardeur elke mens gaan.
1. Die Oproep om te Begin
“Every journey begins with a calling,” sê Scott Peck, om dit wat bekend is agter te los en ʼn reis te begin, “on the road less travelled… and that has made all the difference,” soos Robert Frost dit beskryf.
Abraham hoor dit in ʼn Stem wat vir hom sê, “Gaan na 'n land… wat Ek jou sal wys.”
Soms is dit ʼn stem wat fluister in ʼn diep hunkering wat jy het. Miskien kom dit vanweë ʼn toenemende ongelukkigheid wat jy ervaar, of net ʼn gevoel in jou "water" wat sê, “This is not it — ek verlang na iets meer!”
Ander kere is dit ʼn harde stem wat jou tot stilstand ruk as gevolg van ʼn krisis: ʼn gebroke verhouding of huwelik, ʼn diagnose van ʼn ernstige siekte, om jou werk te verloor, of ʼn ingrypende gebeurtenis wat jou geestelike lewe in skerwe skiet.
Hoe dit ook al sy, die boodskap is dieselfde — It’s time to move! Something needs to change!
Dit kan beteken om ʼn fisiese plek te verlaat, maar meestal om jou gedagtes en gesindheid te verander. Die besef kom nie met ʼn netjies uitgewerkte plan nie, maar ʼn oproep wat jou vat na die onbekende.
Dit is ʼn stap sonder om al die antwoorde te hê, maar wel die moed om ja te sê vir die oproep, en met dapperheid te reageer op die Stem wat sê, “Waag dit om te reis na ʼn plek wat Ek jou sal wys.”
2. Die Wildernis en Ompaaie
Moses het die grootste gedeelte van sy lewe in die woestyn spandeer, en selfs Jesus word gelei na die wildernis om dit vir homself uit te klaar wat sy roeping en lewensdoel is.
Hoe verdrietig dat die oomblik as ons ja sê vir hierdie reis, word verwag dat iets dadelik moet gebeur. Ons wil resultate sien. Ons soek duidelikheid oor die pad vorentoe, en gee gou op as dinge nie uitwerk soos ons gehoop het nie.
Wat ons mis in die proses, is dat hierdie emosionele en geestelike reis is nie ʼn pad na êrens nie, maar ʼn weg na binne. Menigmaal is ons van net een ding seker en dit is: hierdie pad waarop ek nou is, maak glad nie sin nie.
Maar soms draai daai “road less travelled by” wat ons gehoop het om ʼn pad na ʼn nuwe avontuur en ervaring te wees, in ʼn doolhof uit. Ons planne val uitmekaar, en ons hoop lê op die puinhoop van gebroke verwagtinge.
Hoe reageer ons op ʼn hart wat dors na Lewende Water wat ons beloofde potensiaal en moontlikhede sal ontsluit? Hoe gaan ons om met die innerlike wildernis waar ons ons vrese en wonde in die gesig staar en moet kies of ons gaan terugdraai na wat was, al is dit ook ten koste van onsself?
3. Valleie van Vrees
Dawid skryf in Psalm 23:4, “Selfs al gaan ek deur die vallei van doodskaduwees sal ek geen onheil vrees nie, want U is met my.”
Geloof vat nie emosionele pyn weg nie, maar sit dit in perspektief sodat ons anders daarop reageer. Ons geestelike reis vat ons DEUR die valleie en nie óm dit nie.
“The dark night of the soul” waarna Johannes van die Kruis verwys, bring ons op ʼn plek waar ons nêrens anders het om na weg te hardloop, of ons donkerkant ontken nie. Dis hier waar ons besef: I have to get REAL.
“The longest journey you will ever take is the 46 centimetres from your head to your heart.” — Andrew Bennett
Die emosies van vernedering, verwerping, en verlies is deel van ons elkeen se reis. HOE ons daarop reageer, gee vir ons emosionele en spirituele diepte.
Maklike antwoorde, retoriek, en clichés verdamp soos druppels op ʼn warm sinkplaatdak, want hier gaan ons gedwing word om na ons binnekamer op ons knieë te gaan waar ons ons hande vou in ʼn heilige ritueel van gebed om met nederigheid en afhanklikheid, verwondering en ontvanklikheid vir God te vra: “Wys ons hoe om veilig deur hierdie landskap te reis.”
4. Die Innerlike Reis
Ons lees in Genesis 32:42, “En so is Jakob alleen gelaat, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek.”
Êrens tussen die woestyn van ons gedagtes en die wildernis van ons hart is daar ʼn innerlike konfrontasie. Dit is hier waar ons worstel — nie met God nie, maar met onsself.
Hierdie gestoei is nie ʼn straf nie, maar ʼn geboorte aan egtheid (i.e. authenticity). Dit is hier waar ons onsself sien sonder maskers wat voorgee by ander — nie met spyt of selfverwyt wat ons moes of wou wees nie, maar eerlik in die waarheid van onsself vir onsself. DÍT is wat self-awareness beteken.
Soos Jakob vra ons, “Wie is ek regtig? Wat maak ek hier?” Die reis na binne deins nie terug vir ons skadukant nie — daardie gedeeltes wat ons onderdruk en ontken, daardie besluite wat ons neem uit vrees en nie geloof nie.
Jakob stap mank weg, maar geseënd. Sy sig het insig geword, en sy wonde is nou wysheid. Hy het sy illusies oor dit waarvan hy so seker was en wat hy gedink het hom veilig hou, oorgegee vir ʼn reis in die Groot Misterie.
Voor ons God kan ontmoet, moet ons eers onsself ontmoet. Voor ons God kan ken, moet ons eers onsself ken en om onsself te ken, moet ons bereid wees om weerloos te wees.
5. Om Tuis te Kom
In die Gelykenis van die Verlore Seun, vertel Jesus dat die pa vir sy seun wat kwaad is oor die fees vir sy broer sê, “Jy is altyd by my, en als wat ek het, is joune, en as jy iets kortkom sal ek dit ook vir jou gee.”
Soos ʼn rivier altyd sy pad terugvind na die Oseaan, so vind ons altyd ons weg terug na die hart van God. Dit is asof die siel weet ons hoef nie God se liefde te verdien nie, net te onthou. Die liefdevolle-goedheid (genade) van God is nie ʼn beloning nie, maar verniet — en as ons dit onthou, weet ons dat ons tuis gekom het.
Om tuis te kom beteken nie die reis is verby nie; dit beteken van nou af is ons ganse menswees geanker in ʼn dieper Wysheid en groter Waarheid.
Wie ons is as mens is nie begrawe nie, maar geplant om die Vrugte van die Gees te dra in ons huwelik en gesinne, by die werk en in ons vriendekring.
Só 'n lewe het sin, só 'n lewe het betekenis.
Laat die reis begin!
Soos altyd, met liefde.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.