“What you're supposed to do
when you don't like a thing
is change it.
If you can't change it,
change the way you think about it.”
— Maya Angelou —
ʼn Paasfees in isolasie. Grot-geslot tussen die mure van ons huis. Wie sou kon dink dat, teen die skryf van dié e-pos sou 1.4 miljoen mense ʼn virus hê wat reeds die lewe van sowat 82 000 (56 000 net in Europa) gekos het? Wie sou kon dink dat katedrale gesluit sou wees vir Christene se Heiligste Fees? Wie sou kon dink dat ALLE sportbyeenkomste, insluitende Olimpiese Spele, gekanselleer sou word? Wat my laat dink het — die dag wanneer hemel én hel (kerke én casino's) saamstem dat ʼn virus dodelik is, moet jy weet dit is ernstig!
Een van my dosente, prof. Julian Muller skryf op sy Facebook: "Die Nederlandse filosoof Damiaan Denys skryf in Trouw van 4 April "het coronavirus is een gezonde correctie op onze megalomane levenstijl." Megalomania verwys na 'n soort malheid waar 'n persoon 'n oordrewe idee van sy eie belangrikheid het.
NIKS is dieselfde nie. ALLES het verander. ALMAL is geraak deur die gebeure van die laaste maand, en die ‘normaal’ van gister sal nooit weer dieselfde 'normaal' wees is.
Ons is in ons Heilige Week ... die tyd van purper ... ʼn tyd van restourasie, rehabilitasie, en reformasie. Op ʼn vreemde manier het die Christelike tradisie se ‘Lydenstyd’ die wêreld se ‘lydenstyd’ geword. Wie sou kon dink toe ʼn priester veertig dae gelede vir sy kudde vra, “What will you give up for Lent?” dat soveel van ons vryhede opgeskort sou word, en dat ons sóveel sou opgee ter wille van oorlewing.
WAT het die laaste maand verander in jou lewe? HOE dink en doen jy dinge anders? As dié pandemie verby is, sal ons kort-voor-lank weer alles vanselfsprekend aanvaar en holderstebolder, gatoorkop jaag na wie weet waar sonder ʼn dag of oomblik van afsondering en stiltetyd?
Waarlik, as ons deur hierdie tyd van isolasie kom en nie ʼn emosionele, intellektuele, en bowenal spirituele herlewing en wedergeboorte gehad het nie, dan is ons waaragtig arm en moreel bankrot.
Dit is die uitdaging vir hierdie Paasnaweek — om vir onsself te vra: in die konteks van Lydenstyd, is die ‘kruis’ steeds abstrak of het ons gesien hoeveel mense hul lewe gee vir ander? Weet ons hoeveel verpleegsters, dokters, hulpversorgers, en diensverskaffers met toewyding hul lewe opoffer vir ons? As jy dit nie glo nie, vra enige iemand in Lombardy, Madrid, Londen, en New York.
Miskien voel jy oorrompel deur dit alles. Miskien probeer jy steeds sin maak van alles. Miskien is jy oorweldig deur onsekerheid en vrees. Miskien is hierdie jaar se herinnering aan ʼn kruisdood en graf net een te veel om ook nog te moet hanteer — en kies ons om hierdie jaar nét die 'opstanding' te vier en verkieslik na als weer teruggekeer het na ‘normaal’ ... (hoe die nuwe normaal ook al mag lyk).
Voorlopig dan net dit: hoe sal ons Paasfees 2020 onthou?
Dit is ons opstanding. Dít is ons wedergeboorte. Dít is ons transformasie. Dis hoe ek Paasfees 2020 sal onthou!
Met liefde en waardering Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Soos altyd
NASKRIF: ♥ Dankie vir ALMAL se bydraes om in hierdie tyd van opskorting steeds ons maand-tot-maand uitgawes te help dra. Dit word opreg waardeer. Doen so voort, groot asseblief! Donasies kan hier gemaak word.
Ons het ʼn YouTube-kanaal begin waar ek reeds vyf video’s geplaas het as ʼn bron van inspirasie vir hierdie buitengewone tyd waarin ons is. Op so 'n manier kan ek kontak hou met almal.
Volg ons gerus hier.
.
“Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
― Habakuk 3:17-19 ―
.
Alle Neo-Spektrum byeenkomste is opgeskort tot tyd en wyl dit veilig is vir almal se gesondheid.