“I have seen the moment of my greatness flicker,
and I have seen the eternal Footman hold my coat,
and snicker, and in short, I was afraid.”
— T.S Eliot
Ons leef in buitengewone tye, in buitengewone omstandighede. Nooit gedink dat ek dit in my leeftyd sou meemaak, en nog minder gedink dit is hoe 2020 sou ontvou toe ons ons glase gelig het op ʼn Nuwe Jaar nie. Die vraag in die meeste van ons se harte — wat om hiervan te maak op ʼn emosionele en intellektuele vlak, en hoe om spiritueel hiermee om te gaan?
Kom ons begin by die begin. Stop die Bybelversies oor voorspellings. Die Bybel sê niks oor die Coronavirus nie ... trouens, die Bybel sê niks oor virusse nie, niks oor kieme nie, en geen advies oor bakterieë nie. Hoekom nie? Want die tyd van die Bybel het geen kennis gehad oor enige daarvan nie. Die was van hande is in die konteks van godsdienstige rituele en nie sodanig gesondheid of higiëne nie.
Wat die Bybel ons wel leer, is hoe om op te tree in tye van ʼn krisis. As Christen is die voorbeeld van Jesus ʼn oproep tot liefde, welwillendheid, deernis, omgee, empatie, barmhartigheid, en liefdadigheid. Dit is ten alle tye, maar in besonder in tye van nood.
NEE, die coronavirus is nie ʼn straf van God nie! Wie nog so dink oor God leef in ʼn Middeleeuse denkpatroon waar ons geloof meer bygeloof, en ons hoop meer agterdog, en ons liefde meer begeerte is as enige iets anders. Vir hoe lank reeds word daar vanuit al vier windrigtings gesoebat, gepleit, en gevra vir ʼn moderne, gesofistikeerde Godsbegrip wat met verantwoordelikheid sal omgaan met al ons verhoudinge — by name ons verhouding met God. Nie omdat ons nou weer iets nodig het, of omdat ons bang is nie, maar omdat ons bedoel wat ons sê, en doen wat ons belowe.
Vir my persoonlik is dit duidelik — the coronavirus has become our greatest teacher!
Wat bedoel ek as ek dit sê?
1. We are forced to shift from a me to a WE. Die Westerse wêreld fokus geweldig op die individu waar my klein koninkryk pendel tussen ek en myne. Ons leef al vir dekades in isolasie. Die enigste ‘ons’ wat ons ken is die ‘ons’ teenoor ‘hulle’ ... en hulle is die andersdenkendes, die minderbevoorregtes, die buitestaanders. Skielik besef ons dat die ‘ONS’ is die CEO van ʼn groot maatskappy, maar ook die bedelaar, dis Dr Prof Hoity Toity én die kar-wag. Die essensie van Jesus se boodskap is juis ʼn identiteit van ʼn ONS wat almal insluit.
2. Help gebed? Vir seker! God is die werklikheid van harmonie en balans. My gebede oor die coronavirus is ʼn gebed om myself in balans en harmonie te bring, en my gebed vir hulle wat geraak is deur die virus is ʼn gebed van onthou dat hulle siekte is ook my siekte, hulle genesing is ook my genesing. God is nie ʼn God vir die beskerming van sekeres en nie vir ander nie. God is die naelstring tussen almal van ons, en die almal met God. Gebed is die herinnering van ons eenheid met mekaar, en gebed fokus my intensies om verantwoordelik te wees.
3. Gepraat van verantwoordelikheid — elke opsig van ons bestaan (beroep en sosiale strukture, familie en geestelike lewe) staan voor die uitdaging om nuut te dink oor begrippe soos: obligation, responsibility, and accountability … meer as ooit moet ons besef dat ons net kan praat van ‘regte’ as ons weet wat is ons plig. Die vryheid wat ons vir só lank vanselfsprekend aanvaar het, vra nou van ons om te dink/besluit oor wat is belangrik en wat is nie — en ek bedoel REGTIG belangrik is, want glo my, die opgehoopte toiletpapier in jou waskamer is net goed vir één ding.
4. Is daar hoop? Natuurlik! Plaas jou ego in kwarantyn, want dit saai verwarring en twyfel. Pasop vir die vrees-virus en kies liefde ... in elke aksie en reaksie. Onthou dat wat mense nie verstaan nie, sal hulle ontken. Waarvan ons nie in beheer is nie, maak ons bang. Nou is nie die tyd om oorrompel te word deur vrees nie. As jy in die donker sit, maak die gordyne oop sodat die lig jou gemoed kan verlig. Hoe sê Rumi — “Move, but don’t move the way fear makes you move.” As daar een ding is wat die lewe my geleer het, is dit dié waarheid: no crisis is ever forever!
5. If you can’t go outside, go inside — wat ʼn geskenk om weer tyd te hê vir stiltetyd en om weer in kontak te kom met die taal van jou hart. Ons sal verbaas wees om uit te vind hoeveel wysheid ons siel dra. Gebruik hierdie tyd van afsondering om emosioneel, intellektueel, en spiritueel jou huis aan die binnekant reg te pak. Gooi uit wat ons opgaar — al die ou stories van ons verlede wat ons saamdra, al ons skuldgevoelens en emosies van ‘nie-goed-genoeg-nie’ ... kom ons kies ʼn nuwe begin, want as hierdie seisoen van ʼn wêreld op sy knieë by ons verbygaan sonder enige sielsverdieping dan is ons waaragtig arm.
Ons sal deur hierdie krisis kom, maar ons gaan dit saam moet doen. Ek glo dat hierdie donker tyd vir die ganse mensdom 'n tyd van ontwaking gaan wees. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Soos ek hier skryf, voel ek die skuif wat geboorte gee aan 'n nuwe medemenslikheid.
Julle is elke dag in my gedagtes en gebede Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Met liefde en waardering
NASKRIF: ♥ Indien jy nie iemand het om vir jou die noodsaaklike te gaan kry nie, kontak ons asseblief en ons sal ʼn plan maak om kos of medisyne by jou uit te kry.
.
.
Alle Neo-Spektrum byeenkomste is opgeskort tot tyd en wyl dit veilig is vir almal se gesondheid.