“Whatever it is you’re seeking
Won’t come in the form You’re expecting.” ― Haruki Murakami —Ons gesels hierdie maand oor die tema — Die Wonders van Wonderwerke.
Ons glo in ‘wonderwerke’ maar die meeste van ons is te blind om hulle te sien. Ons gaan soek ‘wonderwerke’ in bonatuurlike, metafiese, en magiese verskynsels. Wanneer ons dit nie sien nie, dan dink ons dit bestaan nie.
Gaan sit vir ʼn oomblik en word stil, en kyk om jou — wat sien jy?
Die rekenaar waarop ek tik, is ʼn wonderwerk. Die foon in my hand bring my in kontak met enige iemand op die planeet, waar ons nie net met mekaar praat nie maar ook kan sien. Dit ʼn kamera, ʼn biblioteek, ʼn GPS, en ʼn lesingslokaal oor enige onderwerp denkbaar.
Ons het ʼn motor om mee te ry en ʼn vliegtuig na plekke vêr van hier — alles wonderwerke! Warm water in ʼn kraan en elektrisiteit in my huis (as dit van EFKOM afhang) — nóg ʼn wonderwerk.
Niks, absoluut NIKS, van hierdie goed het bestaan in die tyd van Jesus nie. Trouens, dit het nie eers bestaan toe my voorsate voet aan wal in die Kaap gesit het nie.
Die tegnologiese ‘wonders’ wat ons vandag vanselfsprekend aanvaar, was ʼn paar jaar terug nog nie eers ʼn idee in mense se koppe nie. Die wêreld van geneeskunde is in sy geheel ʼn ‘wonderwerk’, om nie eers te praat van die natuurwetenskappe nie.
Hoekom sien ons dit nie, of het ons te ligsinnig geword om dit eers te besef?
Kom ons onthou net weer laas week se openingsin.
“Miracles are not contrary to nature, but only contrary to what we know about nature.”― St. Augustine
Dit bring ons by die tweede ‘teken’ (Johannes Evangelie praat nie van ‘wonderwerke’ nie maar van ‘tekens’) wat nooit bedoel was om histories-biografies te wees nie, maar geweef is in ʼn groter, dieper Waarheid waarmee Johannes die lewe en leer van Jesus interpreteer, en wat geloof beteken.
Die eerste ‘teken’ waarna ons gekyk het, was water wat wyn word. Hierdie week staan ons stil by die tweede ‘teken’ waar Jesus die blinde man laat sien.
Die vier Evangelies vertel van verskeie kere waar Jesus ʼn blinde laat sien het. In Matteus is daar eers 2 blindes (9:27vv) en dan nóg 2 toe hy UIT Jerigo gekom het. Lukas sê dit was net 1 blinde toe Jesus IN Jerigo ingegaan het (18:35vv). In Markus is daar eers die blinde van Betsaida op wie se oë hy spoeg gesit het (8:22vv) en toe die blinde bedelaar vir wie Jesus vra, “Wat wil jy hê moet ek doen?” en dan antwoord hy, “Rabboenie, ek wil sien!” (10:46vv).
Maar dit is die roerende verhaal van die blinde man in Johannes 9 wat vandag ons oë open vir ʼn wonderwerk:
Die verhaal vertel — Jesus spoeg op die grond en maak klei wat hy op 'n bedelaar wat blind geboorte is se oë sit en dan sê dat hy dit moet gaan afwas in die Siloambad. (Siloam beteken: Gestuur). Die Fariseërs het 'n probleem dat Jesus dit op 'n Sabbat gedoen het, wat hom 'n sondaar maak en 'n sondaar kan nie ‘wonders’ doen nie. 'n Paar keer ondervra hulle die man en sy ouers en dreig om hulle uit die sinagoge te verban as hul nie die waarheid praat nie.
Dan antwoord die man, “Of hy ʼn sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou kan ek sien!”
Om dié verhaal as ʼn bonatuurlike wonderwerk te lees, is om die hele Johannes Evangelie se betekenis te mis.
Onthou, iemand met swak oë (by name blind) mag volgens die Torah nie in die tempel of sinagoge kom nie. Teen die tyd wat hierdie Evangelie geskryf is, was daar geen tempel meer nie, want dit is vernietig in 70CE. Daarbenewens is die Joodse volgelinge van Jesus uit die sinagoges verban in 88CE.
Die verhale van ‘genesing’ (healing) was baie bekend in die Joodse tradisie. Dink byvoorbeeld aan Elisha wat Naäman genees het van melaatsheid. Die dominees en prokureurs in Jesus se tyd is geaffronteerd omdat dit op ʼn Sabbat gebeur het, want volgens hulle doen dit afbreek aan hul religieuse reëls.
Vir hulle is dit ʼn uitgemaakte saak: God breek nie God se reëls nie.
Hoe ironies, hoe hartseer dat die meeste kerke in vandag se tyd ook moeite het met die getuienis van iemand wat hul religieuse voorwaardes bevraagteken, en hul toelatingseksamen nie deurkom nie.
As die Fariseërs dan Jesus self konfronteer dan antwoord hy hulle, “As julle blind was, sou julle geen sonde in jul gehad het nie, maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly die sonde in julle.” (Johannes 9:41)
Wat sê dit, en wat beteken dit vir vandag?
So dikwels hou ons ons hande voor ons oë en roep dan ten hemele, “EK IS BLIND! EK KAN NIE SIEN NIE!” net om weer herinner te word om jou hande van veroordeling, onsekerheid, skuld, en vrees voor jou oë weg te vat.
Die ‘wonderwerke’ van blindes wat sien, staan in verband met die mens se intellektuele, emosionele, en bowenal spirituele blindheid.
As Jesus na homself verwys as die ‘Lig van die Wêreld’ dan is elke blinde wat sien ʼn vergestalting van jou en my wat uit die ‘duisternis’ (blindheid) geroep is na die ‘lig’ (om te sien).
Dit is om deur die begrensing van menslike oë te sien. Ons sintuiglike beperking word vervang met ʼn nuwe insig (waarheid) en uitsig (wysheid).
Kom staan Sondag saam met ons in verwondering as ons uit die diepte van ons hart vra, “O Rabboenie, ek wil sien! Ek wil só graag sien.”
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“Some people think miracles no longer happen, they no longer believe, but if they believed, their eyes would be open to them as they happen everyday.”
― Catherine Pulsifer ―