Nes mens dink jy ken iemand en weet wat maak hul ‘tiek’, dan ‘tok’ hulle. Een ding is verseker, alles om ons verander die hele tyd! Nie twee dae is dieselfde nie, jy is nie eers dieselfde persoon as gister, laas maand, ʼn jaar gelede nie. Net een nies en ʼn proes en die golf van verandering is oor ons kop. Dit kan ek jou waarborg: as jy ʼn slegte ervaring het, moenie worry nie – dit gaan verander. Wanneer jy ʼn goeie ervaring het, moenie worry nie, ook dít gaan verander.
Ons gesels hierdie maand oor INTELLEKTUELE, EMOSIONELE, SPIRITUELE VERANDERING — uit ons gesprekke Sondae is dit duidelik dat die meeste van ons bang is vir verandering omdat ons bang is ons verloor beheer; ons is bang die verandering is ʼn fout; ons is bang dit gaan iets van ons vra wat ons nie kan/wil gee nie. Die een woord wat homself ad nauseam herhaal as ons oor verandering praat, is die woord ‘BANG’ ... die vrees vir verandering hou ons in dieselfde geut, opgesluit in ons selfgeboude tronk. Vrees gee geboorte aan nog meer vrees. Steeds smag ons na verandering ... om dinge anders te ervaar, anders te voel, anders te reageer, anders op te tree. Die feit is, ons is nie teen verandering nie, ons is wil net self verander nie!
Ek lees ʼn aanhaling van Andy Law (van die ‘Creative Company’) wat sê, "Unless you are prepared to give up something valuable you will never be able to truly change at all, because you'll be forever in the control of things you can't give up." Baie mense stel verandering uit met allerlei redes en verskonings. Ons voel ons is nog jonk of ons is te oud om te verander, ons voel die tyd is nie geleë nie en ons sal verander as ons ‘reg’ is daarvoor. Soos ek dikwels vir my kind sê, moenie oor ʼn jaar van nou af wens jy het vandag begin om iets te verander nie. Ons is nooit te jonk, nooit te oud, nooit te vroeg, nooit te laat om te verander nie. Ons ken die idioom wat sê, “A leopard can't change its spots” wat net waar is van mense wat halsstarrig te hardegat is om te WÍL verander. Dit geld nie net vir verslaafdheid aan dwelms of drank nie maar ook binne ons werksmilieu, ons interpersoonlike verhoudings en byname in ons huwelike. Ek het al meer as genoeg wonderwerk in my lewe gesien waar mense verander omdat hulle wíl. Verandering is ʼn keuse, ʼn besluit! Verseker is dit nie maklik en lekker nie maar JA, dit is altyd moontlik!
Ons hoor, lees en praat so dikwels oor IQ (Intellektuele Intelligensie), EQ (Emosionele Intelligensie) en SQ (Spirituele Intelligensie) as die boustene om sinvol met die lewe om te gaan. Hoe hartseer is dit dat die meeste mense nie eers weet wáárvan jy praat as jy dit noem nie. Holderstebolder gaan ons maar deur die hoog- en laagwater van ons spiritualiteit, waai die wind ons emosies waar die winde ook al heen waai, is een seisoen nes die volgende en al wat intellektueel verander is klere vir as dit warm of koud is. Veiligheid en sekuriteit het belangriker geword as om te verander en solank ons net soek, jaag, wil hê wat gemaklik en gerieflik is, is dit soos iemand wat sy bene amputeer en kunsledemate kry net om te kan sê, “My bene pyn nooit nie!”
Alle verandering, selfs dit waarna ons die meeste verlang, het hul eie melancholie omrede ons ʼn gedeelte van onsself moet agter los. Ons moet sterf in een ‘vorm’ (gewoonte, manier, gedrag) van lewe om geboorte te gee aan ʼn ander. Niks gaan verander solank ons op ons agterente sit en droom daaroor nie. “Your life does not get better by chance, it gets better by change.” (Jim Rohn). As ons nie rigting verander nie gaan ons opeindig waarheen ons op pad is. As jy doen wat jy altyd doen, gaan jy kry wat jy altyd kry en dit is iets wat aan die binnekant moet verander! Soos ons die laaste paar weke vir mekaar gesê het, daar word te veel na verandering aan die buitekant gesoek omdat daar geen harmonie is tussen IQ, EQ, en SQ nie. Intellektuele, emosionele, spirituele verandering is so noodsaaklik soos bloed in jou are en asem in jou longe — to keep us growing ... to keep us moving ... to keep us aware ... want as niks ooit verander nie sou daar geen skoenlappers gewees het nie!
Laas Sondag na ons erediens is ek gevra om vir tannie Bebe Botha by haar versorgingseenheid die nagmaal te gaan bedien. Sy is Nico (Botha) se mammie wat altyd saam met hulle Sondae in ons sirkel is. ʼn Paar weke terug is sy met terminale maagkanker gediagnoseer. Al die kinders en kleinkinders is hier, so vêr as uit Engeland, om die tydjie wat oor is saam met haar te wees. Soos ons die brood breek en die wyn deel en ek in haar blink oë kyk waar sy in ʼn rystoel is omrede die lyf te swak is om te staan, word ek intens bewus van hoe vinnig goed om ons verander ... iemand wat ʼn paar weke terug niks makeer het nie is nou in ʼn fase waarin elke oomblik geleende tyd is. Aan die einde kniel ek saam met haar en haar kinders en kleinkinders in ʼn sirkel en neem haar twee hande in myne terwyl ek tussen trane saam met almal hardop die Gebed van Jesus bid. Ek ry daar weg met ambivalente emosies in my gemoed — enersyds, verandering bring altyd geskenke! In tannie Bebe se geval die geskenk om kanker te sien as ons grootste ‘teacher’ wat in hierdie laaste dae van haar lewe almal vir wie sy lief is vul met dankbaarheid en waardering vir wie sy is en dat haar lewe ʼn getuienis is van iemand wat nederig wandel met God — andersyds, die sterk emosie in my gemoed oor die petty feeble excuses waarmee ons deur die lewe gaan om nie elke geleentheid van liefde met albei hande aan te gryp nie en nog tyd en energie het om te kibbel en weg te stap van geleenthede om te groei, te ontdek, en te manifesteer wat die inhoud en waarde van liefde is. Ons wag tot dit te laat is, tot die finaliteit van dood ons halfhartige pogings aan die bek ruk.
Miskien is verandering moeilik omdat ons die waarde van wat ons dink ons nie het nie oorskat en die waarde van wat ons kan wees, onderskat. Daarom val ons terug op wat ons dink is veilig ... the same-old-same van wat ons dink het gister en eergister gewerk. To expand your mind — is te veel moeite. To change your mind — is te veel gevra. Vir my is dit nie eers meer ʼn keuse nie, — I'll go anywhere as long as it's forward. Even if I stumble, I will stumble forward. As enige iemand vir jou sê, “Wees realisties!” het dit tyd geword om daai persoon van jou uitnodigingskaartjies te skrap, because most of our assumptions have outlived their uselessness!
Dit is wat Christen-wees vir my beteken. Dit is wat Jesus Christus my leer en mee inspireer. Die profeet Jesaja herinner ons, “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van God bly vir ewig” (Jesaja 40:8) daarom weet ek dat die Woord van Vlees geword het, sal altyd daar wees vir my in elke verandering (transformasie, rehabilitasie, restourasie) en waar ek ‘my mind change’ en met moed en durf bereid is om te verander, sien ek die beloftes en blessings van God wat die hele tyd in en om en by my is. Solank ons eie oplossings en beter-weet nog werk, is die betekenis van die kruis silly & foolishness. Solank die kruis nog vir jou die betekenis het van lyding en dood sal die oproep tot intellektuele, emosionele, spirituele verandering senseless & stupid wees. Die inhoud en betekenis van Pase is om te weet dat God ons keer op keer opwek uit ons spirituele dood en dat die lewe en leer van Jesus se boodskap ons belowe om daar te wees met die krag en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Because in the world according to God, that is what love is all about — love as a way of life that our excuses can never be!
Ek neem eerskomende naweek af en gaan heerlik uitrus en herlaai by Postberg om asem te skep in die mooi natuurreservaat langs Langebaan se strandmeer. Dr Rudi Labuschagne lei vir ons Sondag se diens en gaan sy insig (wysheid) en uitsig (waarheid) met ons deel. Bring vriende en familie en mense wat jy nog altyd wou nooi en vul elke stoel en trappie. Dit sal my hart bly maak om te hoor die Kapel was oorloop vol.
ACIM: 16 Maart: Stadsroep om 19h30 –en– 19 Maart: Kolping Groep om 19h00 — ons lees: Chapter 13: The Guiltless World p236 Hardebankboek.
Besoek ons Facebook https://www.facebook.com/profile.php?id=278715195501651
Gedagte vir die Week:
Nothing that is can pause or stay;
The moon will wax, the moon will wane,
The mist and cloud will turn to rain,
The rain to mist and cloud again,
Tomorrow be today.
— Henry Wadsworth Longfellow