Hierdie week se liturgie: 27_januarie_2013
Iemand vra my gister “en hoe behandel die nuwe jaar jou?” en ek dink by myself, dit sal seker eers teen Maart inskop want tot nou toe voel dit nog erg baie soos 2012. Miskien voel dit so want dis wat ek dink en toe sommer vanoggend besluit: dis tyd vir ʼn change of mind! Ons praat dikwels oor die wonderwerk wat plaasvind die oomblik as ons kies om anders te dink en anders te reageer en hoe dit onvermydelik lei tot anders ervaar. Ons praat gereeld oor die wonder van liefde en hoe dit ons totale menswees skuif vanuit die wêreld van ego-denke na siel-denke. As daar iets is soos ʼn God-ervaring, kan dit enkel en alleen ervaar word waar ons liefde liefhet. Ons verlang na hierdie ervaring; ons soek dit op allerlei plekke; ons gaan op ʼn pelgrimstog met die hoop om liefhê te vind en steeds ervaar ons nie God nie. Ons leef asof God (Liefde) êrens buite ons is wat wag om gevind te word om ons te vul met wat missing is, en so bly ons leeg en onvergenoegd voel.
“Ja-ja!” sal jy dalk antwoord, “... ons weet dit” – nou waarom is ons konneksie met God steeds in Morsekode? Ons sal berge versit om ʼn onderhoud te hê met iemand wat met wysheid en insig ons lewe kan omdraai en rigting gee. Ons is bereid om enige iets te betaal om in die teenwoordigheid te wees van iemand wat die kompleksiteit van my lewensvrae sinvol kan beantwoord en sodoende my die uitsig sal gee om alles in perspektief en konteks te sien, te proe, te hoor, te ruik en te voel. Maar ʼn uur per dag se stil word met God is te veel gevra. ʼn Uur per week in ʼn veilige ruimte wat ons voed met herinnering en aanbidding, is te lank. Mens wonder soms hoe sou ons besigheid gelyk het as dit vergelyk moet word met ons spiritualiteit? Miskien sou ons vir brood moes bedel.
Die hele Skepping span saam om in ʼn duisend stemme op ʼn duisend plekke vir jou te fluister dat as jy jóú stories en bagasie vir die Skepping gee, kry die Skepping kans om ʼn nuwe verhaal te skryf. Ons weet nie WAT in ons opgesluit lê nie omdat ons nie weet WIE ons lewe/asem is nie en as ons dit besef, sal berge-skuif klein wees in vergelyking met dit wat jy kan/sal doen. Elkeen van ons (op die naam) is swanger met die krag en potensiaal van liefhê. Miskien wonder jy saam met my oor waar het ons die Liefde verloor en vergeet? Waarom dink ons dit is vêr? Liefde het nie ʼn teenoorgestelde nie, daar is slegs ʼn afwesigheid van Liefde. So vinnig as wat jy jou oë kan sluit, kan ons onthou: daar is oorloop, oorgenoeg liefde IN ons! Dr Neil DeGrasse Tyson (ʼn astrofisikus) sê: My atoms come from stars. I have the universe in me!
DO YOU WANT TO BE BITTER OR BETTER:
Die ego lei jou in versoeking én laat jou dan skuldig voel as jy daarvoor val
Die brein koggel jou om kortpaaie te vat wat jou nog meer laat verdwaal
Die lyf strek om plek te maak vir alles waarmee ons onsself so volprop
Die siel antwoord dat die ganse Skepping is ʼn liefdesbrief van God aan jou
Spirituele Beginsels word nie verniet “die goeie nuus” genoem nie. WIE ons is, bepaal ons innerlike welvaart en nie WAT ons uiterlik het nie.
Vir ʼn uur Sondag maak ons ʼn siel-konneksie — die ganse Skepping is oop daarvoor!
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
The world is not a giant, uncaring, random expression of biological processes, but rather a living, breathing reflection of love for all living things. (Marianne Williamson)