“It is possible to be apart,
But it is impossible to not be a part.”
― A Course in Miracles —
Ná Covid voel dit of my oë met ʼn flinke stap agteruitgegaan het. Die afgelope jaar sukkel ek met brille en was al by verskeie oogkundiges en selfs ʼn oogspesialis.
Eers lyk als skeef deur die bril, dan wieg ek nader en verder en nader om te lees, of een oog se glas is perfek en die ander een nie.
Soos ʼn mens ouer word, is dit seker onafwendbaar dat die lyf op verskillende maniere vir jou wil sê dat alles nie meer optimaal is nie waarvan skarniere en oë ʼn groot deel van daai ontnugtering is. Mens moet dit seker maar aanvaar.
Toe ek Maandag vir die vyfde keer dié jaar met dieselfde bril by die spesialis sit, kon hy my frustrasie hoor — “Die lewe is deurmekaar genoeg om te moet sukkel om te fokus,” het ek gesê “... as geen bril gaan werk nie, sal ek daarby berus.”
Agter sy masker het sy oë gelag toe hy my verseker dat miskien aanvaar ek dit, maar hy doen nie, en ons gaan aanhou tot die bril werk.
Wat moet verander, moet verander en wat ek moet aanvaar, omarm ek — is ʼn gawe waarna die meeste van ons soek en ʼn deug waarna baie vra.
Vroeg in my lewe het ek besef dat as ek saans my lig afsit, wéét ek wat werk en wat nie. Mens wéét wat is betekenisvol, en ek wéét voor my heilige siel wat moet verander.
Soms voel dit of ons aspris kies vir ʼn disfunksionele lewe. Miskien omdat ons glo ons sal simpatie (lees: aanvaarding) van ander kry as ons kan wys dat ons ʼn slagoffer (victim) van omstandighede is.
Intussen is ons soos die alkoholis wat sê, “I need more of what doesn’t work.”
Met die jare het ek ook geleer dat “ek KAN nie” is kort op die hakke van “ek WIL en SAL nie …” as ek eerlik genoeg met myself is.
Kom ons gesels Augustus oor — Die Pad terug na God — en verken verskillende temas wat vir ons ʼn landkaart en kompas is na ons Ware Noord.
Ons kan begin met die betekenis en beginsel van AANVAARDING.
Sommige mense verwar aanvaarding met apatie. Om apaties te wees, is die afwesigheid van liefde, omgee, of ʼn strewe na ʼn beter weergawe van jouself. Apatie is die teenoorgestelde van empatie.
Aanvaarding is nie ʼn don’t-care houding nie. Aanvaarding is ook nie ‘vreet voël of vrek’ of ‘laat Gods water oor Gods akker vloei’ nie.
Allermins maak aanvaarding van jou ʼn deurmat waaroor almal kan stap — en asseblief H.A.T., die woorde aanvaarding en toleransie is NIE sinonieme nie.
Die Engelse woord ‘acceptance’ kom van die Latynse woord: acceptare — wat beteken: om te ontvang.
Wanneer iemand ʼn geskenk vir jou gee, is daar ʼn instemming om dit te ontvang wat gepaardgaan met aanvaarding. Daar is met ander woorde ʼn positiewe bevestiging van bereidwilligheid.
“Acceptance doesn’t mean resignation; it means understanding that something is what it is and that there’s got to be a way through it.”
— Michael J. Fox
Aanvaarding begin met verstaan, want wat ons nie verstaan nie word meer as dikwels veroordeel, en veroordeel is net ʼn tree of twee weg van verwydering (separation), gevolg deur verwerping.
Aanvaarding begin by myself, wat beteken ek ken myself met al my wonde, maar ook my triomf. Dit vra moed om te weet waar my beddings (boundaries) is. Dit beteken dat ek weet wat moet verander en dit doen, al moet ek hulp gaan soek.
Aanvaarding gaan daaroor om te kan onderskei tussen wat is onsin (BS) en dit wat sinvol is.
“Alles is geoorloof, maar nie alles is nuttig nie.
Alles is geoorloof, maar nie alles is opbouend nie.”
— 1 Korintiërs 10:23
Aanvaarding vra vir ʼn eerlikheid met jouself. As jy aan jouself dink as swak en stukkend, gaan dit wees hoe ons na mense om ons kyk. As jy jouself sien as ʼn teleurstelling en mislukking, gaan ons dit projekteer na ʼn wêreld om ons.
Maar aanvaarding het ook te doen met ʼn oorgawe (surrender) ... en oorgee is nie opgee nie!
As jy nie liefde, vrede en vreugde in jouself het nie, sal jy dit nie in ʼn ander persoon vind nie. As jy nie alleen met jouself kan/wil wees nie, hoekom sal enige iemand anders by jou wil wees?
My aanvaarding van ʼn ander gaan hand aan hand met liefde, deernis, medelye, respek, en seëninge. Dit waarna Paulus verwys as hy sê —
“Aanvaar [ontvang] die een wat in die geloof swak is, sonder om hom te veroordeel as sy opvatting van joune verskil.”
— Romeine 14:1
Dit is die voorbeeld wat Jesus stel. Hy het plek (aanvaarding) gehad vir vissers en vroue, soldate en slawe, priesters en politici, tollenaars en prostitute. Daagliks hoor ek Hom vra, “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” en keer op keer, en nog ʼn keer, hoor ek myself sê, “Ek wil sien! O Rabboeni, laat my sien!”
Ek aanvaar my verlede en gooi nie meer ʼn tantrum oor wat gebeur of nie gebeur het nie — maar — ek is nie my verlede nie! Gister gaan nie môre anders uitspeel nie.
Ek aanvaar my verantwoordelikheid om te gaan doen wat ek móét doen, te verander wat ek kan, en om te vergewe wat my 'ontvang' vertroebel en verrinneweer.
Ek kies om vandag volkome oop te wees om die LEWE te 'ontvang' in die oorvloed en skakerings van kleur.
JA, ons kan weer bymekaar kom Sondae en sien uit om almal in ons Sirkel te verwelkom.
Kom ons gesels Sondag oor —
Seënwense vir die week wat voorlê.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“The moment that judgement stops through acceptance of what it is, you are free of the mind. You have made room for love, for joy, for peace.”
― Eckhart Tolle ―
Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville
Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek