Potgooi:
“Pride makes us artificial;
humility makes us real.”
— Thomas Merton —
Toe ons ons pelgrimsreis begin het die maand oor die Vier Pilare van Geestelike Groei, het ons Liefde die fondasie gemaak waarop ons kan bou. Niks anders in ons lewe maak sin as daar nie Liefde is nie. Al wat ons dan het, is behoeftes en verwagtinge wat maak dat die geringste storm, die pilare verkrummel.
Ons laaste gesprek is ʼn crescendo van ons tema, naamlik: die gawe van Verwondering en geskenk van Nederigheid — die een lig ons oë na die hemele, en die ander een buig die hoof na die grond.
Carl Sagan was my grootste inspirasie om teologie te gaan studeer. Sy boeke ‘The Dragons of Eden’ (1977) en ‘Cosmos’ (1980) het my lewe verander en met nuuskierigheid gevul om die ‘God van die Skepping’ beter te verstaan.
In 1994 publiseer hy ‘Pale Blue Dot’ waarin hy skryf —
“How is it that hardly any major religion has looked at science and concluded, “This is better than we thought! The Universe is much bigger than our prophets said, grander, more subtle, more elegant?” Instead they say, “No, no, no! My God is a little god, and I want him to stay that way.” A religion, old or new, that stressed the magnificence of the Universe as revealed by modern science might be able to draw forth reserves of reverence and awe hardly tapped by the conventional faiths.”
My verkenningsgees en belangstelling in die wêreld van kosmologie maak dat ek die ou tekste lees en sonder moeite God in die wetenskap sien. Daarom refrein ek die sitate wat sê —
- “Wie is soos U, o Here, onder die gode? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in prag, wat wondere doen?” (Eksodus 15:11) —
- “As Ek kyk na U hemele, die werk van U vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het; wat is die mens dat U van hulle bewus is…?” (Psalm 8:3-4)
In ʼn wêreld wat verstrengel geraak het in die intellek waar als bereken en begryp moet word, het die invloed van VERWONDERING bykans vergaan, en daarmee saam ons kapasiteit vir eerbied en ontsag (awe and reverence).
Neuroscientist Maria Monroy se onlangse studie het bevind dat om daagliks intensioneel te soek na oomblikke van verwondering het ʼn 12% verlaging in stres en 16% toename in emosionele welsyn by deelnemers gehad. Dit is ʼn ‘reset button’ wat ʼn betekenisvolle lewe verdiep en kognitiewe vermoë verskerp.
Dink aan daardie gevoel wat jy kry as jy by ʼn katedraal instap; om te sien as die volmaan oor die horison verskyn; om in die Karoo of woestyn te staan en ademloos op te kyk na die oorweldigende hoeveelheid sterre; of om ʼn skool dolfyne te sien wat voor jou deur die branders spring. Hoe laat daardie verruklike oomblikke jou voel?
Elke dag gaan soek ek na iets om die eerste keer in my lewe te doen, en hou dagboek daarvan. Om die buitengewone in die gewonigheid van elke dag ervaar, het ʼn lewensingesteldheid by my geword.
Kinders het dit van nature. Alles is nuut. Daar is nie lêer in hul koppe van als wat moontlik verkeerd kan gaan nie. Hulle nuuskierigheid en bewondering is aansteeklik, en hulle is nie bang om te vra, “Hoekom,” of te sê, “Ek weet nie.”
In ʼn digitale wêreld rol ons duime die een prentjie na die ander. Niks gee ons meer ʼn “WOW!” gevoel nie. ʼn Sonsondergang word vervang met ʼn ‘selfie’ en ʼn intieme gesprek word onderbreek om eers ʼn WhatsApp te antwoord.
Geen wonder dat Jesus gesê het, “As jy nie soos 'n kind word nie, sal jy nooit die koninkryk ingaan nie.” (Markus 10:15) Waarna Hy verwys is hul verwondering, hulle ontvanklikheid om te ontdek en iets verrassends te leer, asook hul vermoë om te vergewe en onvoorwaardelik lief te hê.
Wat ons bring by NEDERIGHEID — dis ʼn woord wat dikwels misverstaan word. Sommige assosieer dit met swakheid of ʼn gevoel van minderwaardigheid. Ander dink dit ʼn passiewe aanvaarding dat jy nie genoeg is of het nie.
Dit is glad nie wat nederigheid beteken nie. “Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie, maar om minder (net) aan jouself te dink,” het C. S. Lewis gesê.
Die gawe van beskeidenheid sien jou Self soos jy werklik is — as deel van iets veel groter as net ʼn ego wat in sy eie gaatjie rond draai. Nederigheid gee vir ons die perspektief van ons ‘interconnectedness’ en verlos ons van ons eiewaan.
Dit het niks te doen met onderdanigheid nie, maar wel met ons diensbaarheid. Dit is nie kruiperig of grootpraterig nie, maar ʼn stil krag wat ons verlos aan die behoefte om alles te wil beheer of almal te manipuleer.
Daar is niks fout om trots te wees op iets wat jy bereik het nie, maar hoogmoedigheid maak jou hart toe. Toe om te besef dat daar altyd iets nuuts is om te leer, te groei, en voor dankbaar te wees.
ʼn Gebrek aan nederigheid lei tot meerderwaardigheid waar jy nie eers weet dat jy nie weet nie. Dit maak ons só seker van alles wat ons dink ons weet, dat daar geen plek is vir ʼn ander persoon se gevoel of ervaring nie.
Hemingway het gesê, “Ek wil nie daarna streef om beter as enige ander persoon te wees nie, en slegs daarna streef om beter te wees as die persoon wie ek gister was.”
Nederigheid wys ons hoe.
Ek probeer nie om ander te beïndruk nie, maar poog daarna om meer authentic te wees, more real… en nederigheid wys ons hoe.
Nederigheid is die vrugbare grond waar wysheid ontkiem, en geboorte gee aan vrugte van vrede en sagmoedigheid. As jy dit eers eenkeer geproe het, is niks ooit weer dieselfde nie.
Kom ons gesels Sondag oor hierdie twee geskenke en dan wys ek jou hoe dit betekenis gee aan elke aspek van jou menswees, en ʼn verskil maak in jou gesin, jou interpersoonlike verhoudings, jou huwelik, by die werk, en bowenal in jou verhouding met God.
Met liefde, soos altyd.