Potgooi 4:
“The only thing we have to fear
is fear itself.” ― Franklin D. Roosevelt —Nou onlangs vertel ʼn vrou my dat sy grootgeword het in ʼn huis waarin albei ouers ateïste is. Toe sy as ʼn jong student in Europa vakansie gaan hou het, het haar pa gesê sy mag nie katedrale besoek nie. Volgens hom was dit, “standbeelde vir mense wat delusional is.”
Toe sy dit die eerste keer waag om in so katedraal te stap, was sy totaal oorweldig deur die majestueuse prag van hoe mooi dit is. Sy was verstom oor die toewyding wat dit gevat het om iets te bou wat eers vier of vyf generasies later voltooi sou wees.
“Waarvoor was jou ouers SÓ bang?” het ek gevra. “Wees krities oor die kerk se geskiedenis, dogma, en wat verkeerd gedoen is in die naam van Godsdiens, maar smyt nie weg wat kosbaar is en daarmee saam dit wat die deernis en liefde van die Christendom vergestalt nie,” het ek bygevoeg.
Ons is SÓ bang vir só baie goed.
Vrees vir Verwerping
Dit is seker een van die grootste vrese wat ons het. Om veroordeel en uitgesluit te word. Dat ander hul rug op ons gaan draai en emosioneel (of fisies) ons veroordeel en verwerp. Dit dompel ons in obsessie met ander se opinies en goedkeuring.
Vrees vir Eensaamheid
Hierdie vrees is gewortel in die oortuiging dat om ‘alleen’ te wees, is sinoniem met eensaamheid. Baie mense voel geïsoleerd op hul eie en pendel weer terug na die vrees vir verwerping.
Vrees vir Mislukking
Dit staan bekend as: Atychiphobia. Ons is só bang dat ons dalk 'n fout maak en te kort gaan skiet aan ander se verwagtinge, of nie my eie doelwitte bereik nie. Dit gaan gewoonlik hand aan hand met 'n vrees vir kritiek wat lei tot perfeksionisme. Die vrees dat ons nie ‘goed genoeg’ is nie, of dat ons prestasies onverdiend is en ons laat twyfel in ons eie vermoëns.
“The thing you fear most has no power. Your fear of it is what has the power. Facing the truth really will set you free.” — Oprah Winfrey
Vrees vir Verandering
Verandering is onvermydelik, maar sommige mense het 'n diep-gewortelde vrees daarvoor. Enige nuwe ervarings, of 'n situasie waar dinge anders gaan wees as waaraan ons gewoond is of 'n aanpassing gaan vra in lewensomstandighede, is vir die meeste mense net te veel om te hanteer.
Vrees vir Weerloosheid
Sommiges het 'n enorme vrees dat hul in 'n situasie gaan kom waar ander hul weerloosheid (vulnerability) gaan sien as swakheid. Dit lei tot 'n vrees vir intimiteit, of om enige iemand te naby toe te laat.
Vrees vir Oud-Word
Dit staan bekend as: Gerascophobia. Baie mense assosieer ‘oud word’ met 'n gebrek aan fisiese en/of geestesgesondheid. Onderliggend is 'n vrees vir die dood. Hoe dikwels kruis my pad met mense wat SÓ bang is vir die dood dat hul vergeet om te LEWE.
“We should all start to live before we die. Fear is stupid. So are regrets.”
— Marilyn Monroe —
Vrees vir God
In Hebreeus is daar 3 woorde wat met ‘vrees’ vertaal word in Afrikaans:
[i] פַחַד (pachad) — terrified, scared, distressed, fear [ii] אֵימָה (ayma) — shocked, anxiety, panic, fear [iii] יִרְאָה (yirah) — awe, reverence, respect, overwhelmedDit gaan nie oor om God te ‘pachad’ of ‘ayma’ nie, maar om teenoor God op te tree met ‘yirah’: eerbied en respek, aanbidding en agting.
VREES is die afwesigheid van LIEFDE!
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”
— 1 Johannes 4:18 —
LIEFDE en VREES kan nie in dieselfde huis woon nie!
Ek kan nie sê dat ek vir God lief is maar Hom vrees nie, want dit lei daartoe dat ons nie GLO uit liefde nie maar omdat ons BANG is.
Daarbenewens het ek dit al oor en oor in my lewe gesien dat 99% van die goed wat ek ‘vrees’ gaan gebeur, materialiseer nooit nie. Intussen het ek soveel tyd gemors om vrese te voed wat geen sin of betekenis het nie.
F.E.A.R. staan vir — false expectations appearing real.
Waarvoor is jy SÓ bang?
Wat gee jy sóveel energie wat geen waarde toevoeg tot jou lewe nie, trouens dit stroop jou van jou vreugde en vrede?
Dit is die vrae waaroor ons Sondag gaan gesels.
Kies liefde bo vrees. Reageer met liefde en nie uit vrees nie!
Met liefde, net liefde, liefde genoeg.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.