Potgooi:
“There are two ways of spreading light: to be the candle or the mirror that reflects it.”
— Edith Wharton —
Met ʼn nuwe maand kom ʼn nuwe tema, en hierdie maand gaan ons gesels oor: LIG IN DUISTERNIS.
Dit is ook my geboortemaand en daarom ʼn tyd van dankbaarheid en waardering, maar ook van self-refleksie oor wat die mooiste en beste van die laaste jaar was wat ek saamvat vir my volgende lewensjaar.
Aangesien ek in die winter gebore is, is ek ook van die min mense wat van die winter hou. Ek hou van knus aantrek en kaggelvure, bredies en rooiwyn, die see-wolke wat my na Europa laat verlang, en die Kaap se lowergroen.
Winter is vir my nie ʼn seisoen nie — it’s a celebration!
Winter verseker ook ekologiese balans — trouens, sonder winter sou daar geen lewe op hierdie planeet gewees het nie. Veral met ons Mediterreense klimaat in die Wes-Kaap sou daar geen koring of wingerde gewees het nie. Dit sou tien teen een soos die Namib lyk met geen water vir mens, plant, of dier nie.
Behalwe vir ʼn paar storms in die winter is daar geen ekstreme temperature nie. Dit is steeds ʼn heerlike 20°C gemiddeld in Kaapstad, en wie van ons kla as ons die sprokiestonele van sneeu op die bergpieke sien?
Maar, dit is die emosionele en spirituele winters waaroor ons dié maand gaan gesels.
“Winter, a lingering season, is a time to gather golden moments, embark upon a sentimental journey, and enjoy every idle hour.” — John Boswell
Baie mense sien winter as ʼn metafoor van afsterf en emosionele pyn. Miskien is dit omdat ons as moderne mens so uit voeling is met die seisoene dat ons nie weet hoe om met ons emosionele winters om te gaan nie. Ons maak ons huise heerlik warm en sit die warmkombers aan en onthou nie eers hoe ons gekla het oor die versengende hitte van die somer nie.
Kom ons kyk na ʼn paar aspekte van winter wat ʼn inleiding kan wees tot ons maand se gesprek:
Ek is op my kreatiefste in die winter — of dit sit en skryf is aan ons weeklikse webjoernaal, en of dit my inskrywings in my dagboek is. Dit is asof ek meer insig het, meer eerlik is met myself, en meer ontvanklik is vir die lewenslesse.
Winter is ook die seisoen waar ons nader aan mekaar staan. Die warmte van vriendskappe het ʼn dieper waarde, en ons intieme verhoudings het meer hand vashou en lepellê.
“Winter is the time for comfort, for good food and warmth, for the touch of a friendly hand and for a talk beside the fire: it is the time for home.” ― Edith Sitwell
Ons koester ons dieper konneksies met mense. Daar is meer geduld met mekaar, ons praat sagter en stadiger, is minder gejaagd, en het meer kwaliteit-tyd vir mekaar.
ʼn Professor in Sielkunde aan die Universiteit van Pennsylvania, Michelle Newman, het nou onlangs ʼn studie gedoen oor die konsep van “ontspanningsangs” (relaxation anxiety) — waar sommige mense ongemaklik en angstig voel as hulle niks (no-thing) doen en ʼn blaaskans vat. Volgens prof. Newman dink ʼn hoë persentasie mense dat dit nie goed is om net te sit en ʼn boek te lees, na musiek te luister, of na ʼn film te sit en kyk nie.
Kan jy hiermee assosieer?
In vandag se samelewing word produktiwiteit en die heel-tyd-besig-wees, geassosieer met ‘selfwaarde’ en voel mense dikwels hulself moreel beter as ander as hulle jou kan oortuig hoe ‘besig’ hulle is.
Produktiwiteit is belangrik en bring ʼn gevoel van vervulling, maar nie as dit lei tot skuldgevoel nie, en beslis nie as dit jou kop, hart, en siel uit balans gooi nie.
Ons kroniese besig-wees bring net nog ʼn verdere disconnect en as daar geen ‘stiltetyd’ is nie, raak ons gedagtes vertroebel deur emosies van obsessie en onvergenoegdheid, wat lei na spanning en ʼn lae selfbeeld.
As ons nie boundaries het om te kan onderskei tussen werk-tyd en persoonlike-tyd nie dan is een seisoen, een dag, een uur presies dieselfde as die ander.
Moet dan nie verbaas wees as dit voel jou lewe val uitmekaar as die geringste storm of temperatuurverskil jou son versper nie.
3. Lig in Duisternis
Nog ʼn ding waaroor ek mal is oor die winter-Kaap is die lig. Die son kom laat op en hier vanaf my stoep lyk die stad en berg soos ʼn Pierneef-landskap.
“The light of a winter’s day is a very different thing from the light of a summer’s day. It has a quality, a clarity, a kind of singularity that I find invaluable for making my work.” ― Stephen Shore
Ons WÉÉT ná die winter kom die lente. Ons wéét dat die dae weer langer word en binnekort kan ons weer 8pm op ʼn klip sit met ʼn Chenin en na die sonsondergang kyk.
Waarom dink ons dat vandag se reën en grys weer vir altyd so gaan aanhou?
Wat is dit dat ons in ons emosionele winters nie weet dat die Lig kom van binne nie? Hoe is dit moontlik dat ons geestelike winters nie weet waar om ons geloof, hoop, en liefde te hengel nie?
As ons die winter met albei arms omarm, en die broodnodige reëndruppels gulsig oopmond vang, dan sal ons weet hoe om innerlike vrede en compassion te kultiveer. Ons emosionele damme loop dan vol en ons spirituele leivore loop dan oor om ons vreugde en blydskap met ander te deel.
Dit is juis die seisoen waar ons die kaf van die koring skei. Daar is nie plek in ons lewe om een enkele winter deur te gaan waar iemand jou son steel nie. Winter het nie tyd vir mense wat wil eenkant staan en hul lig en hitte net vir hulself wil hou nie.
Staan altyd met jou gesig na die son sodat jou skaduwee agter jou lê. Maak tyd hierdie winter vir dieper konneksies, meer stiltetyd, en om die lig vir die wêreld te word, soos Jesus van Nasaret ons geleer het.
Dan sal dit regtig, soos in regtig, die beste winter van jou lewe wees.
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.