“What matters most is how well
you walk through fire.”
― Charles Bukowski —
Die vroegoggend winterson kleur eers die kruin van Tafelberg in en dan stadig sak die lig af tot die stad gulsig drink van die son se vuur.
Met ʼn koppie koffie in die hand verlustig ek my aan die gloed van die son … 152 miljoen kilometer vêr van waar ek op my stoep staan.
Hoe is dit dat ek so intens bewus is van hierdie vuur wat my oorrompel met verwondering? Die lig en lug van ons delikate planeet wat bestaan omdat die vuur (son) elke vorm van lewe op Aarde instandhou?
Hier staan ek — êrens tussen die vuur van die son en die vuur in die kern van ons planeet. Vlees en bloed mense wat die vuur in ons dra; wat suurstof nodig het om hierdie vuur te laat brand; dikwels net ʼn klein kerslig vlam, en soms ʼn vreugdevuur van wilde ekstase.
My geloof, my hoop, my liefde is die hout en kole wat hierdie vuur aan die gang hou. My verhouding met God, my verbindinge met mense, my interaksie met die natuur, is die suurstof wat die hart se vuurherd aan die gang hou.
Geen koue nagte, geen wintermaande kan dit blus nie. Trouens, ek dank God vir my donker koue dae want dan onthou ek weer die vuur aan die binnekant en pak ek my siel se kaggel met dit wat belangrik en noodsaaklik is om die flikkerende vlam weer lewe te gee.
Vir te lank word daar vir mense voorgeskryf hoe diep die kaggel, en hoe hoog die skoorsteen moet wees. Te veel reëls en voorskrifte oor wat se hout en kole gebruik mag word. Wie waardig is om die vuur aan die steek en wie verdien om by die vuur te mag sit.
Mense wat buite die huis vuur maak en saans dans om die konkas wat die nag verlig en verwarm, word met agterdog bejeën.
“Wie gee hul die reg om vuur te maak sonder ons toestemming?” vra die leermeesters. “Waarom gebruik hulle vreemde hout en kole as ons al vir eeue dieselfde hout en kole gebruik?” wonder die wysgere.
Ons kan alles weet van vuur maak en niks weet van vuur wees nie. Die beterweterige voorskrifte oor die regte / beter / goeie manier van vuur maak, het gemaak dat ons ons misterie oor vuur verloor het.
Dit is soos om van die môre tot die aand besig te wees met godsdiens en niks te doen hê met God nie. Soos om alles te weet oor die liefde en steeds geen liefde in ons lewe het nie.
Daarom is ons credo vir dié maand:
Vuur is Lewe.
Lewe is God.
God is Liefde.
Om te lewe is om te God is om te liefde —en— om te liefde is om te God is om te lewe.
In die alomteenwoordigheid van Vuur lê die almag van Lewe. Hierin leer, ken, verstaan, en gedy die allesinsluitende Liefde.
Dit is waaroor hierdie maand se gesprek gaan — om weer die vuur van ons LIEFDE te vind … die vuur van dit wat die LEWE sin en betekenis gee …
Dit is nie net waar van ons interpersoonlike liefde nie maar ook van ons liefde vir God. Hoe dikwels het ek dit al gesê: ons verwar LIEFDE met ‘behoeftes en verwagtinge’ — daarom wil ek ʼn Valentine Kaartjie ontwerp wat sê: I need you very, very much!
In plaas van om te sing: “LOVE HURTS” … wil ek die woorde verander na: Needs Hurt! Expectations Hurt!
Behoeftes en verwagtinge kom met voorwaardes, ʼn agenda, en dikwels met ʼn onderstroom. DÍT is nie liefde nie. Om die waarheid te sê — voorskrifte, vereistes, en verpligtinge smoor die vuur van liefde.
Dit gaan nie oor die liggaamlike behoeftes van eet, slaap, dors, en veiligheid nie. Dit gaan nie oor die verwagting om met deernis en respek behandel te word nie. Dit gaan oor behoeftes en verwagtinge wat ʼn tantrum gooi as dit nie sy sin kry nie; ʼn ander persoon wil verander om ʼn mini-me te wees; en net gee as jy ontvang en gewoonlik meer vat as wat jy gee.
Dit is ʼn vuur wat verteer, en nie ʼn vuur wat verwarm en verlig nie.
Ons het geleer om nie vuur wat verwoes met vuur wat vernietig te veg nie. Die vuur wat ons bring is ʼn vuur van liefde wat sê —
Dis ʼn vuur waarvan ons dierbare Paulus praat as hy Spreuke 25:21-22 aanhaal —
Die ‘kole vuur op die voorhoof’ is om jou vyand te seën, om hom of haar te transformeer, en hulle ook as ‘heiliges’ sien — that’s a tall order Mr Paul, en kan seer sekerlik net moontlik wees as ons die vuur van God se liefde toelaat om in en deur ons te vloei en oop is sodat LIEFDE ons sal lei en inspireer.
Dit is ‘kole van vuur’ wat louter en reinig. Dit is die vuur waardeur ons dapper en moedig stap.
Hoe anders as met liefde, net liefde, liefde genoeg.
Geseënde Jeugdag vir almal.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“The most powerful weapon on earth
is the human soul on fire.”
― Ferdinand Foch ―
Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville
Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek
