Hierdie week se liturgie: 1_april_2012
Eintlik moet ek sê “goeienaand” want dis êrens voor middernag (as die lang arm op die korte lê en vandag word gister) as ek hier sit en skryf ... dis windstil en ʼn perfekte herfsaand. Dis sulke aande wat ek op die stoep staan en oor die stad kyk na ʼn dag soos vandag en asemskep met dankbaarheid dat ek die voorreg het om in dié mooi stad te woon. Dan staan ʼn mens en kyk na die liggies, elkeen met sy/haar storie, en ek kan nie aan ʼn enkele persoon op dié oomblik dink vir wie ek nie lief is nie J
Miskien sou jy dink “ja , toe nou ...” dis darem ʼn klein bietjie oordrewe om so iets te sê! Daar is ʼn sekere tyd van die dag waarop ʼn mens net moet laat gaan aan alles waaraan jy so swaar dra – miskien is dit net voor sonsopkoms of ondergaan; vir ander is dit na die eerste koppie koffie of net voor of na ʼn lekker bad – maar ons almal het so oomblik waarin die sleutel in die deur pas; die verkeer net vloei; ʼn song in die kar of op CD jou ʼn glimlag gee of die gemoedsrus om jou kind of ʼn geliefde se stem te hoor. Almal klein wonderwerke aan ʼn stringetjie pêrels van onthou dat alles is okay, al is jy ook nie okay nie.
Ek sit vanaand met twee vriende en ons oefen vir Saterdagaand se konsert en ons lag uitbundig oor al die herinneringe van plekke waar ons al opgetree het. Ons skater oor alles wat verkeerd geloop het sonder dat die gehoor dit agtergekom het en nie een van ons kan onthou hoe gespanne en hopeloos ons gevoel het nie. Twee regte muzo’s wat hul kreatiwiteit met oorgawe uitleef. Besittings het vir hulle min waarde want net die oomblik is belangrik en wat belangrik is, is “be true to yourself” Vir beide is hul talent hul grootste besitting en hul leef dit oorvol oorloop voluit uit! Vir ʼn oomblik kon ek vergeet om te dink daaraan wat ek móét doen; wil doen; kan doen ... en net gedoen. Tussen note en akkoorde; harmonie en woorde was alles op tyd, in ritme, in balans. Dit voel goed om in so spasie en plek te wees!
Die meeste van die goed wat oor jare geskryf is, vertel ʼn verhaal van die wêreld agter my oë maar om dit in die hande van twee musikante te plaas en te sien hoe hulle dit soos ʼn ronde rivierklip laat wip-wip tot waar dit tot rus kom in die holte van hul skeppende geesdrif, is ʼn wonderwerk van verwondering. Daarvan het ons te min: ʼn wonderwerk van verwondering. Ons vergeet dit en dink dan dat ons dit verloor het. Dis nie weg nie ... dis nie êrens ver nie ... dit lê in die oomblik wat jy hier lees en onthou: my lewe is vol oomblikke van verwondering in (klein) wonderwerke. Kom vier die begin van herfs saam met ons as ons gesels oor --
Space is a Place where you see God’s Face –
Waar skepsels al skeppend skeppers word
Waar dansers al dansend die dans word
Waar menswees menswaardig mens word
Waar verwondering ʼn wonderwerk word
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum —
Mag die res van die week sy Lig in al haar skakering vir jou breek.
Ons begin weer met ʼn kursus in ACIM (A Course in Miracles) op 12 April 19h00 by die Kolping Sentrum.
Gedagte vir die Week:
“Those who seek the light are merely covering their eyes.” ACIM